|
Onthou jy die dae, lank, lank gelede, toe almal dadelik op aandag gespring het met die aanhef van die volkslied? Maak nie saak waarmee jy besig was nie, as ‘Die Stem’ iewers binne jou hoorafstand gespeel of gesing word, dan staan jy op en jy staan stil tot dit klaar is. Dit laat my dink aan ’n storie wat ou Hannes Celliers uit sy kinderjare op ’n Vrystaatse dorpie vertel.
Dit was een mooi Sondagmore, vertel ou Hannes, dat die koster Oudominee erg ontstig het. Die orrelis het nie opgedaag nie, kom kondig hy in die konsistorie aan.
“Maar toe maar, Dominee,” sê hy, “hy het ’n plaasvervanger gestuur.”
Dit stel Oudominee glad nie tevrede nie, want hy het dié more ’n verskriklike probleem. Die herstelwerk aan die kerkgebou se dak het veel meer gekos as waarvoor die kerkraad begroot het. Oudominee wikkel met sy ronde lyfie die treetjies op na die orrelgalery. Bo steek hy eers vervaard vas, want voor die orrel sit ’n vrou.
“Suster,” sê hy nadat hy tot verhaal gekom het, “ek moet vanmore ’n gewigtige aankondiging oor die kerkraad se geldsake doen. Jy moet solank begin dink watter stuk jy daarna gaan speel.” Na afloop van sy preek maak hy hard keel skoon en sê, “Liewe gemeente, ek het vanmore ’n moeilike aankondiging om te doen. Die herstelwerk aan ons kerk het duisend pond meer gekos as waarvoor ons geld het. Ek wil vra dat elkeen wat dit in sy hart kan vind om tien pond daarvoor by te dra nou sal opstaan . . .”
Dis op daardie oomblik dat die plaasvervanger-orrelis lostrek met “Uit die blou van onse hemel.” En dit is hoe dit gekom het dat die plaasvervanger die permanente orrelis geword het. – Gerhard Kleijn, Februarie 2009.
Hy klap net as dit stil is Vreeslik, dié ding dat die malariamuskiete mense deesdae sommer net hier agter die berg in die groot dorp bykom, sê Gert Mossie. Hy was nog nooit baie seker of ’n muskiet ’n mens byt en of die verpesting jou steek nie, sê Gert.
Hy dink, sê Groot Piet, ’n malariamuskiet byt jou eers en dan steek hy jou – aan. Maar een ding wat seker is, sê Piet, is dat die muskiete vanjaar hier in Bronbergwêreld soos nooit vantevore nie in hulle dermiljoene uitgebroei het. Erger as die hoeveelste plaag van Egipteland, sê Piet.
Ou Buks los die greep wat hy op sy glas met koue bruisdrankie gehad het net vir ’n oomblik en lig sy voorarm, amper soos met ’n wit-mag-saluut, om te wys hoe die muskiete hom gepiets het.
Nou lees hy iewers, sê Buks, die slim ouens het vasgestel dat dit nie die muskiete is wat raas, wat jou byt nie. Nee, dis dié wat geluidloos vir hulle bloedmaal naderstaan, wat jou so leegsuig. Vandat hy hierdie brokkie aardskuddende inligting gekry het, klap hy net as hy niks hoor nie, sê Buks. Dit lyk hom dit werk nogal, want die goed byt hom nie meer om die ore nie, maar hy slaap nie veel nie, sê hy.
Hy sal maar sy apteker vir ’n pilletjie moet loop vra. Een wat ’n ou so in die klap aan die slaap kan hou. Hy en sy apteker is op baie goeie voet, sê Buks. In sy goeie ou jongdae het hy die meeste van sy kruideniersware by die bottelstoor gekoop, maar deesdae koop hy die meeste van sy kruideniersware by die apteek, sê Buks. – Gerhard Kleijn, Februarie 2012.
|