Alta Espach van Rietfontein 366 JR
skryf:
Op 18 November 2008 is my seun,
Henk Albertyn, op sy plot waar hy voor
sy rekenaar gesit het, deur die venster
doodgeskiet. Niks is gesteel nie; om die
waarheid te sê, die moordenaars was
nie eens in die huis nie.
Oor die hartseer en verlies wat daarop
gevolg het, sal ek liewers nie eens
ingaan nie. Baie mense wie vir hom
baie lief was se lewens het drasties
verander.
Intussen vermoed ek daar is nog geen
ordentlike ondersoek deur die polisie,
speurders of senior polisielede van
Cullinanse Polisiestasie gedoen nie. Dit
blyk asof belangrike inligting wat ek
aan hulle verstrek het geïgnoreer word
en ek word afgeskiet met: “Ja maar
hoe sal ons dit bewys” of “daar was
niks gesteel nie, dit sal moeilik wees
om die skelms vas te trek” of “dit was
’n roof wat skeefgeloop het” of “as dit
of dat gedoen moet word, moet ons
eers ’n hofbevel kry” en dit lyk vir my
alles is net te veel moeite.
’n Ander verskoning wat ons ook moet
hoor is “ek is al dae in die hof”. Dit is
nou een jaar en vier maande later. Nog
steeds is daar blykbaar niks gedoen nie
en die moordenaars loop steeds vry
rond. Ons het belangrike inligting
gedurende Desember aan die polisie
gegee, en vandag, drie maande later,
het hulle steeds niks daaromtrent
gedoen nie.
Selfs ’n baie bekende speurder wie se
hulp ek ingeroep het, het nie nou tyd
om aan ons aandag te gee nie. “Ek is in
die hof, julle moet geduldig wees.”
Ek het ’n sterk vermoede wie die skuldige
is, maar die speurders deel nie my
siening nie. Moontlik te veel moeite
om bewyse te kry? Derhalwe ignoreer
hulle my. Ons moet geduldig wees.
Hoe lank nog? Is 16 maande nie lank
genoeg nie? Sou daar ’n spesiale taakmag
aangestel gewees het as hy nie
maar net Henk Albertyn van plot 125
Rietfontein 366 JR was nie?
Alta, jy is nie die enigste ma in die Bronberg-gebied wat wag dat haar seun se
moord ondersoek moet word nie.
Barbara Hiscock wag nou al langer as
drie jaar. Haar seun, Brent, is op
Oujaarsaand 2006 doodgeskiet in Zwavelpoort
en sy kry geen terugvoer van
die Boschkopse Polisiestasie oor die saak
nie.-Red |