|
Was dit president Paul Kruger se spook wat met ’n onlangse spooktoer in Pretoria gesien is?
Mark Rose-Christie, eienaar van Mystery Ghost Tours, sê dat almal wat deel van dié toer was die geluid van iemand wat met ’n kierie loop gehoor het; party mense het ’n skimagtige wese gesien en ’n spiritistiese medium het die figuur duidelik gesien.
“So iets gebeur selde,” het Mark gesê. Hy bied dié toere al 25 jaar lank aan en spoke het nog net ’n paar keer verskyn, soos die vrou in swart geklee by die Erasmuskasteel, oftewel ‘Die Spookhuis’ in Pretoria.
’n Skimagtige figuur, wat soos Paul Kruger lyk, is nog nooit op ’n toer gesien nie. Mark wil nie sê waar die verskynsel na vore gekom het nie, omdat hy nie wil hê skares moet die plek vertrap nie.
 Paul Kruger in ampsdrag geklee Bron: Erfenisstigting-argief
Herdenking En hoekom dié figuur nou vir die eerste verskyn het . . . vanjaar is die 200ste herdenking van Paul Kruger se verjaardag. Hy is op 10 Oktober 1825 gebore en 125 jaar gelede was hy in die maande wat sy verjaardag vooraf gegaan het, onder groot druk in die Anglo-Boereoorlog. Hy het Pretoria op 29 Mei 1900 verlaat en het met die trein na Machadodorp gereis. Die Britse veldmaarskalk, lord Roberts, het Pretoria op 5 Junie 1900 oorgeneem.
Die president het ’n ruk op Waterval Onder vertoef. Roberts het die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 1 September 1900 aangekondig en Paul Kruger het die land op 11 September verlaat – mense vertel dat hy gehuil het toe die trein die grens na Mosambiek oorsteek.
Die plan was om aan boord van die eerste stoomskip, die Herzog, te gaan maar hy moes in die hawe onder huisarres bly. Koningin Wilhelmina van Nederland het ’n ooreenkoms met die Britte aangegaan om die president daar uit te kry en het ’n Nederlandse vegskip, die Gelderland, gestuur. Paul Kruger het die kontinent op 20 Oktober 1900 verlaat en het deur non-Britse waters na Marseille gevaar.
Mark Rose-Christie sê dat die skimagtige figuur, wat dalk Paul Kruger se spook was, as ’n ‘herdenkingspook’ bekendstaan en net op sekere herdenkingsdatums verskyn. Hy sê dit is heel waarskynlik dat dié spook honderd jaar gelede ook gesien is, maar dat dit nooit opgeteken is nie.
 ’n Skets van Paul Kruger Bron: Erfenisstigting-argief
Erfenisstigting Paul Kruger, ook as Oom Paul bekend, is een van die mees herkenbare figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy is deur die jare op uiteenlopende maniere uitgebeeld – van amptelike portrette en kunswerke tot spotprente en kontemporêre voorwerpe.
Die Erfenisstigting (ES) het die eerste week in September ’n splinternuwe argivale wisseluitstalling in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument, getiteld ‘Illustrasies en uitbeeldings van Paul Kruger’, bekendgestel.
Dié uitstalling vorm deel van ’n maandlange viering van die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte en belig die vele maniere waarop hy deur die geskiedenis uitgebeeld is. Materiaal uit die ES se argief en museumversameling, asook afdrukke van spotprente uit die Afrikaner Navorsingsbiblioteek word uitgestal.
Die aanloop na die 200ste herdenking skop op Erfenisdag, 24 September, by die Voortrekkermonument Markplein af. Daar gaan optogte met ‘Oom Paul en tannie Gezina’ op ’n koets wees, perde, Voortrekkers met fakkels, veteraanvoertuie en valskermsweeftuie. Besoekers kan deur 200 kraampies loop en verskeie demonstrasies asook ’n toneelopvoering bywoon. ’n Staatsbanket, ’n vertoning deur Steve Hofmeyr en ’n kinderprogram word ook aangebied.
|