|
Met ’n posdiens wat ten gronde gegaan het, is dit vandag vreemd om te dink dat daar eens ’n spesiale eeufeesposkantoor by die Voortrekkermonument opgerig is. Die storie van dié poskantoor word in ’n seldsame argivale wisseluitstalling, wat tot 1 Oktober in die senotaafsaal van die Voortrekkermonument te sien is, vertel.
Die Erfenissentrum se argiefspan het onder meer die versameling seëls, wat destyds spesiaal uitgegee is om geld vir die oprigting van die monument in te samel, uitgehaal om vir die publiek te wys.
In 1933 het die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) die departement van pos- en telegraafwese genader om ’n spesiale stel seëls uit te bring, met die doel om geld vir die oprigting van die Voortrekkermonument in te samel. Dié spesiale stel het ’n portowaarde, asook ’n monumentboufondswaarde gehad. Die stel is in Oktober 1938 onttrek.
 Die personeel en tydelike poskantoor wat met die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 by die Voortrekkermonument opgerig is Foto’s: Verskaf
Aan die einde van 1938 is twee nuwe stelle seëls uitgereik, die Groot Trek-eeufeesseëls en die Voortrekkerherdenkingseëls. Albei stelle is deur die kunstenaar WH Coetzer ontwerp en in Afrikaans en Engels gedruk. Dit was in poskantore regoor die Unie te koop.
Om te verseker dat die twee reekse verkoop, het die SVK amptelike koeverte, wat ook deur
WH Coetzer ontwerp is, laat druk. Koeverte, wat ses pennies per koevert gekos het, kon op die roete van die 1938-simboliese ossewatrek aangekoop word. Ossewaens het die spore van die Voortrekkers, vanaf Kaapstad op 8 Augustus tot in Pretoria op 14 Desember, gevolg. Die Voortrekkermuseum se hoeksteenlegging was op 16 Desember 1938.
Die koeverte (met of sonder ’n briefie binne-in) is dan op die waens na die eeufeesposkantoor, wat spesiaal vir dié gebeure op die Voortrekkermonumentterrein opgerig is, vervoer. Hier is die koeverte met ’n spesiale stempel gemerk en deur die departement van poswese na die persoon aan wie die brief gerig was, gestuur.
 Die reis van ’n gedenkkoevert met die honderdjarige herdenking van die Groot Trek
Die totale inkomste uit die verkoop van die seëls en koeverte van 1933 tot met die onttrekking op
31 Mei 1939 was £25 318.
Die Voortrekkermonument is uiteindelik op 16 Desember 1949 ingewy en nog ’n stel herdenkingposseëls is uitgegee. Drie spesiale seëls is in omloop gebring en WH Coetzer het weer die seëls ontwerp. ’n Tydelike poskantoor is ook in 1949 opgerig.
|