Ons onthou grafstories wat die Bronnie opgegrawe het Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 19 September 2025 13:00
Untitled Document

Ons plattelandse kontrei spog nog met menige plaasbegraafplasies en oor die afgelope 23 jaar het die Bronnie vele grafstories met lesers gedeel: die hartseer graffies van klein kindertjies, grafstene wat lankal omgeval het en toegegroei is, byna onleesbare grafsteenskrif . . . Ons onthou ’n paar van dié stories.

Union Jack begrawe


Kamma-begrafnis

Vreemder verskynsels as ’n kamma-begrafnis vir ’n vlag het seker al in Pretoria gebeur. Maar as dié begrafnis knap op die hakke van ’n skynhofsaak, wat sy oorsprong in ’n hotel-kroeg blyk te gehad het, volg . . .

In Augustus 2008 vertel ons dat Pretoria se Engelse onderdane só die josie in was toe Brittanje, ná die slag van Majuba, Transvaal aan die Boere terug gegee het, dat hulle ’n begrafnis vir die Union Jack gehou het.

’n Begrafnisstoet het vanaf Kerkplein ’n lykswa, getrek deur twee swart-bedekte perde, gevolg. Binne-in die kis was die Britse vlag, wat by Government House op die hoek van Andries- en Schoemanstraat begrawe is. ’n Deel van die grafskrif op die kamma-grafsteen het gelui: “In memory of the British Flag in the Transvaal, which departed this life August 3rd, 1881, aged 4 years . . .”

Grafte bykans leeg


Ivan Gryffenberg by die grafte

Ivan Gryffenberg van Zwavelpoort se graf-dilemma is opgelos, berig ons in Februarie 2006. In Augustus 2005 het ons berig dat Ivan onwetend ’n kleinhoewe met ’n begraafplaas op gekoop het. Dit was ’n lang proses om die grafte met die nodige toestemming te verskuif.

Ivan het gesê dat die grootste verrassing vir hom was dat daar geen geraamtes in die 28 grafte oor was nie. Net in een graf was daar ’n volledige skedel. In die res was daar of ’n stuk kakebeen of ’n tand of klein stukkie been.

Die jongste twee grafte was bykans 40 jaar oud. Slegs drie van die ou grafte met leiklipgrafstene se ouderdom kon bepaal word. Hulle was so tussen 80 en 100 jaar oud. Die res van die ongemerkte grafte moes glo horingoud gewees het.

Vergete prins


Die begrafnisstoet op 1 November 1900

In Maart 2009 skryf ons dat koningin Victoria se gunsteling kleinseun, prins Christian Victor Albert Louis Ernst Anton van Schleswig-Holstein, in 1900 in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas begrawe is. Dié 33-jarige prins het malaria opgedoen en is op 29 Oktober 1900 in die Yeomanry Hospitaal, wat in die huis van Tom Beckett in Arcadia ingerig is, aan ingewandskoors dood nadat hy drie dae in ’n koma was.

Sy liggaam is gebalsem en alle reëlings is getref om dit na Engeland te verskeep toe ’n telegram van sy ouma aangekom het met die bevel dat haar kleinseun in ’n gewone soldategraf in Pretoria begrawe moet word.

Toe hy op 1 November begrawe is, was dit die grootste militêre begrafnis wat nog in die stad gesien is. Vandag spook dit glo by dié graf.

Beendere geïdentifiseer


Anja se uitgrawings

In Augustus 2019 vertel ons dat daar geen teken van grafstene oor was toe die skelette in die Du Preezhoek-kerkhoffie, wat vir die Gautrein moes plek maak, opgegrawe is nie. In Julie 2006 het verkennende uitgrawings oorblyfsels van ’n ou begraafplaas gevind en bio-argeoloog, Anja Meyer, het daardie Desember die oorskot van 11 mense help opgrawe. 

Anja het die individue se skelette geanaliseer om ouderdom en geslag te bepaal. Ná talle besoeke by die Nasionale Argief en deur Van der Walt- en Du Preez-nasate te raadpleeg, het haar genealogiese navorsing met ’n redelike mate van sekerheid aangedui wie dié eens-naamlose skelette was.

Ná ’n jaar se intensiewe navorsing kon dié beendere die verhaal vertel van Jan Diknek du Preez en sy nasate, hulle siektes, harde fisiese werk en die ontberings wat pioniers deurgemaak het. Hulle is in die Du Preez-akker in die Kerkstraat-begraafplaas herbegrawe.

