Tierboskat gered Print E-mail
News - Artikels
Friday, 19 September 2025 13:00
Untitled Document

’n Volwasse tierboskatwyfie met ’n beenbesering is teen die einde van Augustus op ’n plaas buite Rayton gered.

Brendan Murray van die Owl Rescue Centre het die plaasbewoners, net bekend as Cindy en Kelly, bedank dat hulle hom gebel het om dié wyfie te gaan help. Hy is in die donker met ’n vangnet op die plaaswerf agter haar aan en het haar uiteindelik in ’n reddingshok gekry.

Brendan sê dat tierboskatte onder die bedreigde of beskermde spesies wetgewing val omdat hulle getalle afneem weens habitatverlies, strikke wat gestel word en ander bedreigings. “Ons almal moet meer probeer insit om dié diere te red,” het hy gesê.


Die tierboskat in die vanghok
Bron: Skermgreep; Owl Rescue Centre

Die tierboskat, Leptailurus serval, is ’n slank en langbenige wildekat met ’n gemiddelde hoogte van 50 cm. Hy het ’n klein kop met groot, ovaal ore met afwisselende swart en wit strepe aan die agterkant. Daar is swart strepe langs sy ruggraat en swart kolle op die sye en stert.

Tierboskatte is meestal nagdiere en enkellopers, behalwe in paartyd of wanneer die ma na haar welpies omsien. Hulle is karnivore wat klein soogdiere, veral knaagdiere soos rotte, voëls, klein reptiele, insekte en selfs vis vreet.

Die Owl Rescue Centre is op die plaas Bokfontein, Hartbeespoort en het bloot as uilreddingsentrum begin. Oor die jare het dié sentrum al hoe meer by die redding van alle soorte wild op ’n landswye basis betrokke begin raak. In Februarie het ons berig dat dié sentrum Raygun, Pretoria se swerwende bobbejaan, se Pretoria-roete van 52 km oor vyf dae gevolg het van Steve Biko-hospitaal tot op Zwavelpoort. Raygun is later wreed doodgemaak by ’n skool buite Delmas.

 

 

© 2025 Die/The Bronberger