|
Vyf geskiedkundige stoomlokomotiewe, wat die grootste deel van die vorige eeu steenkool na Eskom se kragstasies vervoer het, kry binnekort nuwe lewe op Cullinan.
Eskom het op 16 September ’n vyf-jaar huurooreenkoms met die spoorwegmaatskappy New Cape Central Railway Company (NCCR) gesluit. Dit volg ná ’n tenderproses, wat op 18 Mei 2024 begin het, en beraadslaging met die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbron-agentskap (SAEHA) en die Erfenis Spoorwegvereniging.
 Hunslet onderweg na NCCR se depot Bron: eskom.co.za
Die NCCR gaan die vyf stoomlokomotiewe by sy depot in Pretoria restoureer, waarna hulle hopelik op ’n sirkelroete by die geskiedkundige myndorp Cullinan gaan diens doen.
Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, het verduidelik dat elke lokomotief eers ’n deeglike meganiese evaluasie asook ’n evaluasie van die stoomketels moet ondergaan. Die bevindings sal bepaal watter lokomotiewe tot werkende toestand herstel sal kan word en watter in bewaring geplaas sal word met die opsie vir toekomstige herstel.
Die stoomlokomotiewe was deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Spoor- en Stoommuseum op Krugersdorp en die aanvanklike plan was om hulle te restoureer en uit te stal. Twee van die lokomotiewe, Kitson (bekend as Kitty) en Hunslet, is tot die 1990’s nog gereeld op ope dae uit die museum geneem om te wys wat hulle kon doen.

Hunslet het vir langer as 40 jaar steenkool na die Vereeniging-kragstasie aangery tot
dit in 1967 gesluit is Bron: Eskom
Probleme by dié museum en die feit dat skrootmetaaldiewe lokomotiewe begin teiken het, het Eskom in 2010 laat besluit om die lokomotiewe terug te neem. Dit het na die sluiting van die museum gelei, wat die restourasieproses ook tot ’n einde gebring het. Die lokomotiewe is na Eskom se Rotek-fasiliteit naby Germiston geneem.
Eskom het Kitty, wat in 1879 gebou is en in 1983 as nasionale monument verklaar is, in 2016 esteties gerestoureer. Kitty het in Maart verlede jaar nog ’n nakomingsertifikaat van SAEHA ontvang.
Eskom het egter nie fondse gehad om die ander lokomotiewe te onderhou nie, wat na die besluit gelei het om vyf van hulle te verhuur: Hunslet (1902); La Moye (1907); Komati (1926); Avonside (1927); en Henschel (1950).
 Komati het grootliks by Eskom se Witbank-kragstasie gewerk tot dit in 1969 toegemaak is Bron: Eskom
Uitvoerende hoof van Eskom, Dan Marokane, het gesê dat die lokomotiewe eerder verhuur as verkoop word sodat Eskom die bewaarder kan bly in die maatskappy se verbintenis tot erfenisbewaring. Die oorhandigingseremonie van die lokomotiewe by Eskom Rotek Industries het gehoor gegee aan die nasionale oproep om “erfenisinstellings vir ’n nuwe era te herdink” – die tema van vanjaar se erfenismaandvieringe.
Die stoomlokomotiewe vorm ’n onontbeerlike deel van Suid-Afrika se industriële en kulturele nalatenskap en ryk geskiedenis, het Eskom Rotek Industries se hoofuitvoerende beampte, Hector Danisa, gesê.

La Moye het die meeste rondgetoer en is in haar 65 diensjare in 16 verskillende
werkstoewysings ontplooi Bron: Eskom
Eskom is vanjaar 102 jaar oud en in sy gloriejare was daar 25 stoomlokomotiewe in diens, waarvan 18 tot in die middel 1980’s gebruik is. Teen 1989 is die gebruik van stoomlokomotiewe gestaak en die lokomotiewe wat nie ’n tuiste by ’n erfenisinstelling gekry het nie, is geskrap.
Besturende direkteur van die NCCR, Derick du Toit, het by die oorhandiging gesê: “Ons glo dat ons van hierdie lokomotiewe weer aan die werk sal kan kry – dan kan ons kinders ook eendag daarop ry.” Die lokomotiewe wat nie weer kan werk nie, sal wel gerestoureer word.
 Avonside het by Witbank-kragstasie gewerk, het sement vir Rosherville sentrale werkswinkels aangery en steenkool by Grootvlei en Camden Bron: Eskom
Cullinan Die lokomotiewe sal glo by die Cullinan-stasie vertoon en vir toeriste bedryf word. Friends of the Rail (FOTR), ’n nie-vir-wins-instansie, het vir jare lank onder andere die Diamond Express stoomtreinritte na Cullinan gedoen. Die instansie is sowat 35 jaar gelede deur ’n groep stoomtreingeesdriftiges gestig. Lede het veteraan stoomtreine by hulle Hermanstad-stasie restoureer en onderhou om as ’n “lewendige museum” te bedryf. Die stoomtreinritte na Cullinan het erge teëspoed begin ervaar. Ongeveer 13 jaar gelede het ’n stoomtrein net buite Cullinan-stasie ontspoor nadat dwarslêers gesteel is. Die hout-dwarslêers is met beton vervang, maar daarna het die gereelde diefstal van spoorstawe begin.

Henschel, ook as Vierfontein bekend, het by Komati gewerk voor sy as rugsteun
by Hendrina gebruik is Bron: Eskom
’n Stoomtrein het op 21 Maart 2017 omtrent vier kilometer buite Rayton met 500 passasiers aan boord ontspoor ná omtrent 160 meter se spoorstawe gesteel is. Van Maart 2017 tot Januarie 2018 het FOTR se stoomtrein net tot op Rayton gery en passasiers is van daar af met busse Cullinan toe aangery.
Ná herstelwerk aan die spoorlyn het die stoomtrein op 11 Februarie 2018 by Cullinan se stasie ingestoom. ’n Amptelike lintknip-seremonie, bygewoon deur Jan-Louis Spoelstra van TransNet vragspoor taklyne en erfenis en Elvin Josephus Harris van TransNet, is gehou.
 La Moye onderweg na NCCR se depot Bron: novanews.co.za
Tog kon die heel eerste rit daarna nie voltooi word nie. Bykans 150 meter se spoorstawe is weer gesteel en pret-passasiers is net voor Rayton gestrand.
FOTR is deur Wonder Steam Trains oorgeneem en ’n woordvoerder het in Junie 2019 berig dat stoomtreinritte na Cullinan “tydelik” opgeskort is omdat hulle vir TransNet gewag het om hulle veiligheidspermitte, wat aan die einde van 2018 verval het, te hernu. Dit blyk of dié hernuwing nie gebeur het nie.
|