Graf ná 102 jaar gevind


Piet van der Walt wys na sy oupa Damara se naam

In Januarie 2016 vertel ons dat Hendrik Frederik Cornelis (Damara) Prinsloo van Jakkalsdans se familie vir 102 jaar lank nie geweet het waar sy graf was nie. Damara, wat in die Engelse oorlog gesneuwel het, se kleinseuns, Piet en Jan van der Walt, het dié graf eers in Julie 2002 by Platrand, Ladysmith gevind.

Piet het verduidelik hoe Brandbach, Jakkalsdans, Papkuilfontein en Rietfontein se mense soveel kere onder mekaar getrou het dat sy oupa se skoonpa ook sy swaer was en sy ouma se stiefma haar skoonsuster geword het.

Dié mense was afstammelinge van die Voortrekker Daniël Malan, wat hom in 1849 op die plaas Brandbach gevestig het. Een van sy seuns was Daniël Cornelis, Piet se oupagrootjie, van die buurplaas Rietfontein. Sy eerste vrou was Maria Johanna Steenkamp en sy tweede vrou Martha Louisa Prinsloo, Damara Prinsloo se ouer suster.

Begraafplaas kry reuse rekening


Booysen-begraafplaas

In September 2020 vertel ons dat die Voortrekkers, waarna die voorstede Booysens en Hermanstad vernoem is, se ou begraafplasie in Van der Hoffweg ’n reuse munisipale rekening van R68 374 gekry het, gerig aan Booysen J en CHZ.

Cornelius Hermanus Zacharias Booysen en veldkornet Jan Booysen, wat in bevel van die Zuid-Afrikaansche Republiek se wyk Apiesrivier was, het die plaas Krokodilskraal van hulle pa geërf. Hy was die Voortrekker, Jan Jonathan Booysen, wat in 1880 in dié begraafplasie begrawe is. Sy vrou, Christina Maria, ’n nooi Herman, is in 1895 daar begrawe.

Sou die grond met die klein begraafplasie sedert die 1800’s steeds in dié broers se name geregistreer wees al het die voorstad Claremont rondom dit ontwikkel? Ons het vertel hoe die soektog na die grondeienaars oor die dekades verloop het.

Grafte in reservaat


Michiel Christiaan Elardus Erasmus

’n Afgekampte klompie grafte in die Rietvlei-natuurreservaat is nie iets waarby baie wildkykers stilhou nie. Min weet hulle dat hulle verby die oorskot van pioniers ry.

In November 2021 praat ons oor Daniël Elardus Erasmus, oftewel Daantjie Doornkloof, wat die plaas Doornkloof in 1841 opgemeet het. Sy drie seuns, Daniël Jacobus, Stephanus Petrus en Michiel Christiaan Elardus het die plaas geërf. Michiel en Stephanus het ook die helfte van Rietvlej geërf. Michiel het in 1869 met Anna Susanna Opperman getrou. Hulle oudste seun, Daniël Elardus, het met ‘Groot Tom’ Moodie, 1892 trekleier na die destydse Gazaland, se dogter, Johanna Maria, getrou.

Haar broer, Thomas Dreyer Moodie, is toe met haar man Daniël se suster, Susanna Margaretha Erasmus, getroud. Hulle het op Rietfontein, wes van Rietvlej gewoon en die rif op die plaas, Moodie-rif, is na hulle vernoem.

Tragedie op melkplaas


Die gedenksteen

In Oktober 2022 skryf ons dat Kate Amy van der Byl op 18 September 1922 gesien het hoe haar enigste oorlewende kind, die 29-jarige Albert Lawrence Montague van der Byl, se vliegtuig in ’n fratsongeluk op hulle familieplaas, die Irene Melkplaas, val en hoe hy en sy makker, Edward Armstrong Stuart, sterf. Hulle het naby aan die plaashuis neergestort en ’n gedenksteen is daar opgerig.

Dit was die eerste noodlottige vliegongeluk in Suid-Afrika en het gebeur toe die Suid-Afrikaanse lugmag maar twee jaar oud was. In ’n bisarre draai van die noodlot is Adrian van der Byl in 2015 baie amper op dieselfde manier en op dieselfde plek as sy groot oom Lawrence dood. Sy mikroligte vliegtuig het so 50 meter vanaf die plek waar sy groot oom Lawrence gesterf het, geval. “Ek het oorleef, dalk danksy hulp van hom,” het Adrian gesê.

Padwerkers vind grafstene


Leiklip-grafstene langs Garstfonteinweg

In Januarie 2005 het ons vertel dat Woodhill Gholflandgoed in die hartjie van die destydse spog melkplaas, Wolfaardt Landgoed, gebou is. In September 2008, berig ons dat ’n ou begraafplaas met meer as ’n dosyn grafte deur padwerkers met die verbreding van Garstfonteinweg naby die ingang van Woodhill Gholflandgoed en die kruising van Garstfonteinweg met De Villebois Mareuilrylaan gevind is. Een van die leesbare leiklip-grafstene dra ’n datum van 1908.

