|
Angie Kleijn
Noem die naam Dotman Pretorius en mense weet jy praat van ’n fotograaf wat ’n belangrike bydrae tot die visuele geskiedenis van Pretoria gelewer het. Sy werk word as ’n waardevolle bron vir die studie van die stad se ontwikkeling en kultuur beskou. Tog was ’n foto van Dotman self iets wat baie moeilik te vinde was.
Ons het ná ’n lang soektog uiteindelik met die hulp van die Afrikaanse Hoër Seunsskool se argivaris, Engela Hechter, jaarboekfoto’s van Dotman in 1936 opgespoor. Niemand kan egter sê waar die bynaam ‘Dotman’ vandaan kom nie.
 Majoor Johannes Lodewyk Pretorius, Transvaalse Staatsartillerie Bron: Jacques Malan; ‘Die Boere-Offisiere 1899-1902’
Dotman word vir vele dinge onthou, onder andere sy verwantskap aan Piet Retief, wat hom ’n verbintenis gegee het met die plaas Welgegund, later bekend as Pelindaba, waar Eugène Marais selfmoord gepleeg het.
Die destydse Raad op Atoomkrag het in 1981 ’n monumentjie op die plek waar Eugène glo selfmoord gepleeg het, opgerig. Dotman het gesê dat die ding op die verkeerde plek staan en dat hy weet waar dit eintlik moes gestaan het.
In ‘Eugène N Marais se dood’ skryf Johann Lodewyk Marais dat Eugène vriendskapsbande met majoor Lood Pretorius, Dotman se pa, gesmee het. Lood het alleen in ’n plaasopstal, naby die sameloop van die Krokodilrivier en die Klipspruit, gewoon omdat sy vrou en kinders gedurende die week in Pretoria was.
 Dotman se pa, majoor Lood Pretorius Bron: Neville C via angloboerwar.com
Johann skryf dat hy Dotman ontmoet het toe hy besig was met sy voorbereiding vir die Marais en Preller-simposium, wat op 25 en 26 Mei 1989 deur die RGN aangebied is. Dotman het ’n klomp negatiewe gehad waarvan daar foto’s vir die simposium se uitstalling gemaak is en hy het vir Johann vertel dat hy die naweek ná Eugène se selfmoord plaas toe gegaan het en die toneel besoek het.
Hy kon toe nog heelwat bloed en stukke van Eugène se brein en vergruisde skedel op die toneel vind. Dotman was ’n ywerige amateurargeoloog en versamelaar en het met sy siwwe stukkies skedel gekry, glo om vir die nageslag te bewaar.
 Majoor Lood Pretorius oftewel Skote Petoors Bron: Neville C via angloboerwar.com
Johann skryf dat Dotman hom, Renée Marais en Albrecht Holm op 18 Februarie 1989, ’n reënerige Saterdagoggend, na Pelindaba geneem het om die presiese plek te gaan soek. Eers het hulle op die terrein van die Raad op Atoomkrag, net suid van Lood Pretorius se huis, na die klipmonumentjie gaan kyk.
Dotman het toe die plek uitgewys wat veel nader is aan sy pa Lood se huis, waar Eugène die geweer geleen het. Dit is omtrent honderd meter van die monumentjie af. Johann skryf dat daar ironies genoeg met hulle besoek ’n geweersmit, Lars Melin, in Lood Pretorius, wat as Skote Petoors bekendgestaan het, se gerestoureerde huis gewoon het.
 Kommandant Henning Petrus Nicolaas Pretorius Bron: geni.com
Lood Johannes Lodewyk (Lood) Pretorius is op 24 Mei 1871 op Welgegund, Pretoria gebore en op 14 Junie 1939 oorlede. Op 20 Oktober 1899 het Lood met die slag van Talana met Krupp-kanonne op die Britse kamp losgebrand. Die tweede skoot het naby generaal Penn Symons se tent geval en een van die opgewonde Boere het “Skote Petoors” geskree. Min wetend dat hy daar en dan ’n nuwe idiomatiese uitdrukking die lig laat sien het.
