Stryd om Pretoria en sy naam het in die 1800?s al begin PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 24 February 2010 06:48
Untitled Document

Nuwe pogings om Pretoria te herdoop na Tshwane voor die sokkerwêreldbeker vanjaar begin, is vir eers afgeweer. Dit is egter duidelik dat diegene wat die naam ‘Pretoria’ wil laat verdwyn, nie sal rus voor hulle nie in hulle doel geslaag het nie. Die aanslag en stryd om die behoud van Pretoria se naam sleep nou reeds sedert 2005 voort. Min mense besef egter dat ’n ewe lang en soms bitter stryd oor die dorp en sy naam gevoer is voor Pretoria amptelik as dorp aanvaar is.

Dit word algemeen aanvaar dat Pretoria na die Voortrekkerleier, Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius, vernoem is, hoewel dit Andries se seun, Marthinus Wessel Pretorius was wat jare lank gespook het om Pretoria eindelik as dorp gevestig te kry.

Dit is Marthinus wat gedeeltes van die plase Daspoort en Elandspoort langs die Apiesrivier teen 8 000 riksdaalders bekom het met die oog op die vestiging van ’n sentrale dorp. Die plase het behoort aan JJP Prinsloo, waarna Marthinus in briewe as ‘Prensloo’ verwys, en A van der Walt. Die twee oewerboere sou in paaiemente betaal word met die opbrengs wat uit die verkoop van erwe bekom sou word.


Andries Pretorius

MW Pretorius meld in ’n skrywe aan die volksraad dat die ‘publiek’ en die NG gemeente van Rustenburg, waarheen al die Apiesrivierboere vir nagmaal en ander kerksake moes reis, hom versoek het om die plase aan te koop. Die Rustenburgse kerk en Transvaal (Zuid-Afrikaanse Republiek) se eerste predikant, ds Dirk van der Hof, sou uiteindelik ’n deurslaggewende rol in die totstandkoming van Pretoria en die stad se naam speel.

In die aanloop van Pretoria se dorpstigting op 7 November 1853 is die naam Pretoriusstad voorgestel vir ’n dorp in die middel van Transvaal wat as sentrale vergaderplek vir die Volksraad sou dien. Op 17 Oktober 1853 berig ‘De Zuid-Afrikaan’ ietwat voortydig só daaroor: “Men is ook overeengekomen eene nieuwe stad aan te leggen en dezelve ter gedachtenis van den overleden Generaal Pretorius te noemen: Pretoriusstad.”


Wessel Pretorius

Vergaderings
Ná die verkiesing van die eerste oorkoepelende volksraad vir Transvaal in 1849, is vergaderings om die beurt in die vier dorpe van die tyd, Potchefstroom, Lydenburg, Rustenburg en Zoutpansberg gehou. Dié vier dorpe het ook die enigste vier NG Kerke en gemeentes in die land gehad.

Dié volksraad was glad nie te vinde vir die voorstel van ’n sentrale dorp as vergaderplek vir die volksraad nie. Teenkanting is veral uit Lydenburg, die hoofstad, ervaar. Telkens is teen die nuwe dorp gestem en is ’n gebrek aan geld as die rede voorgehou. Maar MW Pretorius het volhard.

As kommandant-generaal van Transvaal was daar ook straks persoonlike redes wat hom aangespoor het om te veg vir die stigting van Pretoria; hy wou sy pa, die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, se naam in ’n dorp verewig hê, en hy het self ’n plaas, Kalkheuwel, in die omgewing gehad.


Ds Dirk van der Hoff

MW Pretorius het nie net steun van die Rustenburgse gemeente geniet nie, maar ook van die burgers van Zuikerbosrant (Heidelberg) wat ’n memorandum aan die volksraad gerig het om ’n sentrale dorp as setelplaas vir die volksraad, langs die Apiesrivier aan te lê. Maar met die eerste stemming in die volksraad was net twee lede ten gunste van die voorstel. Hulle was JJP Prinsloo, op wie se plaas die dorp aangelê sou word en HA Pretorius, ’n oom van Marthinus.

Teenkanting het ook uit ’n onverwagte oord, die boere wat laer af teen die Apies gevestig was, gekom. Hulle rig hulle beswaar in ’n skrywe en sê hulle plase sal “vervallen en onbestaanbaar worden” as ’n dorp op Daspoort en Elandspoort sou ontstaan. Die feit dat ’n dorp byderhand, die verkoop van hulle produkte sou stimuleer, het blykbaar nie te swaar by dié boere geweeg nie.


Die raadsaal van die ZAR op Pretoria se Kerkplein. Die gebou is beplan om twee verdiepings te h, maar Paul Kruger het opdrag gegee dat dit ?n ekstra verdieping moes kry om nie by die Grand Hotel langsaan af te steek nie.

Kerk
Toe dit duidelik blyk dat die volksraad van die republiek nie ’n sentrale dorp in die Transvaal wou goedkeur nie, het die kerk hom nie daarby berus nie. Die aanvanklike gedagte was dat ’n dorp gestig sou word en dat die stigting van ’n gemeente outomaties sou volg.

