|
Miskruiers verhoed dat parasiete, soos vlieë, in mis uitbroei en dit is grootliks aan hulle te danke dat ’n stuk veld gesond kan bly.
Miskruiers begrawe klein stukkies mis, ’n proses wat vinnige hergebruik van die voedingstowwe tot gevolg het, terwyl dit die skadelike opbou van uitloog-voedingstowwe op die oppervlak voorkom.
Hulle bevorder so die vrugbaarheid van grond en selfs die groei van gras. Verdere voordele van miskruiers se grond-tonneltjies is verhoogde gronddeurlugting en dreinering, wat veral voordelig is vir die groei van gras in kleiagtige grond.
 Die miskruier stoot die bal agteruit en beheer dit met sy agterpote Foto: Wikipedia
Danksy miskruiers word die koolstof in mis met die grond gebind. Minder koolstof word dan in die atmosfeer vrygestel, wat lei tot die vermindering van kweekhuisgasse wat klimaatsverandering veroorsaak.
As daar geen miskruiers was nie sal die weidingsoppervlakte verklein word. Vee verseg om graspolle, wat rondom ou miskoeke begin groei het, te vreet.
 ’n Kewer uitgebeeld in die grafkelder KV6 in die Vallei van die Konings Foto: Wikipedia
Kewer Miskruiers is ’n soort kewer in die Scarabaeidae-familie, wat meer as 20 000 spesies in verskeie genera bevat. Hulle het ’n volledige metamorfose vanaf eier tot ’n larwestadium en volwasse kewer.
Hulle rol mis in ronde balletjies, stoot dit rond, begrawe dit, lê hulle eiers daarin en vreet plantvretende diere se mis. Hulle sal ook sampioene, blare en ander ontbindende materiaal vreet.
 Standbeeld van ’n kewer by die Karnak tempelkompleks Foto: Wikipedia; Wouter Hagens
Die miskruier se lyf is aangepas om misballetjies te rol. Hulle bene, geleë op die borsstuk, is gespesialiseerd vir die grawe van mis en die rondrol daarvan. Die miskruier stoot die misbal agteruit en die agterbene draai die misbal sodat dit netjies rond en kompak gevorm word. Die middelste paar bene hou die misbal in posisie en die getande voorbene druk die bal treetjie vir treetjie in die regte rigting. Aan die kop of borsstuk is dikwels uitgroeisels soos horings waarmee die mis gesny, gesteek of gestoot word.
Daar is drie hoofgroepe miskruiers: Die endokoprofaag bly binne-in die miskoek, voed en lê hulle eiers daar. Die parakoprofaag begrawe hulle misballe onder die miskoek en die telokoprofaag rol misballe en begrawe dit op ’n afstand van die miskoek.
 Twee miskruiers baklei oor ’n misbal Foto: Wikipedia; Rafael Brix
Chemies Miskruiers wys ook wat die impak is van die chemiese middels wat op vee gebruik word. Insekte soos miskruiers, wat nie die direkte teiken van die antiparasitiese middels is nie, sterf dikwels as sekere chemiese middels gebruik word.
Dit is bewys dat die meeste chemiese groepe non-teiken organismes op een of ander manier beïnvloed omdat dit in die dier wat behandel is se mis beland. Dit gebeur nie net as die chemiese middel deur die dermkanaal opgeneem word nie, maar ook deur sistemiese opname of wanneer diere hulle self of ander diere wat met die produk behandel is, lek.
 ’n Miskruier met twee misballe Foto: Wikipedia
Die produkte se effek op miskruiers is kompleks en kan op baie verskillende maniere manifesteer. Dit kan dodelik wees, waar dit die miskruiers vir ’n paar dae ná die behandeling doodmaak, maar daarna geen effek meer het nie. Die effek kan ook sub-dodelik wees, waar dit die miskruiers op meer subtiele maniere beïnvloed, soos deur steriliteit te veroorsaak of waar dit slegs die onvolwasse miskruiers beïnvloed.
 ’n Miskruier bo-op die misbal Foto: Wikipedia; Charles J Sharp
Egipte Antieke Egiptenare het die kewer as heilig geag. Hulle het geglo dat kewers die god Ra (of sy voorstelling, Chepri – self ’n kewer), wat die son elke dag deur die lug rondrol, na-aap. Die feit dat kewers hulle eiers in dieremis lê, is verbind met hernuwing en hergeboorte.
Steenkewers is gereeld in Egiptiese graftombes geplaas as simbool van die oorledene se hergeboorte in die hiernamaals. Juwele met die kewer-simbool is ook in die tombes gevind. ’n Kewer-amulet is bo-oor die hart gedra as ’n vervangingshart in die hiernamaals. Die oorledene se regte hart is met die mummifikasieproses verwyder. Lewende Egiptenare het ook steenkewers as beskermingsimbool gedra.
|