Lood was Debora Jacoba, ’n nooi Retief, en Marthinus Wessel (Swart Martiens) Pretorius se tweede oudste seun. In ‘Ons vat Zwavelpoortse vroue se spoor terug tot by Piet Retief’ in Februarie 2023 het ons meer vertel oor die nasate van Pieter Mauritz Retief, gebore op die plaas Soetendal, Wagenmakersvallei in die distrik Wellington. Hy is in Julie 1814 getroud met Magdalena Johanna (Lenie), ’n nooi De Wet, wat op 30 Mei 1782 op Stellenbosch gebore is. Lenie was die weduwee van veldkornet Jan Christoffel Greyling.
 Debora Jacoba Retief Bron: geni.com
Lenie en Piet se oudste dogter, Debora, is vandag die bekendste van al hulle kinders en ’n afbeelding van haar kan gesien word as Voortrekkermonument friespaneel nommer 10: ‘Die verblyf by Kerkenberg’. Dié paneel wys hoe Debora haar pa se naam in 1837 op ’n rots skryf, vandag deel van die erfenisterrein by Kerkenberg, naby Harrismith in die Oos-Vrystaat.
Debora was drie keer getroud en het al drie haar mans oorleef. Sy was eerste met Lucas Petrus Johannes Meyer getroud, toe met Willem Adolph Landmann en toe, in 1843, met Swart Martiens Pretorius – nie die eerste ZAR president MW Pretorius nie, maar nou verwant. Die president was die seun van Voortrekkerleier Andries Pretorius en Swart Martiens was die seun van Andries se broer, raadslid Henning Petrus Nicolaas Pretorius.
 Cornelia Magdalena Pretorius, ’n nooi Bouwer Bron: geni.com
Debora en Swart Martiens het in 1848 op die plaas Welgegund gaan woon. Hulle oudste seun, Henning Petrus Nicolaas, was die ZAR Staatsartillerie se eerste kommandant. Hy is met Cornelia Magdalena, ’n nooi Bouwer, getroud en hulle dogter, Johanna Christina (Hannie) Pretorius, het met Gustav Schoeman Preller getrou – die bekende joernalis, geskiedkundige, skrywer, literêre kritikus, leier van die Afrikaanse beweging in Transvaal en stigter van ‘De Volksstem’ koerant. Vyf generasies van die Pretoriuse en Prellers se grafte lê vandag op Pelindaba.
 Johanna Christina (Hannie) Pretorius het met Gustav Schoeman Preller getrou Bron: geni.com
Dotman Debora en Swart Martiens se seun Lood het in 1900 in Pretoria met Martha Jacoba, ’n nooi Van den Berg (1881–1945), getrou. Hulle het drie seuns – Henning Petrus Nicolaas Pretorius, Willem Daniël van den Berg Pretorius en Johannes Lodewyk (Dotman) Pretorius – en drie dogters – Cornelia Magdalena De Beer, Heila Sheard en Esmé Schwellnus – gehad. Esmé is met ’n oud-Affie van 1927, Otto Schwellnus, getroud. Hy was ’n joernalis by ‘Die Vaderland’.
Dotman was die jongste van dié ses kinders en is op 2 Maart 1917 in Pretoria gebore. In ‘A remarkable Pretorian: Photographer Dotman Pretorius (1917–1999)’ skryf Carol Hardijzer dat Dotman en die ander kinders in ’n losieshuis in Visagiestraat, wat deur sy ma bestuur is, gebly het. Dit is net oor naweke wat hulle na Welgegund, sowat 32 km uit Pretoria, sou gaan of wat hulle pa Lood by hulle sou kuier.
 Debora en Swart Martiens se grafsteen by Pelindaba Bron: Wikimedia
Ná die losieshuis verkoop is, het Dotman se ma by die munisipaliteit aansoek gedoen vir toestemming om ’n tent op die oewers van die Apiesrivier op te rig. Dit sou ’n tydelike reëling wees, maar die gesin het uiteindelik vir sewe jaar daar gewoon.
