|
Al ooit gewonder of alle spinnerakke op dieselfde patroon gespin word? Of hoekom spinnekoppe nie aan hulle eie spinnerakke vassit nie? En hoekom is dit dat doudruppels op ’n mistige oggend so lank aan spinnerakke vasklou?
Baie spinnekoppe bou spinnerakke spesifiek om prooi te vang. Tog vang nie alle spinnekoppe hulle prooi in ’n spinnerak nie en sommige spinnekoppe bou glad nie eers spinnerakke nie.
 Druppels aan ’n spinnerak Foto: Argieffoto, Gerhard Kleijn
Spinnekoppe produseer sy deur spesifieke kliere op die punt van die agterlyf. Elke klier maak ’n ander soort sydraadjie vir ’n bepaalde doel, soos ’n veiligheidslyn, ’n taai sy om prooi te vang of fyn sy om die prooi mee toe te draai. Sommige spinnekoppe kan tot agt soorte sy produseer.
Spinnekoppe klou nie gewoonlik aan hulle eie spinnerakke vas nie omdat hulle beide klewerige en nie-klewerige sydraadjies spin en versigtig is om self teen die nie-klewerige dele op en af te loop. Tog moet hulle soms aan die klewerige draadjies raak en hulle doen dit deur versigtige bewegings sodat die digte hare en olierige bedekkings op hulle voete verhoed dat hulle self verstrengel raak.
 ’n Spinnerak in die tuin Foto: Angie Kleijn
Sommige spinnekoppe gebruik hulle spinnerakke om mee te hoor, waar die reuse spinnerak as uitgestrekte gehoorsensor dien. Ander spesies spin dun draadjies om die wind te vang en seil dan op die wind na ’n nuwe plek.
Dit neem ’n groot hoeveelheid proteïene om sy te produseer en dit is algemeen vir spinnekoppe om gereeld hulle eie spinnerakke op te vreet om die sy-proteïene te herwin. ’n Spinnerak verloor in elk geval ná ’n ruk sy klewerigheid en is dan nutteloos.
Die geheim agter ’n spinnerak se klewerigheid is die piepklein gomagtige druppeltjies wat die sydrade bedek. Wielwebspinners bedek hulle sy met ’n spesiale higroskopiese materiaal wat die gom sag hou deur water uit die lug te trek. Dié ingeboude humiditeitsbeheer maak dat die sydrade nie te vinnig uitdroog nie.
 ’n Ander soort spinnerak Foto: Daleen de Kock
Die verharding van die visko-elastiese proteïene word indirek deur veranderings in waterinhoud beheer, wat op sy beurt die konsentrasie van die ioniese vloeistof beïnvloed. Soos die balans skuif, pas die gom se vloeibaarheid aan, wat die spinnerak toelaat om sy greep op die prooi te handhaaf.
Die spinnerak is ook ’n geleier van elektrisiteit, wat maak dat die sydrade ‘uitspring’ na vlieënde insekte wat geneig is om ’n statiese lading op te bou, wat die sy aantrek.
Daar is verskeie soorte spinnerakke en baie spinnekoppe word volgens die spinnerak wat hulle spin geklassifiseer. Wielwebspinners spin die klassieke wielvorm met klewerige spirale en radiale draadjies, wat soos die speke van ’n wiel vanuit ’n sentrale as loop.
 ’n Spinnerak aan ’n tuinornament Foto: Angie Kleijn
Dan is daar spinnekoppe wat ’n geknoopte web maak wat lyk of dit in ’n warboel saamgeweef is en dié wat ’n tregtervormige web bou met ’n opening waar die spinnekop wegkruip. Daar is spinnekoppe wat ’n buisvormige web maak wat teen die onderkant van bome op loop of oor die grond loop en dié wat ’n plat, lakenagtige struktuur bou.
Nie alle spinnekoppe gebruik hulle spinnerakke om prooi direk te vang nie. Party spring agter ’n valdeurtjie, wat hulle gespin het, uit en ander hardloop hulle prooi in, soos die tarantulas. Daar is ook spinnekoppe wat ’n klein net, wat aan die voorbene vas is, weef. Hulle sit en wag vir prooi, spring dan met ’n spoed uit, gooi die net oor die prooi, byt hom om hom te verlam en draai hom in die net toe.
In tradisionele Europese medisyne is spinnerakke op wonde gesit om bloeding te verminder en met genesing te help. Dié praktyk is ook in antieke Griekeland en Rome opgeteken en is in Shakespeare se ‘A midsummer night’s dream’ genoem. In die eerste eeu voor Christus het die Romeinse leër spinnerakke, wat ook as swamdoder dien, as veldverbande gebruik. Vandag weet ons dat spinnerakke ryk is aan vitamine K, wat noodsaaklik is vir bloedstolling.
|