Verrassende en vreemde dinge het al op Kersdag gebeur Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 12 December 2025 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

’n Aantal verrassende dinge het al op Kersdag gebeur – van Piet Retief se begrafnis, kanonne met Krismispoeding gelaai en generaal de Wet se Kersdagverrassing tot Robey Leibbrandt se begenadiging twee dae voor Kersfees en die wêreldbekende Kersdag-wapenstilstand in die Eerste Wêreldoorlog.

Natal
Vasco da Gama het op 25 Desember 1497 die kus van Pondoland bereik wat hy Terra do Natal, verwysende na Kersfees, genoem het.

Inwoners van dié gebied het tot omtrent 1809 in verskeie klein stamme geleef. Daarna het Dingiswayo baie van die stamme verower en sy opvolger, Shaka, het vanaf 1815 die oorhand gekry.

Die Voortrekkers het die gebied in die 1830’s bereik en Piet Retief en sy geselskap is op
6 Februarie 1838 deur Dingaan (Dingane kaSenzangakhona) vermoor. Die Boere het ’n deel van die Zoeloe-gebied geannekseer en dit die Republiek van Natalia genoem. Die Britte het dié gebied in 1843 oorgeneem en dit na die kolonie van Natal herdoop.


Vasco da Gama, 1525
Bron: Wikipedia

Piet Retief begrawe
Na die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 het Andries Pretorius se kommando besluit om na die oorskot van gestorwe trekgeselskappe te soek. Hulle is op 17 Desember daar weg en het eerste Piet Uys en sy gestorwe makkers se oorskot by Italeni gekry en begrawe.

Teen 20 Desember was hulle naby uMgungundlovu, Dingaan se hoofstat, en het gesien dat die hele kraal in ligte laaie staan terwyl Dingaan en sy onderdane met hulle vee en honde besig was om noordwaarts te vlug.


Die ‘Border Mounted Rifles’ se Kerskonsert op 22 Desember 1899 op Ladysmith
Bron: molegenealogy.blogspot

Andries Pretorius en 200 mans het daar laer getrek en die gebied rondom die smeulende stat deursoek. Hulle het Piet Retief en sy geselskap se oorskot by kwaMatiwane, waar hulle vermoor is, gevind.

Die individue is aan hulle klere en besittings uitgeken. Piet Retief se waterbottel en leertas met korrespondensie en die traktaat, wat Dingaan onderteken het, het langs sy oorskot gelê.

Die Retief-geselskap se beendere is op Kersdag in ’n gesamentlike graf aan die voet van die koppie begrawe.


Piet Retief
Bron: SA History

Kanon-poeding
Met Kersfees 1899 was die Britte in Ladysmith onder beleg, maar het besluit om die feesgety steeds te vier. Die ‘Border Mounted Rifles’ het op 22 Desember ’n konsert gehou met ’n ietwat ongewone orkes: die trom was ’n meeldrom met ’n skaapvel bo-oor gespan en die fluite was blikfluitjies.

’n Kerspartytjie met speelgoed, koek en gemmerbier is vir die dorp se 200 kinders gehou en daar was vier Kersbome, wat Suid-Afrika, Brittanje, Australië en Kanada gesimboliseer het.

Die verpleegsters by die Intombi-hospitaal het elkeen ’n pakkie met Port, lemmetjiesap, korente, mieliemeel en geblikte tong ontvang.

Op Oukersaand was daar kerkdienste en Kersliedere is gesing. Op Kersoggend het die Boere op die randjies met kanonne begin skiet. Een 15-pond kanondop het nie ontplof nie en by nadere ondersoek is gevind dat dit nie plofstof nie, maar ’n pruimpoeding bevat het met ’n boodskap by: Komplimente van die seisoen.


Die 15-pond ‘bom’ was ’n pruimpoeding as Kersgeskenk
Bron: molegenealogy.blogspot

Krismiskop
Teen Kersfees 1900 was konvensionele oorlogvoering in die Anglo-Boereoorlog iets van die verlede en kos en lekkernye was baie skaars op kommando. Die Britse troepe, daarenteen, het treinvragte vol Kersfeeskos en drank ontvang; iets wat die Boere Krismis-konvooie genoem het en graag gebuit het. Hulle het gelaaide treine ontspoor en ossewa-konvooie in lokvalle gelei.

