Meestertjie Danie se dogter laat ’n ryk nalatenskap agter Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 17 October 2025 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Wie sou nou kon raai dat een van die heel eerste plaasskooltjies in die Pretoria-distrik op Donkerhoek was? En dat die meester wat dié skool moes begin, eintlik ’n Kaapse wynboer was? Of dat een van die meester se dogters, wat op Donkerhoek gebore is, ’n bekende jeugverhaalskrywer sou word?

Ds Stephanus Jacobus du Toit was van 1882 tot 1889 superintendent van opvoeding in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Hy was ’n bekende teoloog, joernalis, vertaler van die Bybel in Afrikaans en stigter van die eerste Afrikaanse koerant, ‘Die Afrikaanse Patriot’ en het vir Daniel Gerhardus (Danie) Cillié gevra om ’n plaasskooltjie in die ZAR te kom stig.


Hettie Cillié toe sy 96 jaar oud was in Huis Hermon
Bron: ‘Pretoriana’, no. 081, July 1981 – UPSpace

Danie, gebore op 29 Julie 1850 op Wellington, was die seun van Daniel Gerhardus Cillié (26 Julie 1817 tot 7 Mei 1897) en Margaretha Magdalena (5 September 1815 tot 6 Februarie 1892), ’n nooi Malan. Sy ma was van Wagenmakersvallei en sy pa van Leeuwenvallei, albei in die Wellington-distrik.

Danie was ’n boer op die wynplaas Patatskloof in Drakenstein in die Kaapkolonie toe ds SJ du Toit hom genader het. Hoekom die dominee ’n wynboer vir dié onderwystaak gekies het, is nie bekend nie. Kanse is dat hulle mekaar geken het. Ds SJ du Toit is in 1847 op die plaas Kleinbos in die Paarl-distrik gebore. Paarl en Wellington is slegs 11,8 km uit mekaar.


Drie Cillié’s op Schietfontein. Van links na regs: Pieter, Kowie en meestertjie Danie
Bron: ‘Laerskool Vissershoek, die eerste eeu 1891-1991’

Donkerhoek
Danie het die boerdery laat vaar en die gesin het in 1884 na die ZAR getrek om die Donkerhoek-plaasskooltjie oos van Pretoria te begin. Hy was getroud met Anna Magdalena, gebore op
9 November 1852, en net soos sy ma, ’n nooi Malan. Haar pa was Jacobus Francois Malan en haar ma, Anna Magdalena, was ’n nooi Le Roux.

Danie en Anna het agt kinders gehad (vyf dogters en drie seuns). Hulle dogter, Hester Francina (Hettie), is die toekomstige jeugverhaalskrywer wat op 17 Februarie 1885 op Donkerhoek gebore is.


Die Cillié-gesin se afgebrande plaaswoning op Schietfontein
Bron: ‘Laerskool Vissershoek, die eerste eeu 1891-1991’

Danie het ná ’n paar jaar as onderwyser bedank om eerder weer te gaan boer. Die gesin het tydelik op ’n aantal plase in die Pretoria-distrik gewoon, onder andere by dr Teichmann en daarna by Jopie Fourie se ouers op die plaas Wildebeesthoek agter die Magaliesberg naby Hornsnek, waar ’n plaasskooltjie ná die oorlog in 1903 begin is.

In die gedenkalbum, “Laerskool Vissershoek, Die Eerste Eeu, 1891 -1991”, bespiegel Reneé Schulenburg dat Danie Cillié moontlik by die stigting van die Wildebeesthoek-skooltjie betrokke was. Die familie het egter eers na die plaas Schietfontein, wat voorheen aan generaal Piet Joubert behoort het, in die De Wildt-gebied getrek. Sekere bronne dui aan dat Danie Schietfontein in 1891 gekoop het.


‘Schietfontein School’, 1900: Op die trappe staan dr Visser met die twee assistente, mej J Hermann en mej Anna Cillié in die deur. Van links na regs, staande: Gawie Oberholzer; Lang Gawie van der Merwe; Hettie Cillié; Lettie Hermann; Miemie Cillié; Siena Oberholzer; Sannie van der Merwe; Koot van der Merwe; Frans Hermann; en Hans Hermann. Sittende: Martha Oberholzer; Ellie van der Merwe; Hendrika van der Merwe; Nellie Cillié; Karel van der Merwe; klein Nellie van der Merwe; Wil van Heerden; en Jan Hermann
Bron: ‘Laerskool Vissershoek, die eerste eeu 1891-1991’

Reneé skryf dat die eerste skool in daardie gebied as die Fistershoekskool bekendgestaan het. Dié skooltjie is op 12 Oktober 1891 met mnr HF Stander as hoof in een van die kamers van Japie Schoeman se plaaswoning geopen. In 1899 het die naam na Visschershoekskool verander.


