Neushoringvoëls nou ook deur smokkelhandel geteiken Print E-mail
News - Artikels
Friday, 12 December 2025 08:00
Untitled Document

Groeiende onwettige handel in Afrika-neushoringvoëls is onlangs deur Mongabay, ’n webtuiste wat op omgewingsake fokus, bekendgemaak. Dit is veral die sagte, hol struktuur aan die bokant van die voëls se snawels wat gesog is en vir ornamente gekerf word, maar handel sluit lewende voëls, vere en skedels in.

Private speurder Mike Bolhuis het gesê dat die bedreiging vir Suid-Afrika relevant is, hoewel die meeste van die handel vanuit Sentraal- en Wes-Afrika kom. Amptelike syfers is plaaslik nog skraps, maar onwettige handel gebeur maklik ongesiens en daar is kommerwekkende waarskuwingstekens. Die meeste neushoringspesies is nie onder die Cites-ooreenkoms gelys nie, wat beteken dat internasionale handel swak gekontroleer word.


’n Grysneushoringvoëlwyfie
Foto: Wikipedia

Neushoringvoëls kom in Afrika, tropiese dele van Nieu-Guinee, Asië en die Salomonseilande voor. Daar is 60 spesies in die familie, waarvan 22 op die IUBN-rooilys aangeteken is.

Suider-Afrika is die tuiste van verskeie neushoringvoëlspesies, wat ook die bromvoël (Bucorvus leadbeateri), wat reeds as bedreig geklassifiseer word, en die boskraai (Bycanistes buccinator) insluit. Die bekendste spesies is die grysneushoringvoël, rooibekneushoringvoël, geelbekneushoringvoël en die gekroonde neushoringvoël.

In die Bronnie se gebied is die grysneushoringvoël die volopste. Dié wyfie plaas haarself jaarliks in ’n benarde posisie. Sy messel haarself in haar nes toe en verloor daarna al haar vliegvere gelyk. As iets met die mannetjie gebeur sal sy nie self kos kan soek nie, al breek sy by die nes uit.

Bykans alle voëls verveer jaarliks, maar hulle vere word vervang soos hulle dit verloor en hulle behou die vermoë om te vlieg. Interessant genoeg verveer die grysneushoringvoël-wyfie geleidelik, soos alle ander voëls, as sy nie broei nie.


In vlug
Foto: Wikipedia; Lip Kee

Die wyfie lê twee tot vier eiers ná die eerste goeie somerreën, gewoonlik van Oktober tot November. Sy kies meestal ’n natuurlike holte in ’n boomstam of -tak om as nessie te dien, maar kan ook in rotsskeure of in gate, wat deur ander voëls gemaak is, broei.

Die wyfie messel die gat van binne af toe deur ’n soort sement, wat van modder, voëlmis en vrugtemoes gemaak word. Daar is slegs ’n nou gleuf na buite waardeur die mannetjie kos vir die wyfie en kleintjies aangee.

Die wyfie lê nie al die eiers gelyk nie; dit neem ses tot tien dae om almal te lê. Sy broei die eiers binne 24 dae uit en die kuikens bly vir 43 – 49 dae in die nes. Die wyfie verlaat die nes wanneer die oudste kuiken 19 – 34 dae oud is en die kuikens seël die opening weer van binne af. Daarná voer beide mannetjie en wyfie die kuikens.


Op die grond
Foto: Wikipedia

Grysneushoringvoëls (Tockus nasutus, onlangs geherklassifiseer tot Lophoceros nasutus) is teen 43 – 48 cm kleiner as die ander neushoringvoëls. Hulle is hoofsaaklik grys en die kop, vliegvere en lang stert is ’n bietjie donkerder grys. Daar is ’n wit lyn aan weerskante van die kop en een op die rug, wat net in vlug sigbaar is.

Die mannetjies en wyfies lyk eenders, maar die mannetjie word aan sy kleinerige, donker snawel uitgeken. Die wyfie het ’n rooi snawelpunt en ’n kleiner snawelrif wat, soos die bo-mandibel, roomkleurig is. Onvolwasse voëls het bruiner koppe en onduidelike wenkbroue.


’n Grysneushoringvoëlmannetjie
Foto: Wikipedia

Grysneushoringvoëls is grootliks boomlewend, maar sal ook prooi op die grond soek. Hulle is omnivore en vreet insekte, knaagdiere, paddas, reptiele en vrugte.

Die vlugpatroon is golwend, met stygende en dalende patrone. Wanneer hy sy roepgeluid maak, gooi die grysneushoringvoël sy snawel omhoog en uiter ’n reeks yl, klaende fluite wat hoër en laer beweeg in ’n ‘piee-o, piee-o, piee-o’ roep.

Dié voëls kom in pare voor, behalwe in die winter, wanneer hulle in swerms van tot 30 voëls in droë gemengde bosveld, doringveld en savanne, saamdrom.

 

© 2025 Die/The Bronberger