Skoolfoto uit 1906 vertel ’n onverwagse verhaal Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 15 November 2025 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

’n Skoolfoto, wat in 1906 geneem is, vertel die verhaal van ’n onderwyser wie se lewe ’n paar onverwagte draaie met hom geloop het. Die Anglo-Boereoorlog het sy tyd aan die Staatsmodelskool onderbreek en hy het as banneling op Bermuda beland, het daarna in New York gewerk en moes toe sy passaat terug huis toe oorwerk om uiteindelik by ’n ‘nagskool’ in die Pretoria-distrik te begin skoolhou.


Wildebeesthoekskool, 1906. Agter, van links na regs: Pieter J Cillie; Frikkie Schoeman; Nicolaas Pretorius; Danie Fourie; Johannes Fourie; Josef van De Venter; en Stoffel Rossouw. Tweede ry: Sophie van De Venter; Dorie Rossouw; Catharina van De Venter; Willie Joubert; en onbekend. Sittende: Pieter ?; Annie Rossouw; Bettie Kok; onderwyser Francois Philippus Coetzee; Sannie Schoeman; onbekend; en Gert van De Venter. Voor: onbekend; Koos Kok; Hermanus Schoeman; en Willie Kok
Bron: ‘Pretoriana’ no. 80

Francois Philippus Coetzee, gebore op 5 Januarie 1880, is in April 1898 in die Staatsmodelskool in Standerd VI ingeneem. Hy het vroeër elders skoolgegaan en het na die Staatsmodelskool oorgegaan toe hy 18 jaar oud was. Ná aflegging van ’n toelatingseksamen, word hy in Julie na die Normaalklas oorgeplaas om as onderwyser opgelei te word.


Onderwyser Francois Philippus Coetzee op die 1906 skoolfoto

In ‘Pretoriana’ no. 53 van April 1967 vertel NA Coetzee meer oor die rapportboekie wat vir Francois uitgereik is. Hy verduidelik dat dié boekie die werksaamhede en daaglikse roetine aan die Staatsmodelskool en Staatsgimnasium van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in Pretoria vir die 18 maande voor die Anglo-Boere Oorlog (11 Oktober 1899 – 31 Mei 1902) weerspieël.

Die eerste rapport strek oor die kwartaal April tot Julie 1898 en toon die punte in die verskillende vakke behaal; “schooltijden afwezig geweest” en dit maak voorsiening vir die latere handtekening van die ouer of voog. Die skoolhoof, meneer FW Wagner, se naam is op die vorm gedruk en die onderwyser, N Tromp, het namens hom geteken. RD Collins, koshuisvader van die Eerste Staats Tehuis voor Jongens, het sy naam geteken, blykbaar as medegetuie van goeie gedrag, om dissipline in die tehuis te verseker.


Die Staatsmodelskool in Van der Waltstraat, Pretoria voor 1900
Bron: Wikipedia

Tehuis
Dié tehuis op die hoek van Schoeman- en Van der Waltstraat het ’n baie interessante geskiedenis en mnr Collins en sy vrou en twee dogters het ’n lang verbintenis met die gebou gehad. Dit was eers ‘Prospect Seminary’ en die hoeksteen is op 17 April 1878 deur Sir Theophilus Shepstone gelê. Daar is Engelse onderwys vir ‘jonge juffrouwen’ aangebied, maar in November 1881 het dit ’n gemengde kosskool geword met ruimte vir 300 seuns en dogters onder die naam ‘Eben-Haezer School’, met mnr Collins as hoof. Later is Nederlands saam met Engels as voertaal gebruik en die skool het as Ebenhaezerskool bekend gestaan.


Planne van die slaapsaal by die Eerste Staats Tehuis voor Jongens, onderteken deur SW Wierda, hoof van openbare werke
Bron: repository.up.ac.za

In 1898 is die gebou as koshuis vir die aangrensende Staatsmodelskool gebruik (die Eerste Staats Tehuis voor Jongens) met mnr Collins as koshuisvader. In die Anglo-Boereoorlog is die gebou as hospitaal gebruik en het as Bourke-hospitaal bekendgestaan. Dit was van 1909 tot 1914 die manskoshuis vir die Transvaalse Universiteitskollege en is in 1955 gesloop.