Generaal Christiaan de Wet en sy manskappe het in 1901 daarvoor gesorg dat ’n groep van 580 kakies, wat blokhuise in die Vrystaat gebou het, droëbek en verslane op Kersdag gesit het.

Die Britse soldate het op Groenkop op die plaas Tweefontein, buite Bethlehem kampeer toe generaal De Wet om 2 vm op Kersoggend toegeslaan het. Die geveg het omtrent 20 minute geduur. Buiten die honderde krygsgevangenes het die buit onder meer uit twee kanonne, baie gewere en ammunisie, 500 perde en muile en meer as 20 waens met osse bestaan. Die waens was swaar gelaai met voorraad bestem vir die Kersdagvieringe en die Boere het Groenkop na ‘Krismiskop’ herdoop.


Dié Australiese Kersboom was een van vier sulke bome by die 1899 Kerspartytjie
vir Ladysmith se kinders
Bron: molegenealogy.blogspot

Swart Tweede Kersdag
Die 217-dae-lange beleg van Mafikeng het op 14 Oktober 1899 begin. Die dorp was onder bevel van kolonel Robert Stephenson Smyth Baden-Powell en is oor die maande deur tussen 6 000 en
8 000 Boere onder bevel van generaal Piet Cronjé, omsingel.

Dit was krities dat Mafikeng spoedig tot ’n val gebring word om dié groot Boeremag vir ’n aanval op Kimberley beskikbaar te stel. Generaal Cronjé het vas geglo dat hy ’n reuse Britse mag, wat andersins Wes-Transvaal sou binneval, in Mafikeng vaspen. In werklikheid was dit andersom, want daar was net 2 000 troepe.


Generaal Christiaan Rudolph de Wet
Bron: Wikipedia

Op ‘Swart Tweede Kersdag’ het die Britse garnisoen, gesteun deur ’n pantsertrein, ’n aanval uit twee rigtings op die Boere by Wildsbokkop, noord van die dorp, geloods. Die Britse verliese was so swaar dat die regiment van vier tot drie eskadronne verklein moes word.

Teen die einde van die sewe maande beleg, toe die Boere se getalle tot 1 200 gekrimp het, was dit Baden-Powell se beurt om te glo dat hy steeds deur ’n reuse Boeremag omsingel was.


Generaal Piet Cronjé
Bron: Wikipedia

Kersdag-inval
Brittanje se besluit om tot die Eerste Wêreldoorlog toe te tree, het die Unie van Suid-Afrika, as ’n Britse dominium, feitlik outomaties in ’n staat van oorlog gebring. Die regering se besluit om Duits-Suidwes-Afrika in besit te neem, het tot ’n gewapende opstand gelei. Op 15 September 1914 het kommandant-generaal van die gewapende magte, generaal Christiaan Beyers, uit sy pos bedank en sy motor gestuur om generaal Koos de la Rey van Johannesburg na Pretoria te bring. Dié twee generaals het daardie aand na die Potchefstroomse militêre kamp vertrek waar generaal Jan Christoffel Greyling Kemp ook bedank het.


Luitenant-generaal Robert Stephenson Smyth Baden-Powell
Bron: Wikipedia

Onderweg het ’n opslagkoeël by ’n polisiepadblokkade generaal De la Rey se lewe beëindig en die 1914-Rebellie het kort na sy begrafnis uitgebreek. Luitenant-kolonel Salomon Gerhardus (Manie) Maritz het met die Duitse owerheid in Duits-Suidwes-Afrika oor militêre samewerking onderhandel.

Die Rebellie in die Unie is onderdruk, die leiers gevange geneem en eerste minister, generaal Louis Botha, het besluit om Walvisbaai en Swakopmund as basisse te gebruik vir ’n aanmars op Windhoek. ’n Mag onder leiding van kolonel PCB Skinner is na Walvisbaai gestuur en het op Kersdag 25 Desember 1914 sonder enige weerstand aan wal gegaan. Swakopmund is enkele dae later beset.


