Aartappels was eens varkkos, verbode vir menslike verbruik Print E-mail
News - Mymerkos
Thursday, 22 January 2026 08:00
Untitled Document

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

Soos baie goeie dinge om te eet en drink, is ‘aligot’ (aanvanklik ’n dis van gesmelte kaas en broodkrummels) deur monnike gemaak – reeds in die 12e eeu en miskien selfs voor dit. Honger en half-verkluimde pelgrims op die Santiago de Compostela-roete in die suide van Frankryk het in die winter by kloosters aangekom en gevra of daar enigiets, of ‘aliquid’, te ete is.

Die Latynse ‘aliquid’ het gou die Franse ‘aligot’ geword. Die vroeë resep is oor die eeue verander en is in ’n aartappeldis omskep ná aartappels ‘mensekos’ in plaas van ‘varkkos’ in Frankryk geword het.

Antoine-Augustin Parmentier (gebore op 12 Augustus 1737) was ’n Franse apteker en landboukundige wat die beste onthou word as ’n luidkeelse voorstaander van aartappels as voedingsbron vir mense.

Sy baie ander bydraes tot voeding en gesondheid sluit onder andere in die eerste verpligte pokke-inentingsveldtog in Frankryk vanaf 1805, toe hy inspekteur-generaal van gesondheidsdienste onder Napoleon was. Hy het ook baanbrekerswerk in die onttrekking van suiker uit suikerbeet gedoen, het ’n skool vir broodmakers begin en het maniere om kos te bewaar, soos verkoeling, bestudeer.


‘Aligot’ met bestanddele
Foto: cfa-espace-concours

Tronk
Toe Antoine-Augustin as militêre apteker vir Frankryk in die Sewe Jaar-oorlog gedien het, is hy deur die Pruise gevange geneem. In die tronk was hy gedwing om aartappels te eet – iets wat hy net as varkkos geken het.

Aartappels is in die begin van die 16de eeu deur die Spanjaarde vanuit Suid-Amerika na Europa gebring. In 1640 is aartappels aan die res van Europa bekendgestel, maar dit is net as voer vir diere gebruik, behalwe in Spanje en Ierland.

Later het koning Frederick II van Pruise regulasies ingestel wat boere gedwing het om aartappels te kweek en hy het die steggies aan hulle voorsien. In Frankryk is die kweek van aartappels in 1748 verbied, omdat daar geglo is dat dit onder meer melaatsheid veroorsaak. Dié wet het tot 1772 gegeld.


Só maak ’n mens ‘aligot’
Foto: atmedia.imgix.net

Toe Antoine-Augustin in 1763 in Parys teruggekom het, het hy sy tyd as aartappeleter in die tronk onthou. In 1771 het hy ’n opstelkompetisie, waarin al die beoordelaars vir die aartappel as die beste plaasvervanger vir gewone koekmeel gestem het, gewen.

Hy het in 1772 in ’n kompetisie, geborg deur die Akademie van Besancon, voorgestel dat aartappels as voedingsbron gebruik word vir pasiënte met gastroënteritis en het die prys – namens die aartappel – in 1773 gewen.

Dit is grootliks aan Antoine-Augustin te danke dat die Paryse Fakulteit van Medisyne aartappels in 1772 as eetbaar verklaar het. Tog het weerstand teen aartappels voortgeduur en Antoine-Augustin is daarvan weerhou om sy toetstuin by die Invalides-hospitaal, waar hy ’n apteker was, te gebruik. Dié weerstand het van die godsdienstige gemeenskap, wat die grond besit het, gekom en het uiteindelik na die afskaffing van sy pos by die hospitaal gelei.


Peter Mayle voor sy huis in Frankryk
Foto: (Ian Cook/The LIFE Images Collection/Getty Images)

Toertjies
So het Antoine-Augustin met ’n reeks publisiteittoertjies, waarvoor hy vandag nog onthou word, begin. Hy het menige pronkgeleenthede, waar aartappels prominent uitgestal is, vir bekende persoonlikhede gehou en het ruikers van aartappelbloeisels aan die koning en koningin gegee. Hy het sy aartappelland in die dag deur gewapende wagte laat oppas sodat mense kon dink dit is waardevol, maar het die wagte in die aande onttrek sodat die aartappels gesteel kon word.

Aartappels is eers deur die algemene publiek aanvaar toe ander oeste in 1785 gefaal het en aartappels hongersnood in die noorde van Frankryk verhoed het. In 1789 het Antoine-Augustin ’n verhandeling geskryf wat “in opdrag van die koning” gepubliseer is en daarmee het die eet van aartappels op die vooraand van die Frans Rewolusie koninklike ondersteuning gekry.

Antoine-Augustin is op 13 Desember 1813 in die ouderdom van 76 jaar oorlede. Hy is in die Père Lachaise-begraafplaas in Parys begrawe en sy graf is deur aartappelplante omring.


’n Standbeeld van pelgrims op pad na Santiago de Compostela
Foto: Ben Holbrook, driftwoodjournals.com

Sedert die 1870’s is baie disse wat aartappels bevat, na hom vernoem. ‘Aligot’, met sy broodkrummel-oorsprong in die 12e eeu, is nie een daarvan nie, alhoewel die oorskakeling na aartappels in dié dis aan Antoine-Augustin toegeskryf word.

Daar is verskeie resepte vir dié dis, wat deur Peter Mayle aan die Engelssprekende publiek bekendgestel is. Peter was ’n Britse sakeman wat ’n skrywer geword het en in die 1980’s na die Luberon-distrik in suidelike Frankryk getrek het. Hy het verskeie topverkoper memoires oor sy ondervindings in dié gebied geskryf, beginnende met ‘A year in Provence’.


Antoine-Augustin Parmentier deur François Dumont in 1812
Bron: Wikipedia

‘Aligot’
Peter se resep vir ‘aligot’ vir vier mense is as volg:

Bestanddele: Twee pond aartappels / een pond ‘tome d’Aubrac (’n Franse vars kaas), ’n halwe pond suurroom / een of twee knoffelhuisies / sout en peper na smaak.

‘Larousse Gastronomique’ gee die volgende bestanddele: 1 kg aartappels / 500 g tomme fraîche, Laguiole of Cantal-kaas \ twee knoffelhuisies / 30 g botter / sout en peper na smaak.

Peter se metode: Kook en druk die aartappels fyn. Voeg die kaas en suurroom, knoffel, sout en peper by en roer asof jou lewe daarvan afhang. As jy sukkel om die lepel uit die pot te kry, het jy die resep te lank gekook. Geniet ’n glasie wyn en begin van voor af.

 

© 2025 Die/The Bronberger