Op 5 Junie 1854 het die algemene kerkvergadering van die ’nederduitsch Gereformeerde Kerk in die Z.A. Republiek’ onder die leiding van ds Dirk van der Hoff weer op Rustenburg vergader.

’n Besluit is deur die verteenwoordigers van die vier bestaande gemeentes geneem om ’n vyfde gemeente in die lewe te roep. Die volksraad het ‘toevallig’ ook op dié dag in Rustenburg vergader en die kerk se besluit is summier vir goedkeuring by die volksraad ingedien.

Die volksraad het die predikant se salaris betaal en moes besluite van die algemene kerkvergadering goedkeur. Die volksraad het gestem en die stigting van ’n nuwe gemeente langs die Apiesrivier is goedgekeur. Op 7 Junie 1854 bereik die kerk dus wat die volksraad in 1853 nie wou goedkeur nie.

Terwyl die begeerte in 1853 was vir die stigting van ’n dorp waaruit ’n gemeente sou ontstaan, sou die gemeente wat in 1854 goedgekeur is, die voorloper vir die dorp in 1855 wees. Dit is ook ’n direkte gevolg van hierdie kerklike ingrype wat tot die uiteindelike naam ‘Pretoria’ sou lei.


Trekkers van die Fourie-trek, gelei deur Andries Pretorius, het hulle langs die Apiesrivier gevestig. Hier vloei die Apies deur die Wonderboompoort soos hy destyds gelyk het.

Naam
Dit is besluit dat die naam van die nuwe gemeente ‘Pretoria Philadelphia’ sou wees ter nagedagtenis van wyle kommandant generaal AWJ Pretorius. Wie die naam uitgedink het word nerens vermeld nie, maar omdat dit ’n Latynse naam is en ds Dirk van der Hoff die enigste een was wat iets van Latyn af geweet het, kan dit aanvaar word dat dit hy was. ‘Philadelphia is die Latyn vir ‘broederskap.’ ‘Pretoria Broederskap,’ dus.

Maar Pretoria is die Latynse, vroulike verbuiging vir Pretorius. Sou dit dan beteken dat die dorp eintlik na mev Pretorius vernoem is? Indien nie, hoekom het ds Van der Hoff op dié naam besluit? Die antwoord blyk doodeenvoudig te wees: Pretoria ruim beter met Philadelphia.


?n Skets van vroe Pretoria. Dit is n groot moeite as ?n gemeenteplaas gestig en het eers later ?n dorp geword.

Met die goedkeuring van die nuwe gemeente het Pretoria dan as gemeenteplaas of ‘colonieplaats’ tot stand gekom waaruit die dorp later sou ontstaan. Die eerste twee erwe is aan die broers Kootjie en Hendrik Vermeulen verkoop, na wie Vermeulenstraat vernoem is. Die Vermeulens word beskou as die eerste inwoners van Pretoria. In 1858 sou die verskillende Boeregemeenskappe in die Transvaal verenig om ’n hegte republiek met ’n nuwe grondwet te vorm. In hierdie ‘broederskap’ het die dorp Pretoria, wat in 1855 uit die gemeente ‘Pretoria-Philadelphia’ ontstaan het, ’n groot rol gespeel as die mees sentrale dorp.


Die eerste sitting van die Volksraad in die voltooide Ou Raadsaal op Kerkplein. Paul Kruger, president van die ZAR, en JW Burger, voorsitter van die raad, sit in die voorsittersbank. Onder hulle is die sekretaris, WJ Fockens. Links voor is JP Meijer van Johannesburg en genl Koos de la Rey wat die distrik Bloemhof verteenwoordig het.

Hoofstad
Volgens die grondwet wat aangeneem is, word Potchefstroom die hoofstad en Pretoria, omdat hy sentraal geleë is, word die setelplaas van die volksraad. Pretoria was nooit die hoofstad van die Zuid Afrikaanse Republiek nie.

Behalwe vir die periode 1877-1881, toe Shepstone en die Engelse bestuur Pretoria as die Transvaalse hoofstad aanvaar het, het Potchefstroom dwarsdeur die Republikeinse tyd die hoofstad van die staat gebly.

In 1881 is die ou grondwet van 1858 weer aanvaar. Nooit is deur wetgewing Pretoria as die hoofstad van die Z.A.R. aangewys nie. Vanaf 1902 tot 1910 is Pretoria weer deur die Engelse bewind beskou as die hoofstad maar eers met die Unie-Grondwet 1910 het Pretoria deur wetgewing die administratiewe hoofstad van die Unie van Suid- Afrika geword.

Die vraag kan gevra word of die naam ‘Pretoria’ geskiedkundig gegrond kan word en of vernoeming van die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, geregverdig is. Het hy hoegenaamd tot die ontstaan van die stad bygedra? Die antwoord hierop is dat Andries Pretorius alles met Pretoria se ontstaan te doen gehad het.

Dit is hy wat die ‘Fourie- Trek’ in 1848 hierheen gebring het. Trekkers het hulle by Daspoort, Elandspoort en Koedoespoort gevestig en vir die sieletal gesorg wat tot die geboorte van die nuwe Pretoria-Philadelphia gemeente gelei het.


Standbeeld van Andries Pretorius

 

 

© 2019 Die/The Bronberger