Wolfaardt Landgoed was 980 morg groot en Jakobus Wolfaardt het dit in 1926 by Gey von Pittius gekoop. Hy is in 1954 oorlede en sy seun Pieter het op die melkplaas geboer. Die stadsraad het Pieter in 1974 onteien om dorpsontwikkeling te doen, maar danksy ’n groot geveg is sy grond eers in die 1980’s aan die stadsraad verkoop. Pieter het tot 1993 as huurder daar aangebly.

Sendeling-begraafplaas


Frau Anna Schloemann

In Julie 2016 het Jan Malan vir ons gaan wys waar toentertyd se sendelinge naby die Mamelodi-kruising op Zambeziweg begrawe is. Die Berlynse Sendinggenootskap is in 1824 in Duitsland gestig en die eerste sendelinge is in 1833 na Suid-Afrika gestuur.

Edendale-plaas, Nooitgedacht, het aan die Murray-familie behoort en in die laat 1800’s en vroeë 1900’s is die sendingstasie op ’n 11 hektaar gedeelte van hulle grond gestig. ’n Kerk is gebou en vroeg in 1900 het die Schloemanns ’n sendingskool daar oopgemaak. Hermann Heinrich Theodore Schloemann was getroud met Anna Luise Friedricke, ’n nooi Kratzenstein, dogter van ’n sending-inspekteur van die Berlynse Sendinggenootskap.

Anna is op 5 Mei 1908 op Edendale oorlede. Haar graf is in die klein sendeling-begraafplasie op die Edendale Skool se gronde te siene en die hoeksteen, wat haar naam dra, het ook behoue gebly.

Verlore graf herontdek


Jan Francois Schutte

In Julie 2012 het ons by Chris Joubert op die plaas Rhenosterfontein gekuier. Een van die eerste pioniers wat Pretoria in die 1850’s begin ontwikkel het, Jan Francois (Frans) Schutte, is op 25 Maart 1883 op Rhenosterfontein oorlede en is daar begrawe. Ná sy dood is Rhenosterfontein ’n paar keer onderverdeel en het die plek waar hy begrawe is verlore geraak.

Chris het dié plek bykans 130 jaar later, ver van die Schutte-kerkhoffie, in ruie veld gevind. Hy het eers Frans se weduwee, Martha Salomina Dorothea, gebore Schoeman, se gebreekte grafsteen gekry en daarna die oorblyfsels van haar man se grafsteen van oor die twee meter.

In Januarie 2021 het ons Rhenosterfontein herbesoek en in Maart 2025 het genealoog Tian Schutte die foto van die Voortrekker Frans Schutte se grafsteen gestuur toe nog ’n prospekteeraansoek op die horison gedreig het.

Familie gevind


Die Els-graffie

Waar is die familie van die Els en Smit-mense wat in ’n klein plaasbegraafplasie in die Witpoort-omgewing begrawe is? In Desember 2015 vertel ons dat die raaisel ten dele opgelos is toe Sunette du Toit die graffoto’s op die Bronnie se Facebook-blad geplaas het.

Sunette het gesê dat dié grafte op ’n baie slegte plek op hulle plaas is. Ná ’n veldbrand kon sy makliker daar uitkom om foto’s te neem. Dot Els Chalmers het laat weet dat sy die enkele Els-graffie kan eien. “Hier rus Andries Petrus Els en Christiaan Phulluppes Els, gebore en overleden
22 November 1907. Ouers CP en EW Els.”

Dit was Dot se pa se tweelingboeties. “Dit was my ouma se eerste kinders en sy het op sewe maande geboorte gegee. Albei is dieselfde dag nog dood,” het Dot gesê.

Grafte op Byenestpoort


Karel Petrus Minnaar

Ons het in April 2011 vertel hoe diamante in die lief en leed van Elandsfontein se Minnaars vervleg was. Min het dié Minnaars geweet dat hulle erfplaas, Elandsfontein, die wêreld se grootste diamant sou voortbring. In Mei 2015 het ons vertel dat nog ’n Minnaar die plaas neffens Elandsfontein gekoop het. Karel Petrus Minnaar, gebore op 21 Augustus 1805, het die plaas Byenestpoort, van omtrent 6 000 hektaar, in 1857 gekoop.

Die plaas is na ’n reusagtige bynes in die kranse waardeur die spruit loop, vernoem. Karel is in Oktober 1892 in die ouderdom van 85 jaar oorlede en is naby aan sy huis begrawe.

