|
Angie Kleijn
Met die herdenking van Konsentrasiekampdag en Jeugdag op 16 Junie, kon ’n mens nie help om te wonder oor die lot van Pretoria se konsentrasiekampkinders wat in die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) wees gelaat is nie.
By die konsentrasiekampkerkhof in Irene het kultuurorganisasies op dié dag respek aan die vroue en kinders, wat in dié oorlog daar begrawe is, betoon. In die skadu van die eenvoudige grafte is daar stil gebid, kranse gelê en aan elke naam op die gedenksteen erkenning gegee.
 ’n Boerevrou in Irene konsentrasiekamp, 1902 Bron: K Smith, ‘In pursuit of excellence: 100 years of the Irene Primary School, 1901-2001’
In die oorlogjare het daar net hopies klippe op die grafte gelê en nie elke graf het ’n grafsteen gehad nie. Met die verloop van jare het grafstene begin rondlê en baie grafte kon nie geïdentifiseer word nie.
 Herdenkings by Irene-kerkhof op 16 Junie vanjaar Foto: FAK
Die kenners verskil van mekaar oor presies hoeveel mense daar begrawe is. Een van die genommerde plaatjies, wat die kampowerheid op elke graf geplaas het, se nommer was 2 156. Slegs 850 grafstene is gevind. Daar word beraam dat bykans 1 000 van die sterftes kinders jonger as 15 jaar was.
 Irene-konsentrasiekamp se kerk, April 1902 Bron: KW Smith
Die Raad op Oorlogsgrafte het in 1958, op aandrang van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, besluit om die begraafplaas in ’n gedenktuin te omskep en die grafstene, waarop die name uit leiklip gekerf is, teen mure te monteer.
 Dubbeltrappies by die weeshuis se eetsaal Foto: F Coetzee, Unisa, 1999
Die hopies klippe op die oorspronklike grafte is gebruik om ’n gedenkmuur in die middel van die begraafplaas te bou, asook vir plaveisel. Simboliese grafstene met die name van die gestorwenes in alfabetiese volgorde is opgerig.
Daar is 35 kinders in ’n tweede begraafplaas begrawe en in 1968 is hulle in ’n bogrondse grafkelder herbegrawe. Vandag val die begraafplaas onder die beskerming van die SA Erfenishulpbronne-agentskap.
 Dit wat van die weeshuis se bakoond oorgebly het Foto: F Coetzee, Unisa, 1999
Kinders Kinders wie se pa op kommando gesneuwel het en wie se ma in die Irene-konsentrasiekamp dood is, het in die kampweeshuis, wat in 1902 gestig is, beland. Shaw Badenhorst van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se departement antropologie en argeologie het baanbrekersnavorsing oor die ligging van die Irene weeshuis gedoen. Sy bevindinge is in November 2001 as ’n artikel, ‘’n Ondersoek na die oorblyfsels van die Irene-weeshuis en -skool (1902 tot 1907)’, in die ‘SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis’ gepubliseer.
 ’n Tentpen van die weeshuis Foto: F Coetzee, Unisa, 1999
Daar was twee afsonderlike konsentrasiekampe in Irene. Die ligging van die hoofkamp was bekend, maar Shaw het die presiese ligging van kamp twee vir die eerste maal beskryf en al die oorblywende klipfondamente van die weeshuis en die nabygeleë skoolgeboutjie gedokumenteer.
 Vrouens en kinders in Irene-kamp Bron: FAK
Shaw skryf dat die voorstad Irene aangelê is op die terrein waar die hoofkamp was. Die oprigting van die kamp het in Desember 1900 begin en die eerste mense het in Januarie 1901 aangekom. Irene-kamp is op 7 Februarie 1903 gesluit. Tussen 4 000 en 4 700 mense het in die kamp gewoon, met ’n maksimum van 5 641 mense in Mei 1902. Volgens Shaw het tussen 929 en 1 193 mense in die kamp se bestaan van 25 maande daar omgekom.
