|
Angie Kleijn
’n Rooikruisdokter wat naarstiglik met sy fiets in die kake van die vyand ingejaag het, is die man wat gekeer het dat onskuldige inwoners met die oorname van Pretoria gebombardeer is.
Die dag was 5 Junie 1900 in die Anglo-Boereoorlog. Chaos het geheers in ’n dorp wat deur regeringsmagte en die Boeregeneraals verlaat is. Boonop is die burgemeester deur ’n krygswet van sy gesag onthef.
 Dr Johan Balthazar Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Dr Johan Knobel, as ’n verteenwoordiger van die Geneva Rooikruis-komitee in Pretoria, het die burgemeester te hulp gesnel. In Die Bronberger van Februarie 2015 het ons meer oor dié chaotiese dag vertel. Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se regering het burgemeester Pieter Johannes Potgieter en hoofregter Reinhold Gregorowski aanvanklik aangestel om Pretoria oor te gee sodra ’n groot Britse mag naby genoeg kom om die dorp se veiligheid in gevaar te stel.
Pieter, die jongste seun van kommandant-generaal Piet Potgieter, is op 29 Desember 1898 deur die ZAR-regering as die eerste heeltydse burgemeester van Pretoria aangestel. Hy is deur ’n tydelike raadgewende stadsbestuur, bestaande uit 12 lede, bygestaan.
 ’n Deftige dr Johan Balthazar Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Op 2 Junie 1900 het generaal Louis Botha ’n proklamasie uitgereik dat hy Pretoria amptelik onder krygswet oorneem. Hy het landdros Schutte, kommandant PF Zeederberg en mnr Sandberg as komitee aangestel om wet en orde te handhaaf. Dié komitee het burgemeester Pieter Johannes Potgieter en hoofregter Reinhold Gregorowski, wat deur die ZAR aangestel is, buite aksie gestel en totale verwarring het geheers.
 Dr Johan Balthazar Knobel buite in die sonnetjie Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Generaal Botha en geselle het Pretoria vroeg Dinsdagoggend 5 Junie verlaat en PF Zeederberg was die enigste oorblywende lid van die krygskomitee. Hy en burgemeester Potgieter het byeen gekom en dit is toe dat dr Johan Knobel en JA Denijssen ’n plan gemaak het om te verhoed dat weerlose Pretorianers gebombardeer word.
Hulle sou met hulle fietse na die Britse veldmaarskalk, lord Roberts, toe te ry om te sê dat die militêre magte Pretoria verlaat het en dat die burgemeester en PF Zeederberg, as hoof van die siviele owerheid, Pretoria oorgee.
 Anna Maria Elizabeth Knobel, ’n nooi Schulz Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Dr Johan het ingestem om die boodskap verbaal oor te dra en die burgemeester het hom gevra om ook ’n brief te skryf wat sê dat ’n wapenstilstand verlang word. So het dr Johan van bakboord na stuurboord met dié brief rondgejaag op soek na veldmaarskalk Roberts. Toe hy hom uiteindelik kry, het Roberts gesê dat hy die oorgawe aanvaar en so min as moontlik troepe na Pretoria sou saamneem. Hy het gesê dat hy Pretoria amptelik teen twee uur die middag sou binnegaan. Op die kop twee uur het hy Kerkplein binnegery en Pretoria het geval sonder dat ’n enkele skoot geskiet is.
 ’n Latere foto van dr Knobel se vrou, Anna Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Die Britse volkslied het weerklink en ’n groot Union Jack is twintig oor twee voor die goewermentsgebou met sy arend-wapen en leuse, “Eendragt maakt magt”, gehys. Die oorlog het in ’n guerrilla-fase oorgegaan en het nog amper twee jaar ná die val van Pretoria voortgeduur.
 Die Knobels se dogter, Lily Frieda Du Toit Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Johan Johan Balthazar Knobel is op 5 Mei 1853 in Colesberg in die Bo-Karoo as kleinseun van die eerste Knobel wat in 1803 in Suid-Afrika aangekom het, gebore. Die eerste stammoeder, Marié Therese Eleonore Wilhelmine van Buschenrad von Buchenöder, het in 1809 in die huwelik getree met die eerste stamvader, Johan Christiaan Balthazar Knobel.
Hulle seun, Johan Ludwig (Louis) Knobel (gebore 13 September 1823), was ons Rooikruisdokter se pa. Hy was ’n landmeter en delwer by die ‘River and Dry Diggings’ in Kimberley en het met Clara Jacoba Magdalena, ’n nooi Bedford (gebore 27 Augustus 1830) getrou. Hulle het 11 kinders gehad.
 Die Knobels se seun, Alexander Friedrich von Buchenröder Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Johan was in Colesberg op skool en ná skool was hy ’n delwer by Pniel en Klipdrift aan die Vaalrivier en later by De Beers En Colesberg Kopje (Kimberley). Op die ouderdom van 20 jaar, in Februarie 1873, het hy alleen op ’n skip na Glasgow Universiteit, Skotland vertrek. Die skip het van Kaapstad na Southampton gevaar.
