Ystervarke is nagbesoekers in Cullinanse tuine Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 19 February 2026 08:00
Untitled Document

Ystervarke smul snags in Cullinan se dorpstuine. Twee van hulle word gereeld naby die gholflandgoed in Nuwedorp gesien, terwyl Oudorp se inwoners vertel dat daar onderdeur hekke gegrou word en ystervarkpenne en -mis in tuine gevind word.

Die oopgeskeurde asbliksakke, waarvoor die dorp se blouape en muishonde nog altyd blameer is, kan dalk in sommige gevalle dié ystervarke se werk wees. Hulle vreet wortels, bolle, knolle, boombas, aangeplante gewasse soos aartappels en pampoene, maar knaag graag aan bene om ’n kalsium- en fosfaatwanbalans in die dieet reg te stel.


Twee ystervarke
Foto: Wikipedia; Steven Lek

Daar is ook al gesien dat ystervarke aan karkasse vreet en hulle word gereeld in slagysters, wat met vleis gestel is, gevang. Ystervarke is nie die enigste ‘onwaarskynlike’ karkasvreters nie. In September 2015 het ons berig dat ’n duikerooitjie se gesigsvel deur ’n ystervarkpen deurboor is. Duikers is bekend daarvoor dat hulle van tyd tot tyd insekte, knaagdiere of klein voëltjies vreet en selfs aan karkasse sal vreet. Ons het destyds tong in die kies bespiegel of daar dalk iewers ’n ystervarkkarkas rondgelê het en of die duikertjie dalk te naby aan ’n ystervark in die bosse “ingeduik” het.

Dit is nie waar dat ystervarke penne uitskiet na vyande toe nie. Aan sy stert is daar penne wat hy teen mekaar kan laat vibreer sodat die ritselgeluid as waarskuwing dien wanneer vyande naderkom. As die vyand hom nie aan dié uitgespreide ratelende penne, die ystervark se gegrom en gestamp van pote steur nie, sal hy die aanvaller agteruit bestorm en die tot 40-sentimeter lange penne in die vyand se liggaam agterlaat.


’n Ystervark van agter gesien
Foto: Wikipedia; Tylwyth Eldar

Die swart en wit penne op ’n ystervark se rug is hol en daar is stywe borselstekels, wat met tassintuigselle verbind is, tussen die penne. Sy kop en nek is met dik, harde hare bedek wat ’n soort maanhaar-kuif vorm wat hy slegs lig as hy geskrik het of kwaad is.

Die ystervark, Hystrix africaeaustralis, is die grootste knaagdier in Suid-Afrika met ’n lengte van 75–100 cm, ’n stert van 10–15 cm en ’n massa van 10–24 kg. Hy het ’n breë kop en snoet met klein varkagtige ogies, klein ronde oortjies en kort, dik bene met vreeslike kloue aan sy pote. Die Kaapse, of Suid-Afrikaanse ystervark, is die wêreld se vierde grootste lewende knaagdier.


’n Ystervark se kop
Foto: Wikipedia; Tylwyth Eldar

Ystervarke is snags aktief en lê gewoonlik in die dag in rotsskeure, in tonnels – sy eie of die van ander diere – in grotte, ruig beboste gebiede of selfs in stormwaterslote. Hulle het vaste gewoontes, en een daarvan is om altyd op dieselfde paadjies te loop. Dit is ongelukkig ook hoekom hulle so maklik in slagysters gevang word. Langs ystervarkpaadjies sal ’n mens altyd vlak uitgrawings sien waar hulle agter plantwortels en bolle aan gegrou het.

’n Hele groep ystervarke kan dieselfde skuiling deel, maar hulle soek gewoonlik alleen kos. Tog is dit nie ongewoon om paartjies of familiegroepe saam te sien nie. ’n Ystervark kies net een maat en die paartjie sorg saam vir hulle kleintjies en beskerm hulle gebied ook tesame. Albei merk die gebied, wat tussen 67 en 203 hektaar groot kan wees.


Ystervarke stroop bome se bas
Foto: Wikipedia; JMK

Ystervarke kry meestal een maal ’n jaar in die reënseisoen, tussen Augustus en Maart, kleintjies. Die wyfie is 94 dae lank dragtig en kan een tot vier kleintjies kry. Dié kleintjies kan binne die eerste paar ure na geboorte reeds begin rondbeweeg en hulle weeg 300 tot 440 gram.

Hulle word met sagte penne en snytande gebore en die res van die tande begin ná 14 dae verskyn. Hulle spog met ’n volle stel volwasse tande teen 25 maande. Die kleintjies word ná 100 dae gespeen en bereik volwassenheid teen die einde van hulle eerste jaar.

Ystervarke leef langer as ander knaagdiere en kan tot 20 jaar oud word.


Die duikerooitjie se gesigsvel is deur ’n ystervarkpen deurboor
Foto: Paul Bosman; 2015

 

© 2025 Die/The Bronberger