|
Likkewane word as ’n hoogs ontwikkelde familie van akkedisse beskryf. Daar is 30 spesies in die familie Varanidae, wat in lengte van 20 cm tot drie meter wissel. Hulle is glo intelligent en kan selfs tot ses tel.
Dié tellery het in 1999 aan die lig gekom in ’n studie wat dr John Philips op kliplikkewane by die San Diego-dieretuin gedoen het. Hy het vir hulle verskillende aantalle slakke gevoer en die likkewane kon agterkom as daar ’n slak te min was.
 ’n Kliplikkewaan hou in die veld en is nie waterlewend nie Bron: Wikipedia
In Suid-Afrika kom daar net twee spesies voor: die berg- of kliplikkewaan, Varanus albigularis; en die water- of nyllikkewaan, Varanus niloticus. Kliplikkewaanmannetjies weeg gemiddeld ses tot agt kilogram en die wyfies van 3.2 tot 5 kg. Kliplikkewane wat 15 tot 17 kg weeg is al opgeteken. Hulle is gemiddeld 0.85 tot 1.5 meter lank maar kan tot twee meter, insluitende die stert, lank word en kom grootliks in savannes en oop bosveldgebiede voor.
Kliplikkewane kan ’n wye verskeidenheid prooi vreet, soos akkedisse, amfibieë, voëls, slange, skilpaaie, eiers en kleiner soogdiere. Hulle vreet egter grootliks ongewerweldes soos weekdiere, duisendpote, kewers en skerpioene. Duisendpote vorm omtrent ’n kwart van hulle dieet, want hulle is blykbaar nie sensitief vir duisendpote se giftige afskeidings nie.
 Emma Koekemoer het dié likkewaan in Februarie 2023 op ’n nat plaaspaadjie raakgeloop
Die waterlikkewaan is gemiddeld 1,2 tot 2,2 meter lank en, afhangende van waar hulle woon en hoe oud hulle is, kan hulle van 0.8 tot 15 kg weeg. Waterlikkewane wat tot 20 kg weeg is al opgeteken.
Hulle vreet ’n verskeidenheid prooi, insluitende vis, amfibieë, reptiele soos skilpaaie, slange, akkedisse en jong krokodille, voëls, knaagdiere en kan selfs soogdiere soos huiskatte en jong bokkies vreet. Waterlikkewane vreet alle soorte eiers en ongewerweldes, maar ook menslike afval en ontlasting. Hulle kom oor die hele land naby water voor.
 Adele McGill het dié outjie in November 2019 afgeneem. Hy het uit ’n lugversorgingseenheid by hulle kantoor tussen Cullinan en Rayton geval. Hy was glo heel kalm in die handdoek, maar sodra hy op die klip buite was, wou hy net baklei
Tande Likkewane het groot, skerp en spits tande waarmee die prooi doodgebyt en verskeur word, maar dié tande is nie vir kou-doeleindes geskik nie. Net soos slange, kan ’n likkewaan sy keel wyd ooprek om relatief groot prooidiere in te sluk.
’n Likkewaan se lang gevurkte tong dien as reukorgaan en eiers en aas word met behulp daarvan opgespoor en reukspore word so gevolg.
 Altie Potgieter het dié foto in Februarie 2021 geneem en het vertel dat sy dié likkewaan gereeld by ’n dammetjie op Boekenhoutskloof gesien het
Alle spesies likkewane het langwerpige lywe en smal koppe wat duidelik deur ’n lang nek van die lyf geskei word. Hulle het sterk, stewige pote met gevaarlike kloue wat hulle help om in bome of oor rotse te klouter. Die lang, gespierde stert word gebruik om te swem, maar word ook as ’n wapen ingespan.
Wanneer ’n likkewaan bedreig word en hy nie ’n veilige skuilplek kan vind nie, suig hy sy lyf vol lug en neem ’n dreigende houding in, dikwels op die agterpote, en maak ’n kwaai blaasgeluid.
 Johan Pieterse het in Januarie 2018 vertel dat dié klein baba-likkewaan nie uit hulle huis op ’n Bronberg-hoewe wil bly nie
Alle likkewane is eierlêend en die eiers word omtrent ’n maand na paring 15 tot 22 cm diep in die grond gelê en met sand bedek. Van 10 tot 60 langwerpige eiers met taai, leeragtige doppe word gelê en broei ná nege tot 10 maande self uit. Sommige likkewane lê hulle eiers in miershope, waar die pasgebore, maar reeds selfversorgende kleintjies ’n eerste maaltyd van miere kan kry.
 Reline Badenhorst het in September 2019 vertel dat hulle dié likkewaan, wat gansies op Nooitgedacht, Rayton gevreet het, gevang het en in die Magaliesberg gaan vrygelaat het
Komododraak Teen drie meter lank is die Komododraak, Varanus komodoensis, die grootste likkewaan. Hy is eers in 1912 ontdek omdat hy slegs op eilandjies in die Floressee voorkom.
Daar was vroeg in die 1900’s gerugte dat ’n draak van sewe meter lank op die eiland Komodo, wat ’n strafkolonie was, gesien is. Komodo is een van die 17 508 eilande wat die Republiek van Indonesië opmaak.
 ’n Komododraak Foto: Wikipedia
Dié draakgerugte het by die Nederlandse regering uitgekom en majoor PA Ouwens, die destydse direkteur van die botaniese tuin in Buitenzorg in Java, het lewendige Komododrake opgespoor. Hulle was egter net drie meter lank en het 150 kg geweeg.
Die eilandjies waar die drake voorkom is in 1980 tot reservaat verklaar en hulle kan nie meer na dieretuine uitgevoer word nie. In 2019 het die ‘World Animal Foundation’ geskat dat daar slegs 6 000 van hulle in die natuur oor is. Weens die aktiwiteite van ’n smokkelsindikaat is die Komodo-eiland sedert Januarie 2020 nie meer vir toeriste toeganklik nie.
 ’n Komododraak se voorpoot Foto: Wikipedia
|