Krygsgevangenes lê nou naamloos in hulle grafte Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 22 January 2026 08:00
Untitled Document

Die bronsplaatjies op grafte in die Zonderwater Italiaanse Militêre Begraafplaas is afgesteel en die Italiaanse krygsgevangenes wat in die Tweede Wêreldoorlog in dié interneringskamp gesterf het, lê nou naamloos daar.

Ná verskeie inbrake is die elektriese omheining vernietig, die begraafplaas se kantoor geplunder en die terrein, wat eens goed instandgehou is, is so te sê verlate. Die museum, wat eens die tuiste van die krygsgevangenes se handewerk was, is leeg omdat die items elders veilig gestoor word en die alarmstelsel is, volgens ’n lid van die Zonderwater Oud-Krysgevangenesvereniging, gedeaktiveer.


Zonderwater Italiaanse Militêre Begraafplaas
Foto: Salomi Louw

Dié begraafplaas het tussen 1941 en 1947 die finale rusplek vir 252 Italiaanse krygsgevangenes geword. Vandag is daar, ná ’n herbegrafnis van krygsgevangenes uit die Worcester-begraafplaas, 277 grafte. Die eerste 10 000 krygsgevangenes het in die lente van 1941 vanaf die fronte in Ethiopië (toe nog Abessinië genoem) en Eritrea op Zonderwater aangekom.

Hulle is in tente, wat oorspronklik deur die Unie-troepe gebruik is, gehuisves. Later is die tente deur barakke, wat die Italianers self opgerig het, vervang. Zonderwater-krygsgevangenekamp was die grootste van die 18 Tweede Wêreldoorlogse Italiaanse Krygsgevangenekampe.

Dié kamp is reg langs Cullinan, wat toe ’n spookdorp was, opgerig. Die myn het in 1932 gesluit weens ’n daling in diamanthandel. In 1939 het dit geblyk dat Suid-Afrika aan die Tweede Wêreldoorlog gaan deelneem en die weermag het sy oë op die dorpie Cullinan gehad. Die Premier Diamond Mining Company se eiendom, wat omliggende plase ingesluit het, is aan die regering verhuur. Teen die einde van 1939 het die regering die plaas Zonderwater van die African and European Investment Corporation gekoop om as opleidingsgebied te dien. Mettertyd is dele van ander plase ook gehuur tot omtrent 6 800 morg grond in die Cullinan-gebied in militêre gebruik was.


Die brons naamplaatjies is van die grafte afgesteel
Foto: Salomi Louw

Die bevelvoerder troepe, Premiermyn was aanvanklik in beheer van die Zonderwater-krygsgevangenekamp, maar in 1942 is kolonel Hendrik Frederik Prinsloo as kampkommandant aangestel.

Daar was 14 blokke, elk met vier kampe van 2 000 mans. Elke kamp het 24 barakke met sinkdakke gehad. Dit was ’n ‘dorp’ wat beplan is om 100 000 soldate te huisves en daar was 30 km paaie, menasie-sale, opleidingsentrums, skole, gimnasiums en sportvelde waar groot byeenkomste gehou is.

’n Orkes is in die lewe geroep; daar was mobiele filmteaters en 17 teaters met akteurs en regisseurs, kuns- en handwerkuitstallings, kunsklasse, ’n biblioteek met 10 000 boeke en ’n groot uitstallingsaal waar kunswerke jaarliks tentoongestel is.


Zonderwater 1941 – 1947
Bron: Photothèque CICR

Elke blok het sy eie buitelug altaar en kapel gehad en daar was 20 Italiaanse kapelane. Zonderwater het die grootse militêre hospitaal in Suid-Afrika gehad (met 3 000 beddens) en het uit 150 geboue, elk met 20 beddens, bestaan.

Nie alle krygsgevangenes is met Zonderwater se sluiting op 1 Januarie 1947 dadelik gerepatrieer nie. Baie van hulle is aanvanklik as werkers op plase in die omgewing uitgeplaas en die laastes is eers in 1955 gedemobiliseer.


Ontspanning buite die barakke
Bron: Zonderwater Oud-Krygsgevangenevereniging

’n Groep oud-krygsgevangenes, wat in Suid-Afrika agtergebly het, het besluit om die begraafplaas te onderhou en so is die Zonderwater Oud-Krygsgevangenevereniging in 1965 gestig. Emilio Coccia het in 2000 die voorsitter van dié vereniging geword en daar was tot 2020 finansiële ondersteuning van die Italiaanse regering.

Sedert 2021 word die terrein deur die Suid-Afrikaanse Departement van Korrektiewe Dienste bestuur omdat dit op grond is wat aan dié departement behoort. Livio Spadevecchia, die Italiaanse konsul-generaal, sê dat die Italiaanse konsulaat sedertdien sukkel met instandhouding en sekuriteit op die perseel en dat hulle verskeie versoeke om die begraafplaas se bestuur terug te neem, op niks uitgeloop het nie.

 

© 2025 Die/The Bronberger