Die 86-jarige Koos Minnaar was in 2011 die vyfde generasie Minnaars op dié grond en die oudste van sy familie wat op Byenestpoort oorgebly het. Koos is op 5 Julie 2015 oorlede.

Kootjie se Kleinfontein-graf


Johannes Jacobus (Kootjie) Botha

In Oktober 2020 het ons die geskiedenis van die plaas Kleinfontein opgediep en meer vertel oor Pretoria-pionier, David Adolph Michael Botha, wie se plaas dit was. David was die voorsitter van die ZAR Volksraad in die worsteljare van broedertwis, wat op die burgeroorlog van 1861–1864 uitgeloop het.

Sy eerste plaashuis, gebou in die laat 1840’s op die plaas Hartebeestpoort, is vandag die Pioniers Opelugmuseum in Silverton. Kleinfontein is op 14 April 1853 deur veldkornet Van der Walt geïnspekteer, maar het eers op 10 Maart 1859 met goewermenttransport op David se naam gekom.

David het die westelike gedeelte van Kleinfontein reeds in 1866 op sy seun, Johannes Jacobus (Kootjie) Botha, se naam geregistreer. Ná sy pa se dood het Kootjie die res van die plaas geërf. Kootjie, gebore op 21 April 1839, is op 10 Junie 1923 oorlede.

Vandalisme by Mundt-grafte


’n Graf in die Mundt-begraafplasie

In Junie 2022 berig ons dat Hannes Opperman bykans ses dekades gelede die oudste boom in die oostelike deel van Pretoria ontdek het. Vandag is dié olienhout bykans 700 jaar oud.

Hannes het by die Stadsraad van Pretoria se parke-afdeling gewerk en die Pioniershuis in Silverton was in die 1960’s deel van sy pligte. Die begraafplaas was oorkant die huis. In die vroeë 1970’s wou die stadsraad die Mundt-grafte, waar die boom staan, verskuif, maar die familie wou nie toestemming daartoe gee nie.

Met hulle herbesoek in 2022 het Hannes en sy seun Johan gesien dat die olienhout nog staan, maar dat die beskermende pype rondom die boom afgesaag is en die drade verwoes is. Die Mundt-grafte waaroor hy waak, wat ook omhein was, se relings is tot op die grond afgesaag. Die grafstene is omgegooi, beskadig en bykans onleesbaar.

Jungnickel-graf herontdek


Paul Jungnickel

In Junie 2021 berig ons dat Paul Jungnickel, na wie die tehuis waaruit Kungwini Welsynsorganisasie (KWO) gebore is vernoem is, se graf op 22 Mei met die skoonmaak van ’n plaasbegraafplasie op Zwavelpoort herontdek is. Die JH (Hans) Smit Private Begraafplaas se uitdraaipad is net wes van Riverside Castle op Lynnwoodweg-verlenging.

Paul (20.2.1948 tot 15.7.1965) was die seun van Arrie en Elsa Jungnickel, wat wes van die hedendaagse steengroef teen die Bronberg gewoon het. Paul is met misvormde voete gebore. Hy is op 15 Julie 1965 ná ’n motorfietsongeluk dood en sy dood het sy ma gebreek. Arrie en Elsa het besluit om hulle plot aan die destydse Noord-Transvaalse Kreupelsorg te skenk. Al wat hulle uit die plot wou hê is lewensreg op hulle woonhuis. Paul Jungnickelhuis het in April 1996 ’n onafhanklike welsynsorganisasie geword.

Boschkop se Barnards


Jacoba Johanna Aletta en Petrus Johannes Barnard

In Desember 2010 skryf ons dat die grafstene in die plaasbegraafplaas by Waterlake Farm ’n verhaal van die lief en leed van Boschkop se Barnards vertel; van die seuns wat in die Engelse Oorlog gesneuwel het; dié wat in die 1914 rebellie dood is; en van die Groot Griep wat die familie so genadeloos getref het. Petrus Johannes Barnard en Jacoba Johanna Aletta, ’n nooi van Dÿk, het die Victoriaanse herehuis laat in die 1800’s op die plaas Boschkop gebou.

In Maart 2011 vertel ons dat ons uiteindelik gesigte by die Barnard-name op die grafstene kon sit. ’n Afstammeling, Coba Maree, het vertel dat haar ouma Kotie was – Jacoba Johanna Aletta Terblanche, die dogter van Magdalena Christina Terblanche, ’n nooi Barnard, en Daniël Johannes Terblanche. Kotie is met Gert Viljoen getroud.

 

© 2025 Die/The Bronberger