Carol skryf dat hulle ’n markiestent gehuur het wat verskeie kere deur ’n verhuringsmaatskappy vervang is. Die adres was: “Die tent van Esselenstraat, Pretoria” in Van Boeschotenlaan 32, Sunnyside.
 Die rondawel op Welgegund waar Eugène Marais sy laaste dae deurgebring het Bron: Leon Rousseau; ‘The Dark Stream’
Dotman het vertel dat hy wonderlike herinneringe uit dié tyd gehad het. Die kinders het gereeld in die rivier gespeel en een keer per week is ’n bad-aand by die bure gereël. ’n Tradisie was dat familie en vriende elke Paasfees ’n ossewa met proviand en beddegoed gelaai het en Welgegund toe getrek het waar hulle op die oewer van die Krokodilrivier gekamp het.
Dotman was in die Duitse laerskool oorkant die Apiesrivier. Hy het by Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer en het altyd gespot dat hy die enigste seun was wat Afrikaanse Hoër Meisiesskool bygewoon het – hy het kuns daar geneem.
 Die huis op Welgegund waar Eugène Marais die haelgeweer, waarmee hy homself doodgeskiet het, geleen het Bron: Leon Rousseau; ‘The Dark Stream’
Toe Dotman 21 jaar oud was, in 1938, het hy by die Vacuum Oil Company in Johannesburg begin werk en is as statistikus opgelei. Carol se navorsing wys dat Dotman in September daardie jaar by SAPPI Springs as ’n papiermaker gewerk het. In Augustus 1939 het hy by die Suid-Afrikaans Munt in die ammunisieafdeling as spesiale ambagsman gewerk. Hy het sy fotografiese loopbaan kort daarna begin, ’n loopbaan waarvoor hy uiteindelik met ’n goue medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer is.
 Dotman se foto van die Capitol-teater in Pretoria met Jamie Uys se filmpremier vir ‘Geld soos bossies’ Bron: Carol Hardijzer; ‘The Heritage Portal’
Foto’s Met Dotman se 21ste verjaardag in 1938 het hy ’n bokskamera as geskenk gekry en dit het die saadjie vir sy toekomstige loopbaan as professionele fotograaf geplant, skryf Carol. Tussen die 1940’s en 1980’s het hy ’n breë spektrum foto’s van Pretoria as stad, die omliggende argeologie, die mense en kunste geneem. Hy het later in kommersiële, industriële, argitektoniese, groep- en lugfotografie gespesialiseer.
Dotman het in 1945 by Martin Gibbs Fotograwe in Pretoria aangesluit en het formeel as professionele fotograaf gekwalifiseer. In 1951 het hy by die Constance Stuart-ateljee in vennootskap met Richard Cutler aangesluit.
 Dotman se lugfoto van die Universiteit van Pretoria se administrasiekantoor en kampus met Hatfield in die agtergrond Bron: Carol Hardijzer; ‘The Heritage Portal’
Dotman is op 23 April 1954 in Arcadia, Pretoria met Gwenyth Marian, ’n nooi Wood getroud. Gwen is op 16 September 1930 op Slurry, Noord-Wes gebore. Dotman was 37 jaar oud en Gwen was ’n 23-jarige tikster. Hulle het geen kinders gehad nie.
’n Jaar ná Dotman en Gwen se troue het hy die Dotman Pretorius Fotografiese Ateljee in die Centenary-gebou op Kerkplein geopen. In die 1950’s het Dotman ’n kontrak by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag losgeslaan. Hy moes soldate wat diensplig verrig het of opleidingskursusse by verskeie militêre kampe bygewoon het, afneem. Hy het ook foto’s van politici by sosiale byeenkomste geneem en baie foto’s van kunstenaars soos Gé Korsten, Mimi Coetzer, Wena Naude en Jamie Uys asook van Gustav Preller.
