|
Die sewende wettige, werkende replika van die kanon Grietjie wys vir besoekers by die Voortrekkermonument wat Grietjie op 16 Desember 1838 by Bloedrivier gedoen het.
Die oorspronklike Grietjie staan vandag in die Senotaafsaal van dié monument en haar verhaal is een van oorlewing en vryheid – van vyandige aanvalle in die binneland, die Groot Trek, die Slag van Bloedrivier en selfs die Eerste Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881.
 Lede van die ZAR Kanonniersvereniging en helpers bou die onderstel van Grietjie se replika Foto: Ziets Fourie
Sy is skaars ’n halwe meter lank, ’n vierponder wat 2,3 kg se skrootyster op ’n slag kon afvuur. Ironies genoeg is sy ’n Engelse skeepskanonnetjie uit omstreeks 1800 met die Britse ‘F’ steeds op haar hef.
Kanon Grietjie het aan Gerrit Maritz behoort en het in die Groot Trek saam met die Voortrekkers die binneland ingetrek. In 1839, met die afhandeling van Gerrit se boedel, is Grietjie op 120 riksdaalders gewaardeer – ’n stewige bedrag vir só ’n buksie.
 Daar word fyn gemeet om die sewende kanon Grietjie-replika te bou Foto: Ziets Fourie
Die ZAR Kanonniersvereniging het die projek om Grietjie se sewende replika te bou, met trots aangepak. Die loop, wat die nommer sewe dra, is eers in Johannesburg gegiet en toe na Witbank vervoer waar Johan Greyling, ’n geweersmid en voorsitter van die vereniging, die loop geboor en afgewerk het.
Die onderstel is deur Ziets Fourie, ondervoorsitter van die vereniging, uit dennehout en verouderde dwarslêerhout gebou. Grietjie se wiele is deur professor Erik Holm, meester ossewabouer en -restoureerder, van bloekomhout gemaak.
 Die oorspronklike Grietjie in die Senotaafsaal Foto: Du Preez de Villiers
Op 5 Desember verlede jaar het die manne van die vereniging besluit dat dit tyd vir die druktoets was. Die buskruit is volgens die oorspronklike resep deur die Suid-Afrikaanse Swartkruitvereniging vervaardig. Die meelsakkie word presies geknip en die stokke, vuurpen en veiligheidsprosedures word volgens tradisie, streng gereguleer.
Dié nuwe replika het op 9 Desember haar eerste skoot afgevuur en is op 10 Desember saam met ’n stel kanonstokke en ’n Familiebybel amptelik aan die Kultuurtuiste by die Voortrekkermonument oorhandig.
 Dr Des Sinclair, ’n Nieu-Seelander en eienaar van ’n Voortrekker-museum in Roodeplaat; Ziets Fourie, ondervoorsitter van die ZAR Kanonniersvereniging; Dicks Dietrichsen, inwoner van Buffelsdrift; en Klaas Prinsloo van die Witkruismonument Foto: Du Preez de Villiers
|