Johan het in 1877, ná slegs drie en ’n half jaar, in Glasgow as mediese dokter gekwalifiseer en het die senior Arnott-beurs in fisiologiese wetenskappe ontvang sowel as die senior chirurgie-medalje.
 Die Knobels se dogter, Gladys Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Hy het sy graad met lof verwerf en het sy lisensiaatskap by die Royal College of Surgeons gedoen. Ná ’n termyn as chirurg by die Glasgow-kraamhospitaal het hy spesialisstudies by Universiteitskollege en Barts Hospitaal in Londen gedoen en was vir drie maande by bekende hospitale in Duitsland betrokke.
Ná sy studies het hy deur Europa getoer op soek na inligting oor die Knobel-familie se oorsprong. Dié belangstelling het hom lewenslank bygebly en hy het in 1894 ’n boek oor die Knobel-familie gepubliseer.
 Die Knobels se seun, Frans (Frank) Helfrich Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Johan het in 1878 na Suid-Afrika terug gekeer en het van 1878 tot 1885 ’n florerende praktyk in Philippolis in die Vrystaat gehad. Hy het ’n huis langs Johann Friedrich Moritz Schultz en sy vrou, Anna Maria, gekoop en het aan hulle oudste dogter, Anna Maria Elizabeth Schultz (gebore 21 April 1863), verloof geraak. Dié twee is op 2 September 1885, toe Johan 32 jaar oud was, op Philippolis getroud.
In 1885 het hy dr Duncan Reid se praktyk in Colesberg oorgeneem. Hy was die amptelike spoorweë chirurg met die konstruksie van die spoorlyn vanaf Naauw Poort tot Colesberg.
 Die Knobels se seun, Clarence Bedford Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
In 1888 het Johan die ontslape dr Esselen se praktyk in Pretoria oorgeneem en het ’n huis in Schoemanstraat 121 gekoop, tussen die woning van Charles Celliers en Rodda, skuins oorkant regter De Korte. Johan se konsultasiekamer was by die Esselen Apteek.
Johan en Anna het ses kinders gehad. Hulle oudste kind, Lily Frieda (later du Toit) is op 5 September 1885 op Colesberg gebore. Dan was daar ’n dogtertjie, NN Knobel, wat in Desember 1888 op Colesberg gebore is, maar daardie selfde maand op Lindequesdrif, Potchefstroom aan witseerkeel oorlede is.
 Dr Knobel se pa, Johan Ludwig Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
Die res van hulle kinders is in Pretoria gebore: Alexander Friedrich van Buchenröder Knobel, gebore op 22 Februarie 1890; Gladys Knobel, gebore op 20 Augustus 1891; Frans (Frank) Helfrich Knobel, gebore op 8 April 1892; en Clarence Bedford Knobel, gebore op 12 Julie 1904.
Johan was tot 1896 die eerste superintendent van die Volkshospitaal, is later tot die ‘Geneeskundige Commissie’ verkies en was die president van ‘Het Transvaalsche Roode Kruis’ (gestig in 1896) en Transvaalse Ambulansvereniging.
 Dr Knobel se ma, Clara Jacoba Magdalena Knobel Bron: Peter Bruce Knobel-versameling, geni.com
In die Anglo-Boereoorlog was hy ’n vrywilliger in generaal Erasmus se kommando en het as chirurg in die veld saam met die Boeremagte voor Ladysmith, by Pietershoogte en Glencoe diens gedoen.
Ná die oorname van Pretoria was Johan vir agt maande vise-burgemeester onder die militêre goewerneur. Hy was ’n lid van die Pretoria-klub en die Duitse klub, vise-president van die Pretoriase Mediese Vereniging en voorsitter van die Pretoriase fietsry en amateur atletiek vereniging.
 ‘Het Transvaalsche Roode Kruis’ ambulanswa Foto: SA Military History
Ná die oorlog is Johan weer Europa toe en het later terug gekeer na Middelburg in die Transvaal, waar hy burgemeester geword het. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het hy as vrywilliger by ’n militêre hospitaal op Keetmanshoop in Duits-Suid-Wes-Afrika gaan werk. Hy is daarna as distriksgeneesheer Gobabis toe en het daar gewoon tot hy in 1924 op ’n plaas in die distrik afgetree het.
 Britse soldate op Kerkplein, 5 Junie 1900 Foto: The Print Collector / Heritage Images
Johan is op 31 Januarie 1931 in die ouderdom van 77 jaar op Gobabis, Omaheke oorlede en is met ’n militêre begrafnis, gereël deur die ‘Deutsche Krieger Verein’, vereer. Hy het sy vrou, Anna, en vyf kinders agtergelaat. Anna is op 24 Januarie 1934 in die ouderdom van 70 jaar in die Kranz-distrik van Gobabis oorlede.
|