Beleg van Mafeking, 10 sjielings (1900) oorlog-geldeenheid
Bron: Wikipedia

 Robey begenadig
In die Tweede Wêreldoorlog het ’n halfmiljoen Afrikaners die anti-Britse Ossewa Brandwag ondersteun en was nie baie angstig om onder leiding van eerste minister, generaal Jan Smuts, namens die Britte teen die Duitsers te baklei nie.

Sydney Robert ‘Robey’ Leibbrandt was ’n bokser wat Suid-Afrika in die 1936 Olimpiese Spele in Berlyn verteenwoordig het. Daar is hy deur die Nazies gewerf. Die oorlog het in 1939 uitgebreek en Robey is huis toe teruggestuur onder die skuilnaam Walter Kempf. Sy opdrag was om generaal Smuts om die lewe te bring en ’n pro-Nazi mag in Suid-Afrika op die been te bring.


Sidney Robert ‘Robey’ Leibbrandt
Bron: olympedia.org

’n Polisieman, kaptein Jan Taillard, het Robey se hoofkwartier infiltreer en het uitgevind dat Robey van plan was om generaal Smuts die dag ná Kersdag te vermoor. Robey het ’n voortvlugtende geword, is op 21 Desember 1942 gevang en sy hoogverraad hofsaak het begin.

Hy is op 11 Maart 1943 tot die dood veroordeel. Sy appèl teen dié vonnis het misluk, maar twee dae voor Kersfees 1943 is hy deur generaal Smuts begenadig en sy straf is na lewenslank verander, glo omdat die generaal Robey se pa as ’n manhaftige soldaat in die Anglo-Boere-oorlog bewonder het.

Robey is ná die Nasionale Party die algemene verkiesing in Mei 1948 gewen het, vrygelaat.


Manie Maritz
Bron: Wikipedia

Kersdag-wapenstilstand 
In die Eerste Wêreldoorlog was daar op Kersdag 1914 verskeie informele wapenstilstande by loopgrawe in noordelike Frankryk en België. Op Oukersaand by die Frelinghein-Houplines sektor, net buite die dorpie Armentieres, het die Duitsers Kersbome in die loopgrawe gehad en luitenant Johannes Niemann van die 133ste Adellike Saksiese Regiment het Kersliggies opgesit.

Die Skotse troepe in die loopgrawe aan die oorkant het die liggies gesien en eers vermoed dat dit die begin van ’n aanval kon wees. Hulle het begin vuur, maar daar was geen reaksie nie.

Teen 8 uur Kersoggend het kaptein Sir Edward Hulse van die tweede Skotse Garde Kerswense met die Duitse bevelvoerders uitgeruil en is toe hoofkwartier toe. Hy het sy troepe verbied om saam met die Duitsers te kuier.

Toe hy terugkom was sy eie loopgrawe leeg en soldate was in niemandsland aan die sing. Die Skotse magte het ‘Tipperary’ en die Duitsers ‘Deutschland Über Alles’ gesing en daar was selfs later ’n sokkerwedstryd.


Britse en Duitse troepe ontmoet in niemandsland op Kersdag 1914
Bron: Imperial War Museums 

Die tweede oor-en-weer kuier was naby Ploegsteertwoud. Hier het die Adellike Walliese Fussilliers nie almal hulle loopgrawe verlaat nie – net die offisiere het beleefde gesprekke met die Duitsers in niemandsland gevoer.

Die Walliesers het ’n vat bier van die vyand ontvang en het vir die Duitsers ’n pruimpoeding gestuur. Die Walliesers, onder opdrag om in hulle loopgrawe te bly, het blikkies boeliebief en konfyt as geskenke na die Duitsers toe gegooi.

Ná ’n werklike ‘Stille Nag’ het Walliese kaptein CL Stockwell die volgende oggend 8 uur drie skote in die lug in geskiet en in die loopgraaf teruggeklim. Die Duitse offisier het verskyn, gebuig en gesalueer en in sy loopgraaf teruggeklim. ’n Paar oomblikke later is twee Duitse skote in die lug geskiet.

 

© 2025 Die/The Bronberger