Een van mnr Collins se dogters, slegs as ‘BC” bekend, het ’n lang brief, in die vorm van ’n dagboek, nagelaat. Hierin beskryf sy haar ondervindings in dié gebou toe dit in die oorlog as Bourke-hospitaal bedryf is.


Die krygsgevangenekamp op Darrell-eiland, Bermuda
Bron: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke

Oorlog
Die laaste rapport in ons skoolseun Francois se rapportboekie (vir Julie tot September 1899) getuig van die onvermydelike. Al die punte vir die afsonderlike vakke is ingeskryf, maar die afronding van die rapport ontbreek, die onderwyser en koshuisvader het nie geteken nie en ook nie Francois se vader nie. Die Staatsmodelskool en Staatsgimnasium is gesluit en Francois het in September 1899 by die Heidelberg-kommando, waar sy ouerhuis was, aangesluit.


Die ou Eerste Staats Tehuis voor Jongens voor dit in 1955 gesloop is
Bron: Rosa Swanepoel Ou Pretoria Nuusbrief, April 2003

Die Heidelberg- kommando is in 1851 gestig en het in die Anglo Boereoorlog in die Natalse veldtog gedien en aan die Slag van Modderspruit, Colenso, Platrand en Spioenkop deelgeneem.

Teen Januarie 1902 is die eenheid in die Vrystaat ingedwing om by die Frankfort-kommando aan te sluit. Dié kommando is gestuur om die Vrystaters by Paardeberg, waar generaal Piet Cronjé en sy laer vasgekeer was, by te staan. Die Heidelbergers was toe onder bevel van kommandant Cornelis Spruyt. Teen 1902 was alle kommando-oorblyfsels onder Britse militêre beheer en ontwapen.


Seuns by die Eerste Staats Tehuis voor Jongens
Bron: Friends of Tshwane Heritage Research Centre

Francois het tot 28 Mei 1901 in dié kommando geveg, toe hy in die knie gewond is, krygsgevangene geneem is en ’n maand later na Darrell-eiland, Bermuda gestuur is. Die laaste kampe vir Boerekrygsgevangenes is op die Bermuda-eilande geopen met die eerste groep krygsgevangenes wat op 28 Junie 1901 daar aangekom het. Uiteindelik sou daar 4 619 krygsgevangenes in die Bermuda-kampe wees.

Die Bermuda-eilandgroep is in die Noord-Atlantiese Oseaan, ongeveer 900 km vanaf die Noord-Amerikaanse vasteland, halfpad tussen die Wes-Indiese eilande en Kanada. Krygsgevangenekampe is op agt van die eilandjies opgerig, by Burt-, Darrell-, Hawkins-, Hinson-, Morgan-, Tucker-, Port- en Long-eiland.


Die begraafplaas op Long-eiland, Bermuda
Foto: Tian Schutte

New York
Vrede is op 31 Mei 1902 gesluit, maar Francois het die “rooi eed” eers op 9 Julie 1902 afgelê en is toe vrygelaat. Hy is egter nie direk terug na Suid-Afrika nie, maar is New York toe waar hy vanaf September 1902 tot Maart 1903 by Francis H Leggett & Co, “stock and forwarding agents” op West Broadway gewerk het.

Francis H Leggett (1840 – 1909) het in 1858, toe hy 18 jaar oud was, by sy pa se kruidenierswinkel begin werk. Ses jaar later was hy ’n vennoot en in 1870 het hy sy eie groothandel kruideniersfirma gestig. Binne 11 jaar was sy firma die grootste in die stad met ’n takkantoor in Bordeaux, Frankryk. Hy het sy bekende pakhuisgebou in 1882 voltooi. Die gebou is later jare verklein. Leggett se firma was ten minste tot die middel van die tweede dekade van die 20ste eeu in dié gebou werksaam.