 Onderwyseresse van die Irene-konsentrasiekampskool, 1902 Bron: K Smith, ‘In pursuit of excellence: 100 years of the Irene Primary School, 1901-2001’
In Maart 1902 is omtrent 2 000 mense vanaf die Nylstroom-konsentrasiekamp na Irene-kamp oorgeplaas. Hulle is in ’n afsonderlike kamp, “ongeveer ’n myl” suidwes van die hoofkamp, oorkant die Hennopsrivier gehuisves. Dié terrein is reeds in Januarie 1902 deur kampsuperintendent AM Bruce, inspekteur WF Curry en ’n kolonel Pickwood uitgesoek.
 ’n Medisynebottel wat by kamp twee gevind is Foto: F Coetzee, Unisa, 1999
Bediendes Kampbewoners het glo aanvanklik na die weeskinders omgesien. Gevalle waar weeskinders as bediendes gebruik is, het aan die lig gekom en die weeskinders is toe onder die Transvaalse Onderwysdepartement se sorg geplaas. Dié departement het drie weeshuise gehad en konsentrasiekamp-weeskinders moes na ’n weeshuis op Irene, Pietersburg of Potchefstroom gestuur word.
 ’n Groep Boerevroue en hulle kinders kort ná hulle aankoms by Irene-kamp Bron: Litnet; Paul Alberts-versameling
Volgens Shaw se navorsing was daar sedert 1901 private skole in die kamp, soos die geval waar ’n 12-jarige meisie aan 16 leerlinge klasgegee het. Ná ’n sensusopname het die onderwysdepartement op 17 Mei 1901 ’n amptelike skool in die Irene-hoofkamp gestig. Dié skool het weer in Augustus 1902 gesluit. Kamp twee het sy eie skool gehad wat tot Desember 1902 voortbestaan het en waar die Afrikaanse kinders onderrig in Engels moes ontvang.
 Irene-konsentrasiekampkerkhof voor 1958 Bron: boererepublieke.co.za
Daar is min bekend oor die presiese ligging van die skoolgebou waar die weeskinders ná die sluiting van die konsentrasiekamp hulle skoolopvoeding ontvang het. Volgens die ‘Transvaal Educational Department, Report for the school year January to December 1904’ was die skoolkinders oor die algemeen jonk. In 1904 was daar 11 standerd eens, 20 standerd twees en een standerd drie kind. Tussen 1903 en 1907 was daar ’n gemiddeld van tussen 50 en 66 kinders per jaar en tussen twee en vier personeellede.
 ’n Seuntjie in Irene-konsentrasiekamp Bron: Wikimedia – James Ball
Weeshuis
Shaw se navorsing wys dat die weeshuisperseel op die eiendom van JA van der Byl was: 4,046 hektaar groot met ’n tuin wat deur die seuns bewerk is. Hout- en sinkgeboue is suidoos van kamp twee opgerig en teen die einde van Oktober 1902 was daar vier slaapsale, twee vir meisies en twee vir seuns. Elke slaapsaal het slaapplek vir 15 kinders gehad.
 Irene Konsentrasiekamp: ’n Boerevrou hou die laaste oorlewende van haar sewe kinders vas Bron: Brian Roberts, ‘Those Bloody Women-Three Heroines of the Boer War’
Daar was ook ’n siekekamer, leeskamer, groot eetvertrek, kombuis, pakkamer, kwartiere vir twee toesighoudende matrones, kantore, badkamers, ’n strykkamer en ’n skoenherstelwerkkamer.
 Aankoms by Irene-kamp Bron: erfenis.co.za
Die waskamer is as opleidingsplek vir meisies gebruik en die handewerkskool as opleidingsplek vir seuns. Daar was ’n groot vierkant tussen die eetkamer, slaapsale en badkamers waar die seuns bloekombome aangeplant het.
