Stella en Chaplin se epiese toer bou op bande uit die verlede Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 22 January 2026 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Die eerste suksesvolle motor-toer vanaf Afrika se suidelike tot noordelike punt is presies ’n honderd jaar gelede voltooi toe die egpaar, Chaplin en Stella Court Treatt, op Sondag 24 Januarie 1926 in Kaïro aangekom het.

Die reis het hulle een jaar, vier maande en 11 dae geneem sedert hulle vertrek vanaf Kaapstad op 13 September 1924. Behalwe vir Stella en Chaplin, het die toergeselskap bestaan uit: Stella se broer Errol Hinds; die kinematograaf, Thomas A Glover; Fred C Law as spesiale korrespondent vir die Londense ‘Daily Express’; kaptein FC Blunt en mnr McEleavy, verteenwoordigers van die Crossley Motormaatskappy; en die toergids en tolk, Julius Mapata.


Die Skotse veearts, John Boyd Dunlop, ongeveer 1915
Bron: Wikipedia

Stella Maud was ’n nooi Hinds wat op 11 Maart 1895 op Blaauwbank gebore is. Haar pa, Thomas Charles Hinds, het naby Magaliesburg in die Zuid-Afrikaansche Republiek geboer. Sy het ’n filmmaker, skrywer en avonturier geword en het in 1923, toe sy reeds 28 jaar oud was, met majoor Chaplin Court Treatt, ’n offisier in die Britse Koninklike Vliegkorps, getrou. Chaplin het in Suid-Afrika beland toe hy opmetings gedoen het en lughawens aan die suidelike deel van die Trans-Afrika lugroete gebou het.

Knap ’n jaar ná hulle troue het dié twee op die baanbrekerstoer met twee Crossleys, voertuie wat Chaplin in die Eerste Wêreldoorlog leer ken het, vanaf Kaapstad na Kaïro weggespring. Ná die toer het die egpaar in 1926 na Anglo-Egiptiese Soedan vertrek om ’n dokumentêre film oor die natuurlewe in dié gebied te maak. Hulle het verskeie toere saam onderneem en is iewers in 1935 of 1936 geskei.


John Boyd Dunlop
Bron: Wikipedia

Stella het in 1937 met Robert ‘Bob’ Mosley Yeo getrou. Bob was ’n dokter wat Stella behandel het. Die egpaar het Indië toe getrek, maar het uiteindelik weer na Suid-Afrika teruggekeer. Stella is op 20 Desember 1976 in Johannesburg oorlede en word vandag steeds as die ‘gesig’ van die eerste suksesvolle motorrit deur die kontinent onthou.

Op dié rit het die toergeselskap deeglik besef dat hulle voertuie se bande veel meer as net opgeblaaste rubber is. John Boyd Dunlop, ’n Skotse veearts, is algemeen as die uitvinder van die eerste pneumatiese (met lug gevul) bande erken. Hy het in 1888 so ’n band vir sy seuntjie se driewielfietsie gemaak.


Dunlop se eerste pneumatiese fietsband
Bron: Wikipedia

‘Lugbande’
Dit het later aan die lig gekom dat nog ’n Skot, Robert William Thomson, die eerste pneumatiese band reeds 43 jaar voor John Boyd Dunlop gepatenteer het. Sy sogenaamde ‘lugbande’ het uit ’n hol stuk gevulkaniseerde rubber bestaan wat opgeblaas is en omhul is deur sterk materiaal van leer of seil, wat aan die wiel vasgebout is. Dit het ’n ‘kussing van lug’ tussen die wiel en die grond geskep en het vir ’n baie gemakliker rit gesorg.


Robert William Thomson
Bron: Wikipedia

In Maart 1847 het Robert sy ‘lugbande’ in Londen se Regent Park demonstreer. Dié bande was vir perdewaens en een so ’n stel het vir meer as 1 200 myl sonder enige probleme oorleef. Tog was Robert sy tyd vooruit en die bande is nooit kommersieel geproduseer nie omdat dit te duur was. Die moderne motorkar is nog nie vervaardig nie en mense het toe baie onlangs eers begin fietsry.

Robert is op 29 Junie 1822 in Stonehaven, Skotland as die elfde van twaalf kinders van ’n plaaslike wolfabriekeienaar gebore. Sy familie het groot planne vir hom gehad, maar hy het met Latyn gesukkel en het skool op die ouderdom van 14 jaar verlaat om by sy oom in Charleston in die VSA te gaan bly waar hy as leerling by ’n handelaar gewerk het.