Hettie Cillié op die Schietfontein-skoolfoto
Bron: ‘Laerskool Vissershoek, die eerste eeu 1891-1991’

Schietfontein
In 1898 het Danie die Schietfontein School op sy plaas laat bou. Volgens Reneé het die skooltjie eers as die Witkoppenskool op Schietfontein bekendgestaan, glo weens die twee wit gewels weerskante van die skool. Danie het die stene waarmee die skool gebou is, in 1897 reeds laat vorm en brand. ’n Duitse bou-aannemer, ene Bischop, het die skool gebou. Die hoof was mnr AW Bester van Malmesbury en die skooltjie het so goed gedoen dat ouers hulle kinders van ver af daarheen gestuur het. Dié kinders moes in nabygeleë huise bly om die klasse te kon bywoon – daar was geen koshuis nie.


‘The House’ by die Normaal Kollege was om die beurt ontvangskamer, eetsaal, kombuis, matronekwartiere en van 1903 tot 1951 die prinsipaalswoning
Bron: Die Pretoriase Normaalkollege: Terugblik oor die eerste vyftig jaar, C. K. Oberholzer

Reneé skryf dat die hoof hoë agting vir Danie se onderwysvermoë gehad het. Almal het van klein meestertjie Cillié, wat so ’n geduldige, goeie mens was, gepraat. Hy het gevoel dat ’n mens met praat en luister baie verder kom as met slaan en onnodig hard wees, siende dat die kinders in moeilike tye grootgeword het.

Die skooltjie het gou te klein geword en Danie moes drie ekstra houtbanke vir die nuwelinge maak. Dié kinders het geen tafels gehad nie en moes die leie op hulle knieë vashou wanneer hulle daarop geskryf het.


‘Rachel die koppige meisiekind’
Bron: Kakkerlak Boeke

Foto
In 1900 het die skoolinspekteur, dr Visser, die skool besoek en het ’n foto van die skool laat neem. Dié foto is na ’n internasionale uitstalling in Parys, Frankryk gestuur waar dit die Grand Prix-prys vir plaasskole verower het. Na oorvertelling het die foto nege goue medaljes verower.

Hettie se oudste suster, Anna Magdalena, was ’n assistent by die skool en op die foto verskyn sy in die deur van die skoolgebou saam met die ander assistent, mej J Hermann. Hettie en haar sussies Nellie en Miemie staan tussen die ander kinders voor die skool.


Hettie Cillié het ’n hele paar boekies in die Dieretuin-Storiereeks uitgebring met medewerking van
dr R Bigalke van die Nasionale Dieretuin en dr TG Nel van die Transvaalse Onderwysdepartement
Bron: Kakkerlak Boeke

In die Anglo-Boereoorlog is die hele plaas en skool, wat ’n pronkstuk in die omgewing was, op
5 Oktober 1901 deur die Engelse afgebrand. Hettie en haar ma, sussies en jongste boeties is knap sewe maande voor vredesluiting konsentrasiekamp toe gestuur.

‘En die winde het gewaai’ is ’n boek waarin Hettie later oor die ontberings van die Anglo-Boereoorlog op die plaas en in die konsentrasiekamp skryf. Sestien huisgesinne is aanvanklik met die verskroeide aarde-beleid oorgesien en hulle plase is eers kort voor die einde van die oorlog verwoes.


‘Jong SuidAfrika’: Bloemlesing vir die laerskool standerd V /Alers, CJ. Hettie se bydrae is ‘Klasmaats’
Bron: Kakkerlak Boeke

Ná afloop van die oorlog in 1902 het inspekteur Visser die oorspronklike foto, wat die Grand Prix-prys gewen het, aan Danie gegee. Die Cillié-familie het die foto later weer aan die Vissershoekskool oorhandig.


‘Paaiboelie van Bangklip’
Bron: Kakkerlak Boeke

Kosskool
Hettie en een van haar susters is ná die oorlog na die La Rochelle Hoër Meisieskool in die Paarl gestuur, waar hulle in die koshuis gebly het. Hettie was vir vyf jaar op dié kosskool waar sy kunsklasse geneem het, omdat dit haar droom was om ’n kunsskilder te word. Tog het sy reeds op skool begin skryf en het ’n paar goue medaljes vir kortverhale verwerf.

Haar boek, ‘Chrissie en Joey’, is haar eerste kosskoolverhaal vir meisies, gebaseer op haar eie ervarings op La Rochelle. Chrissie is ’n plaasmeisie, wat ná haar ma se dood soos ’n regte rabbedoe grootgeword het, en haar niggie Joey is ’n dorpsjapie, wat net aan mooi klere, plesier en kêrels dink.

Die boek verskyn aanvanklik in ‘Die Jongspan’ as vervolgverhaal en word eervol vermeld met toekenning van die Hertzogprys in 1926. Dit het vele herdrukke beleef en Hettie het verskeie vervolgstories geskryf, soos ‘Joey en haar dogters’ en ‘Chrissie se kinders’. ‘Vier vriendinne’ is ’n soortgelyke verhaal van vier meisies in ’n koshuis.