Boere-krygsgevangenes met hulle handvlyt in Bermuda
Bron: Wikimedia

Francois het in 1903 sy passaat terug na Suid-Afrika oorgewerk. Hy het in Maart 1903 in Durban aangekom en het by ’n getroude broer van hom op Standerton gaan woon. Daar het hy vir een maand skoolgehou sodat ’n inspekteur ’n aanbeveling oor toelating tot die Pretoriase Normaalkollege kon maak.

Die aanbeveling was gunstig en Francois het vanaf 1 Augustus tot 31 Desember 1903 aan die Normaalkollege, Pretoria studeer. Hy het die T3-eksamensertifikaat op 1 Januarie 1904 gekry en moes eers vir ’n jaar “op proef” gaan skoolhou voor hy op 1 Januarie 1905 as volwaardige onderwyser, met ’n T3-sertifikaat, gepromoveer deur inspekteur HS Cooke, gekwalifiseer het.


Krygsgevangenes op Bermuda by die handgedrewe draaibank wat hulle self gemaak het
Bron: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke

Skoolhou
Die eerste skool waar hy diens aanvaar het, was die Wildebeesthoekskool agter die Magaliesberg naby Hornsnek. Dié goewermentskooltjie is in Augustus 1903 op die plaas Wildebeesthoek van Josef Fourie (Jopie Fourie se pa) in ’n markiestent gestig. Die volgende jaar is ’n klein klipgeboutjie vir die 22 leerlinge opgerig.


Offisiere van die Heidelberg-kommando op 5 Junie 1902
Bron: http://samilitaryhistory.org

Dié eenmanskool is as ’n ‘nagskool’ geklassifiseer omdat die leerlinge bedags by hulle ouerhuise moes help werk om die honger en armoede van die deur af weg te hou en die plase ná die oorlog weer op te bou. Daar kon slegs in die laat agtermiddae of aande skoolgegaan word. Die leerlinge was jongmense wat die oorlogskampe oorleef het en sommige was reeds amper ouer as die onderwyser.


’n Veiling van Boerekrygsgevangenehandwerk op Burt-eiland
Bron: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke

In 1904 was daar 11 seuns en 11 meisies en teen die einde van 1904 is ses leerlinge vir standerd II en drie leerlinge vir Standerd IV deur inspekteur HS Cooke geëksamineer. Uit die nege het vyf geslaag in die vakke soos voorgeskryf: Rekenkunde, lees, opstelskryf, spel, skryf, aardrykskunde, geskiedenis en handewerk.


Krygsgevangenes op Darrel-eiland, 27 Februarie 1902, by ’n uitstalling van portretrame
Bron: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke

Francois se salaris was £200 per jaar. Hy het in 1904 ’n ‘vakansiekursus’ aan die Normaalkollege bygewoon en het ’n afsonderlike sertifikaat daarvoor gekry. Die bewoording het gelui: This is to certify that Francois P Coetzee, after attendance at a Holiday Course, passed an Examination in Dutch on the work required for teaching Standards one to seven of the Elementary School Code. Date 1st October 1904, Signed Fabian Ware, Director of Education.”


Francis H Leggett Co se ‘kleinergemaakte’ gebou in New York
Bron: architizer.com

Kisklere
’n Foto van die onderwyser en leerlinge is in 1906 geneem en hulle moes glo hulle kisklere aantrek. In sy artikel in ‘Pretoriana’ no. 53 noem NA Coetzee dat dit interessant sou wees as die name van die leerlinge op die foto opgespoor kon word.


Só het Francis H Leggett Co se oorspronklike gebou gelyk
Bron: Views of New York, 1895

Francois het by Jopie Fourie se ouers ingewoon en van Jopie se jonger broers staan agter op die skoolfoto. ’n Ander leerling, links agter, was Pieter J Cillié – ’n seun van meestertjie Danie Cillié wat die Donkerhoekskool in 1884 gestig het en oor wie ons in Die Bronberger se Oktober-uitgawe berig het.


’n Advertensie vir Leggett se kruideniersware
Bron: ‘The Evening World’, December 8, 1911

In ‘Pretoriana’ no. 80 is daar opgevolg oor dié foto en is die meeste van die leerlinge geïdentifiseer. Die Wildebeesthoekskool het in Desember 1907 gesluit.

 

© 2025 Die/The Bronberger