 Gustav en Hannie Preller Bron: Johann Lodewyk Marais via ‘Versindaba’
Dotman se versameling negatiewe, wat strek van die begin van sy fotografiese loopbaan, is aan die Kultuurhistoriese museum in Pretoria, vandag as die Ditsong-museum bekend, verkoop. Sy lugfoto’s en ander foto’s is ook aan die Universiteit van Pretoria geskenk.
 Affies se toelatingsregister van 1932 wys dat Dotman van die Duitse skool af gekom het en dat sy adres Van Boeschotenlaan 32 was Bron: Affies-argiewe
Huis In sy artikel oor Dotman skryf Carol Hardijzer dat die Victoriaanse huis waarin Dotman en Gwen gewoon het, ’n geskiedenis van sy eie gehad het. Hulle het die huis in 1960 by ’n mev Van Reenen gekoop.
Volgens Hennie Heymans van ‘Nongqai’ media, ’n aanlyn bewaarplek vir geskiedkundige data oor Suid-Afrika se magte en nasionale sekuriteit, was dié huis in Parkstraat. Hennie sê dat hy Dotman eendag daar besoek het om na sy foto’s te kyk.
 Affies se 1936 jaarboek, waarin Dotman ’n gedig geskryf het Bron: Affies-argiewe
Die grond is in 1905 vir £17-10-00 gekoop. Die oorspronklike eienaar het die huis begin bou, maar het nooit daarin gewoon nie. Die huis is toe deur George Jesse Heys, wat Melrose-huis besit het, gekoop en in 1907 aan sy dogter Jessie as troupersent gegee.
 Vermoedelik Dotman as prefek in 1936 Bron: Affies-argiewe
Rondom 1911 is die huis aan mev Grant Mackenzie verkoop. Sy het die huis tot 1945 besit, maar het ook nooit self daar gebly nie. In dié tyd is die huis aan die Franse ambassade uitverhuur, en ’n kothuis, wat die ambassadeur se kantoor geword het, is agter in die erf gebou. Daarná is die huis aan die Russiese ambassade as blyplek vir personeel verhuur, voor mev Van Reenen dit gekoop het.
 Dotman in die vierde rugbyspan in 1936 Bron: Affies-argiewe
Versamelaar Volgens Carol se artikel was Dotman ’n ywerige amateurargeoloog en het beduidende versamelings implemente en artefakte uit die Steentydperk opgebou. In 1971, toe hy 54 jaar oud was, het hy vir ’n argeologiekursus, ’n kwalifikasie wat nie ’n graad behels het nie, by die Universiteit van Pretoria ingeskryf. Hy het ook lewenslange lidmaatskap by die Argeologiese Vereniging van Suid-Afrika gekry in erkenning van sy werk.
 Dotman op sy matriekfoto in 1936 Bron: Affies-argiewe
Dotman was ’n versamelaar van vele dinge en oor ’n tydperk van 25 jaar het hy eindelose vlooimarkte bygewoon op soek na bymekaarmaakgoed. Dié versameling is ná sy dood verkoop. Hy was ook die eienaar van ’n hele aantal eksotiese motors.
 Dotman se broer, Willem Daniel van den Berg Pretorius Bron: artefacts.co.za
Oud-militêre fotograaf, Johan van Wyk, vertel dat Dotman hom as jong fotograaf onder sy vlerk geneem het en dat hy, net soos Dotman, ’n versamelaar van kameras geword het. Johan het onlangs twee geskiedkundige foto’s van die Uniegebou-kanon met ’n uitsig oor Pretoria gaan dupliseer met kameras wat Dotman aan hom gegee het: Alan Yates se kamera (Kodak Model B Grootte 6 1/2 X 4 3/4) en Dotman se eie Linhoff 4X5-kamera.
Dotman is in 1999 in die ouderdom van 82 jaar oorlede. Gwen is ná Dotman se dood met Desmond Alexander (Des) Strachan getroud. |