|
In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Wortels was nie altyd oranje nie. Hulle was pers, swart, rooi, geel en wit en dit is eers toe Hollandse boere in die 17de eeu met kruisteling begin het, dat die oranje kleur na vore gekom het. Die Huis van Oranje, die Hollandse koningshuis, het die oranje wortel as simbool van nasionale trots aangeneem.
 Koperpenniewortelslaai Bron: lekkerreseptevirdiejongergeslag.blogspot.com
Dié is nie die enigste koninklikes wat wortels belangrik geag het nie. In antieke Egipte is wortels in die grafkelders van oorlede farao’s geplaas en afbeeldings van worteloestyd en -verwerking word in hiëroglief-skilderye gevind. Die Egiptenare het pers wortels verbou waarvan hulle ook medisyne gemaak het.
Die storie van wortels begin in Persië, wat die hedendaagse Iran en Afghanistan is. Die eerste bewyse van wortelverbouing dateer uit 3 000 v.C. Die wilde wortels, Daucus carota, was tipies pers aan die buitekant, wit aan die binnekant en het ’n houtagtige tekstuur en bitter smaak gehad.
 Gebottelde koperpenniewortelslaai Bron: Annelore Von Solms Joubert
Wortels is aanvanklik verbou omdat hulle sade en blare gebruik is. Die ondergrondse dele is nie geëet nie, maar as medisyne vir allerhande kwale, veral spysverteringsprobleme, gebruik. Wortelsaad is met karavane na aangrensende Arabiese-, Afrika- en Asiatiese lande vervoer.
Rondom 900 n.C. het wortelverbouing in verskeie streke van Asië begin. Teen die tiende eeu het wortels hulle pad na Europa gevind met handelsroetes wat Asië, die Midde-Ooste en Mediterreense streke verbind het.
 Die verskillende kleure wortels Bron: Agricultural Research Service; United States Department of Agriculture
In die 1600’s is wortels na die Nuwe Wêreld verskeep – na Australië, die Verenigde State van Amerika en Brasilië was die eerste Suid-Amerikaanse land wat wortels in die middel van die 1600’s begin kweek het. Dit blyk uit ’n lang brief wat Jan van Riebeeck op 5 Maart 1659 geskryf het, dat geel-, oranje- en witwortels onder die groente was wat aan skepe voorsien is.
In ‘Die geskiedenis van Boerekos, 1652 – 1806’ skryf Hester Wilhelmina Claassens dat Jan van Riebeeck nog na ‘de geele wortelen’ verwys het. Otto Mentzel, wat tussen 1733 en 1741 aan die Kaap was, het genoem dat daar geel- en oranjewortels was en dat laasgenoemde soort soeter as die geel variëteit was.
 ’n Bos wortels soos ons dit vandag ken Bron: Evan-Amos; Wikipedia
Mentzel was ’n Duitssprekende wat in 1733 as soldaat na die Kaap gekom het, maar toe ’n onderwyser geword het. Sy boek oor die Kaap, vertaal as ‘A geographical and topographical description of the Cape of Good Hope’, is bykans veertig jaar ná hy daar weg is eers gepubliseer.
Hester skryf dat Kaapse resepte, soos wortels of patats wat soet of sout gekook kon word, bloot ’n navolging van die Romeinse en Arabiese kulture was wat reeds sedert Van Riebeeck se tyd hier in gebruik was.
 Pers wortels by ’n Arabiese mark Bron: Semih Tütünsatar
Witwortels, wat teen die tweede helfte van die 20ste eeu in baie Afrikanerhuise ’n vreemde kos geword het, was in die 17de en 18de eeu net so gewild as geelwortels. Alle soorte wortels is soos aartappels fyngemaak, saam met rape of aartappels gestowe, in bredies en sop gebruik of in koekies, soos pampoenkoekies, verwerk.
 ’n Samestelling van vier generasies van Prinse van Oranje: Willem I (in dié rol 1544–1584); Maurits (1618–1625); Frederik Hendrik (1625–1647); Willem II (1647–1650), Willem III (1650–1702) Bron: www.rijksmuseum.nl
In mevrou DJH se ‘Oranje kook-, koek- en recepten-boek’ van 1906, is daar nog ’n resep vir “Geel Wortel Marmelade” wat deur die Arabiere in die 13de eeu berei is. ’n Ou bekende in Afrikanerhuise was ’n gerasperde wortelslaai met lemoensap, heuning en rosyne. In ‘The Oxford companion to food’ skryf Alan Davidson dat dié slaai deur Marokkaanse Jode na Israel geneem is.
 ‘Wortelskil’ deur Gerrit Dou, 1660 Bron: Wikimedia
Koperpenniewortelslaai
Ons gee ’n resep vir koperpenniewortelslaai uit ‘Lekker resepte vir die jonger geslag’.
Bestanddele 1 kg wortels / 3 uie / 3 groenrissies.
Sous 250 ml water / 1 pakkie tamatie roomsop / 200 ml asyn / 250 ml suiker / 125 ml olie / 10 ml Worcestersous / 7 ml mosterd.
Metode Sny wortels in ringe. Kook wortels 15 minute (nie te sag nie). Sny uie in ringe en kook. Sny groenrissies in blokkies. Pak wortels, uie en groenrissies in lae in ’n bak.
Meng al die bestanddele vir die sous saam. Kook drie minute saam. Gooi warm sous oor die wortels. Laat staan in yskas vir ten minste een dag of skep warm in gesteriliseerde flesse en verseël.
 ‘Die groentesmous’ van Willem van Meiris, 1731, in die Walla
|