|
’n Klein rubbervarkie, wat meer as 120 jaar gelede ’n konsentrasiekampspeelding was, het ’n “groot onthou” by die Voortrekkermonument se Erfenisstigting oopgebreek.
“Op ’n doodgewone dag kom hier ’n vrou aan met ’n eenvoudige voorwerp wat tyd tot stilstand laat knars,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.
Die varkie, vergeel van ouderdom, is in ’n piouterhouertjie op ’n stukkie boerseep en vorm deel van ’n versameling items wat Ellie van Tonder geskenk het as ’n tasbare herinnering aan die onmenslike omstandighede wat die vrouens en kinders in die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) moes verduur.
 Die klein rubbervarkie bo-op ’n stukkie boerseep in ’n piouterhouertjie Foto’s: Du Preez de Villiers
Die items het aan Ellie se Ouma Steyn van Reddersburg behoort. Toe die Britte hulle verskroeideaardebeleid ingestel het, is huise en plase aan die brand gesteek en oeste vernietig. Ouma Steyn moes letterlik haar huisraad begrawe en het ’n wynbeker, botterbak, sout-, mosterd- en asynhouers van glas in ’n gat in die grond weggesteek. Kort hierna is sy saam met duisende ander vroue en kinders na ’n konsentrasiekamp gestuur.
Haar gebruiksitems het oorleef en vandag word ’n vurk, naaldehouer, klereborsel, hekelnaald, aansteekspeld, ’n snuifdosie en twee eierkelkies, wat sy self van draad gemaak het, ook veilig by die stigting bewaar.
“In ons kitssamelewing van oordadigheid herinner die diep simboliek van iets soos ’n klein konsentrasiekampspeelding ’n mens aan ’n tyd toe kindwees en speel ’n onbekostigbare luuksheid was,” sê Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting,
 Items wat aan Ouma Steyn behoort het
Sy sê dat die stigting ’n nalatenskapruimte skep waarin die verhale van gewone mense, wat buitengewone dade van moed en menslikheid verrig het, versamel, gerestoureer en digitaal gedokumenteer word.
“Só verseker ons dat die geskiedenis nie net in boeke voortleef nie, maar in die tekstuur van ’n klereborsel, die glans van ’n tinbeker of die krake in ’n speelgoedvarkie beleef kan word,” sê Lizette.
|