 Irene-kerkhof voor 1958 Bron: erfenis.co.za
Alle water is tot 1904, toe ’n boorgat op die terrein gesink is, van die rivier af aangery. In 1905 is die weeshuis omhein en intussen is nog twee slaapsale, een vir meisies en een vir seuns, gebou sodat daar 90 kinders kon woon. Die personeel het uit ’n hoof, ’n matrone en drie assistente bestaan.
 Die Irene-konsentrasiekampkerkhof met die Gedenktrek in 1938 Bron: weet.co.za
Kaart Shaw skryf dat dr Kenneth Smith, voorheen van Unisa se departement geskiedenis, in die laat 1970’s ’n boekie oor die geskiedenis van Irene-laerskool as deel van dié skool se 75ste bestaansjaarherdenking, geskryf het. Geen foto’s van die weeshuis kon opgespoor word nie.
 Irene-konsentrasiekamp Bron: Jackie Grobler-versameling
Dr Kenneth het Johanna Opperman, ’n nooit Van Strijp, wat vir vyf jaar as jong weeskind in die Irene-weeshuis was, na die weeshuisterrein geneem. Sy het ’n kaart van die weeshuis se uitleg, soos sy dit kon onthou, geteken.
Shaw het dié kaart gebruik om te probeer sien hoeveel van die oorblyfsels van die geboue nog sigbaar was. In die 1980’s is ’n saalkompleks en badkamers op die ou weeshuisterrein gebou en ’n pad is geskraap, wat beteken dat sekere oorblyfsels in die slag gebly het. Die gebied waarin die meeste oorblyfsels van die ou geboue gelê het, is omhein.
 Luitenant Alexander Bruce, kamphoof by Irene Bron: Dr Danie Langer
Shaw het gevind dat die geboue se klipfondamente van skaars sigbare muurfondamente tot bouwerk van ’n paar sentimeter hoog, wissel. Hy kon onder andere die ou eetsaal opspoor, twee stelle dubbel sementtrappies en oorblyfsels van die weeshuis se bakoond.
 Deel van Irene-kamp Bron: irenefarm.co.za
Sluit Die Irene-weeshuis het op 20 September 1907 gesluit omdat drie aparte Transvaalse weeshuise (die Pietersburg-, Potchefstroom- en Irene-weeshuise) te ’n groot onkoste vir die staat geword het. Die kinders is almal Potchefstroom toe gestuur, waar die weeshuis en industriële skool vergroot is. Die vergrote industriële skool het op 23 Oktober 1907, direk oos van die dorp op die ou Johannesburgpad, met 260 kinders geopen.
 Nog ’n deel van Irene-kamp Bron: irenefarm.co.za
Kinders het ambagte geleer sodat hulle ná hulle opleiding selfonderhoudend kon wees. Hulle het geleer hoe om skoene, waens en meubels te maak. Leerlooiery, naaldwerk, tuinmaak en akademiese vakke is ook aangebied.
 Die Weesskool op Potchefstroom Bron: lenniegouws.co.za
Dié industriële skool het later die grootste van sy soort in die land geword. In 1910 is die meisies na die Industrie-School voor Meisjes, wat later die Hoër Huishoudskool geword het, oorgeplaas. Die seuns het agtergebly en die skool het die Industrie-School voor Jongens geword, en later die tegniese hoërskool.
 Dié gebou was deel van die oorspronklike weeshuis en industriële skool op Potchefstroom Foto: August D’Ange D’Astre
Die Irene-skool het met die skuif van die weeshuis na Potchefstroom gesluit en ’n nuwe skool vir die gebied se kinders het ’n noodsaaklikheid geword. JA van der Byl het die erf verskaf waar die skool vandag nog staan. Een van die hout-en-sinkgeboue en ’n ry van ses toilette is by die leë weeshuis verwyder en by die nuwe perseel opgerig. Die skoolbanke, wat in die handwerkskool geberg is, is na die nuwe gebou geneem en Irene-skool het sy deure op 21 Julie 1908 met 24 kinders geopen.
|