Die skatryk Robert se tuiste, 3 tot 5 Moray Place, in Edinburgh
Bron: Wikipedia

Twee jaar later is hy terug huis toe en ’n plaaslike wewer met ’n goeie kennis van wiskunde het hom gehelp om chemie, elektrisiteit en sterrekunde te bestudeer. Sy pa het vir hom ’n werkswinkel gegee en toe hy 17 jaar oud was, het hy daar begin eksperimenteer. Robert het sy ma se wasmasjien oorgebou sodat nat linne in enige rigting deur die rollers gevoer kon word en het die eerste werkende model van sy elliptiese roterende stoomenjin, wat hy later in sy lewe sou vervolmaak, ook daar gebou.

Daarná het Robert as leerling ingenieur begin werk en later as spoorwegingenieur voor hy sy eie spoorwegkonsultasiemaatskappy gestig het. Hy was 23 jaar oud toe hy sy ‘lugbande’ gepatenteer het.


Robert William Thomson se graf in Edinburgh
Bron: Wikipedia

In 1852 het hy op die eiland Java as ingenieur by ’n suikerplantasie gaan werk en is daar met Clara Hertz, die dogter van ’n diamanthandelaar, getroud. Hulle het twee seuns en twee dogters gehad en die gesin is in 1862 terug Edinburgh toe waar Robert goed geldgemaak het uit sy verskeie uitvindsels en die 14 patente wat op sy naam geregistreer is. Hy is op 8 Maart 1873 in die ouderdom van 50 jaar as ’n skatryk man oorlede.


Charles Goodyear
Bron: Wikipedia; Zeno Fotografie

Dunlop
John Boyd Dunlop het die patent vir sy pneumatiese bande in 1888 geregistreer, maar dit is twee jaar later ongeldig verklaar toe Robert se vorige patent aan die lig gekom het. Dié keer was die tydsberekening vir sulke bande perfek. Baie meer mense het fietsgery en die eerste moderne motorkar – ’n praktiese, bemarkbare voertuig vir alledaagse gebruik – het in 1886 verskyn toe Carl Benz ’n petrolaangedrewe motor vervaardig het waarvan verskeie identiese kopieë gemaak kon word.


Charles Goodyear se graf in New Haven
Bron: Wikipedia

John is op 5 Februarie 1840 op ’n plaas in Dreghorn, Noord-Ayrshire gebore. Sy ma het gesê dat hy twee maande te vroeg gebore is en hy was sy lewe lank oortuig dat sy gesondheid so te sê aan ’n draadjie hang. Tog het hy geen ernstige siektes beleef nie tot hy verkoue gekry het en op
23 Oktober 1921 in die ouderdom van 81 jaar skielik oorlede is.

Hy het veeartsenykunde by die Universiteit van Edinburgh studeer en het in 1871 met Margaret Stevenson getrou. Hulle het ’n dogter en seun gehad en het in 1876 Ierland toe getrek, waar John die grootste deel van sy loopbaan deurgebring het. Hy het die Downe Veeartskliniek in Downpatrick saam met sy broer, James, gestig voor hy Belfast toe getrek het waar hy een van die grootste praktyke in Ierland gehad het.


Robert William Thomson se ‘lugwiel’
Bron: hemmings.com

Die bande wat hy vir sy seuntjie se driewiel ontwerp het, is kommersieel in Skotland vervaardig. ’n Fietsryer wat sy bande gebruik het, het alle fietswedrenne begin wen en dit het die aandag van Harvey Du Cros getrek, wat toe saam met John ’n maatskappy op die been gebring het.

In 1892 het John by sy veeartskliniek afgetree en Dublin toe getrek waar hy en Harvey ’n Dublin-gelyste maatskappy oorgeneem het en as die Pneumatic Tyre and Booth’s Cycle Agency herdoop het. John het sy aandeel in die maatskappy in 1895 verkoop en het daarna geen verdere belangstelling in bande of die rubberbedryf gehad nie. Sy blywende sakebelang was ’n plaaslike gordynemaatskappy en hy het glad nie ’n fortuin uit sy uitvindsel gemaak nie.


Stella Maud Court Treatt in 1924, gereed vir die ekspedisie van Kaapstad tot Kaïro
Bron: Wikipedia

Harvey het die fietsbande-maatskappy in 1896 vir £3 miljoen aan Britse finansier, Terah Hooley, verkoop. Terah het die maatskappy vir £5 miljoen verkoop. Vroeg in die 20ste eeu is dit na Dunlop Rubber herdoop en die Dunlop-handelsmerk leef vandag steeds voort.


Een van die Crossleys waarmee die rit vanaf Kaapstad na Kaïro afgelê is
Bron: londoncapetownrally.com

Goodyear
Robert William Thomson en John Boyd Dunlop sou nie die pneumatiese bande kon ontwikkel het as dit nie vir Charles Goodyear was nie. Die grootste stap vooruit vir rubber was Charles se ontdekking van vulkanisering in 1839 – gepatenteer in 1844.