Jeugboek, ‘Chrissie en Joey’, twee niggies op ’n Bolandse kosskool
Bron: Kakkerlak Boeke

Pretoria
Ná haar jare op kosskool is Hettie terug na Pretoria en het aan die Eendracht Hoërskool gematrikuleer. Sy het verder aan die Pretoria Normaalkollege studeer en het vir 25 jaar onderwys gegee, eers op Dullstroom en daarna naby Heidelberg, op Morgenzon, op die Hoëveld, in Villieria in Pretoria en toe by die Oos-Eindskool in Pretoria.

Terwyl Hettie skoolgehou het, het sy ook ’n joernalistiekkursus voltooi. Sy het in 1906 en 1909 Taalbondpryse vir histories-romantiese verhale gewen en het ook ’n aantal geldpryse in letterkundige wedstryde gewen. Vanaf 1910 was sy medewerker van ‘Die Brandwag’ en later van ‘De Volkstem’ en ‘Die Boerevrou’, waarin talle van haar verhale en sketse gepubliseer is.


‘Prettige praatstories vir voordrag en dramatisering (St. IV)’ met outeurs: 
AK Bot, Hettie Cillié, JJ van Tonder
Bron: Kakkerlak Boeke

Hettie het nooit getrou nie en, vreemd genoeg, is nie ’n enkele een van haar susters (Anna Magdalena, Margaretha Magdalena, Maria Magdalena en Petronella Louisa) ooit getroud nie. Al die susters het vanaf 1919 saam met hulle ouers in Sunnyside gewoon. Dit is nie bekend waar die broers (Jacobus Francois, Daniel Gerhardus en Petrus Johannes) gewoon het nie.

Hettie se ma, Anna, is op 3 Desember 1923 in die ouderdom van 71 jaar oorlede. Haar pa, Danie, is op 5 April 1931 in die ouderdom van 80 jaar oorlede.


Stephanus Jacobus du Toit rondom 1870 toe hy ’n teologie-student aan Stellenbosch was
Bron: Wikipedia

Skryf
In 1933 is Hettie as dosent aan die Pretoria Normaalkollege aangestel. Sy het in 1940 uit die onderwys getree om voltyds te skryf. Hettie het onder haar eie naam en die skuilnaam Estelle geskryf en was van 1958 af vir vyf jaar lank assistent-redakteur van ‘Die Jongspan’. Haar boeke ‘’n Mooi konsert’, ‘Iesegrim, die geniepsige kabouter’, ‘Antjie Somers’ en ‘Die paaiboelie van Hangklip’ is almal op die laerskoolleser gerig.

Sy het baie bydraes vir CF Albertyn se stel boeke, ‘Kinders van die wêreld’, gelewer. Hettie het ’n groot aantal geskiedenis-, aardrykskunde- en natuurstudie-pamflette geskryf en het bydraes vir Afrikaanse skoolleesboek-reekse soos ‘Prettige praatstories’ en ‘Stories vir almal’ gelewer. Sommige van die 13 boeke wat sy vir haar ‘Dieretuin-stories’-reeks geskryf het, is selfs in Suid-Sotho vertaal.


Danie se ouers se graf op Wellington: Daniel Gerhardus Cillié en Margaretha Magdalena, 
’n nooi Malan
Bron: geni.com

Hettie en twee van haar susters het in 1973 saam by die ouetehuis, Huis Hermon, in Pretoria-Noord ingetrek. Toe sy 96 jaar oud was, het Hettie in ‘Pretoriana’ van Julie 1981 geskryf oor haar herinneringe van Wonderboompoort.

“Staan voor ’n venster op die tweede verdieping van Huis Hermon in Pretoria-Noord, aan die ooste-kant van die gebou . . . En hier vlak voor jou oë is Wonderboompoort. Toe ek as kind met Wonderboompoort kennisgemaak het (omstreeks 1892) was die wildernis daar vir my onbeskryflik mooi en geheimsinnig. Selde of ooit het ’n mens ’n ander rytuig of iemand te perd daar teëgekom.”


Jopie Fourie, sy ouers en broers en suster. Agter: Jacoba Stefina Fourie; Joseph Johannes Fourie; en Daniel Pieter Fourie. Sittende: Joseph Johannes Fourie; Johannes Petrus Fourie; en Anna Sophia Margaretha, ’n nooi Pretorius
Bron: Pretoriana’, no. 081, July 1981 – UPSpace

“Van ons plaas, omtrent agtien myl van Pretoria, moes ons deur Wonderboompoort wanneer ons dorp toe ry. Hoe goed onthou ek die senuweeagtige opgewondenheid, die heerlike bang van ’n kind, as ons in my pa se kapkar met twee perde by die Poort aankom. Die Poort en Apiesrivier! Niemand het gedroom van alles wat die Poort met verloop van jare nog sou deurlaat nie. Boerekommando’s, Engelse, troepe, treine, motors, busse!”

Hettie is op 11 November 1986 in die ouderdom van 101 jaar in Pretoria oorlede.

 

 

© 2025 Die/The Bronberger