?Veldwagters? stort rommel in Zwavelpoort Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 24 February 2010 08:26
Untitled Document

Die Zwavelpoortse hoewegebied bly maar stedelinge se rommelstorting terrein. ’n Onooglike hoop vullis, gras en plantmateriaal is op 4 Februarie op die hoek van Atterburyweg- verlenging en Saalstraat afgelaai.

By nadere ondersoek is bevind dat die rommel aan mense in Elarduspark behoort wat salig onbewus daarvan was dat hul rommel nie ’n heenkome op ’n stortingsterrein gevind het nie.

Johan Roos, ’n inwoner van Saalstraat en eienaar van ’n tuinuitleg onderneming wat ook tuinrommel verwyder, sê dat die hoop die vorige aand half nege nog nie daar was nie. Toe hy die volgende oggend by sy plot uitkom, het die onwelkome afval hom in die gesig gestaar.

Johan het besluit om die saak nie daar te laat nie en sy speurwerk het gou ’n antwoord opgelewer. Tussen die ander rommel het hy op die adres, identiteitsnommer en voertuig- registrasienommer van ’n vrou wat in Elarduspark woon afgekom.


Die rommel is op die hoek van Saalstraat en Atterburyweg afgelaai
Foto: Johan Roos

Johan het ’n brief saam met ’n foto van die rommelhoop en ander dokumente wat daar gevind is, in die rommeleienaar se PostNet posbus gaan plaas. Hy het vir die PostNetbestuurder gevra vir die posbuseienaar se telefoonnommer. Omdat dit vertroulike inligting was, kon die bestuurder dit nie vir Johan gee nie, maar het self gebel. Daar was geen antwoord nie.

Later die dag het Johan ’n oproep ontvang van die hoogs ontstelde rommeleienaar. Dit was nie hy wat die rommel daar gestort het nie, maar iemand wat hy in diens geneem het. Hy sê dat twee jong veldwagters van die laeveld wat hul eie onderneming in Pretoria wil begin, die vullis teen ’n vergoeding verwyder het.

Die rommeleienaar het aangebied om self die hoop te gaan verwyder.

 

© 2020 Die/The Bronberger