Vulkanisering is die chemiese proses wat rou, kleefagtige en onstabiele natuurlike rubber in ’n duursame, elastiese en hittebestande materiaal verander. Sonder vulkanisering sou bande in die somer op die paaie gesmelt het en in die winter soos keramiek gekraak het.


Só is die Crossley oor die Naamrivier
Bron: crossley-motors.org.uk

Charles is op 29 Desember 1800 in New Haven, Connecticut, VSA as die oudste van ses kinders gebore. Hy het sy huis in 1817 verlaat om meer oor die hardeware-bedryf in Philadelphia te gaan leer. Daar het hy gewerk tot hy 25 jaar oud was en het toe teruggekeer na Connecticut, waar hy ’n vennoot in sy pa se onderneming geword het. Hulle het ivoor- en metaalknope en ’n verskeidenheid landbouaanvullings vervaardig.

Charles het op 3 Augustus 1824 met Clarissa Beecher getrou en twee jaar later het hulle Philadelphia toe getrek waar hy ’n hardewarewinkel oopgemaak het. Sy spesialiteit was die vervaardiging van landbou-implemente. Dié onderneming was suksesvol, maar tussen 1829 en 1830 het sy gesondheid ’n knou gekry en dit het sleg begin gaan met die onderneming, wat uiteindelik gefaal het.

Tussen 1831 en 1832 het Charles van sogenaamde gom-rubber (natuurlike rubber) gehoor. Hy het navorsing daaroor begin doen en het die Rodbury Rubber-maatskappy in New York besoek met rubberbuise wat hy gemaak het. Toe hy terugkom in Philadelphia het ’n skuldeiser hom in hegtenis laat neem en Charles is tronk toe.


Die Crossley was die eerste motor om die Bahr el Arab oor te steek
Bron: crossley-motors.org.uk

Tronk
Dit is in die tronk waar hy met Indiese rubber begin eksperimenteer het. Ná hy uit die tronk is, het vriende hom gehelp om aan sy uitvindsels in New Haven te werk. Die eerste ding wat hy gemaak het, was rubberskoene en hy het met die hulp van sy vrou en kinders van die huis af gewerk.

Charles het sy meubels verkoop, sy gesin in ’n losieshuis gesit en is New York toe waar hy in ’n vriendelike apteker se solder eksperimenteer het. Dit het al hoe slegter met sy gesin gegaan; hulle moes paddas vang om te eet en twee van sy seuntjies is as kleuters dood. Tog het sy vrou hom aanhou ondersteun.


Majoor Chaplin Court Treatt en sy vrou Stella
Bron: crossley-motors.org.uk

Blootstelling aan skadelike chemikalieë het sy gesondheid nog ’n knou gegee en een keer het hy amper versmoor toe giftige gasse die resultaat van ’n eksperiment was. Hy het ’n sakevennoot gekry, ’n fabriek gebou en rubber-goedere begin vervaardig. Later was daar nog ’n fabriek in Staten-eiland waar hy weer vir sy gesin ’n huis kon gee. Net toe dinge begin goedgaan, het die paniek van 1837 uitgebreek en Charles is weer pennieloos gelaat.

Sy volgende skuif was om Boston toe te trek waar J Haskins van die Roxbury Rubber-maatskappy vir hom geld geleen het. Nog ’n vriend was ’n mnr Chaffee wat hom gehelp het om probleme met vulkanisering aan te spreek.

Charles het ’n patent vir rubberskoene ontvang wat hy aan die Providence-maatskappy in Rhode-eiland verkoop het. Van 1834 tot 1839 het Charles op enige plek waar hy beleggers kon vind, gewerk. Hy het in 1839 by die Eagle India Rubber-maatskappy in Woburn, Massachusetts gewerk toe hy die proses van vulkanisering onder die knie gekry het.


Die twee Crossleys toe hulle nog nuut was by die fabriek in Manchester
Bron: crossley-motors.org.uk

Die werk om dié uitvindsel prakties toepasbaar te maak het voortgeduur en in 1844 is die proses vervolmaak: Charles het VSA patentnommer 3633 ontvang.

Hy is op 1 Julie 1860 in die ouderdom van 59 jaar dood toe hy New York toe is om sy sterwende dogter te besoek. Sy was reeds oorlede toe hy daar aankom. Hy het ineengestort en is in die Fifth Avenue Hotel oorlede.

In 1898, bykans vier dekades ná sy dood, is die Goodyear Tire & Rubber-maatskappy deur Frank Seiberling gestig en na Charles vernoem.

 

© 2025 Die/The Bronberger