Groep gestig om kabeldiefstal in reservaat hok te slaan Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 19 February 2026 08:00
Untitled Document

’n Gemeenskapsgroep is gestig om die voortdurende kabeldiefstal by Rietvlei-natuurreservaat hok te slaan. Dié diefstal onderbreek die elektrisiteitstoevoer na die reservaat, wat die boorgate en watersuiweringstelsels beïnvloed.

In ‘Visvrektes wys dat rioolbesoedeling by Rietvleidam toeneem’ in Die Bronberger se Desember-uitgawe het ons berig dat adjunk-burgemeester, Eugene Modise, gesê het dat die Rietvlei-watersuiweringsaanleg, wat binne die Rietvlei-natuurreservaat geleë is, tydelik gesluit is weens stygende vlakke van besoedeling.

Hy het gesê dat die situasie vererger word deur vandalisme by die Rietvlei-boorgatstelsel, waar meer as 90% van die elektriese kabels gesteel is, pompe en motors beskadig is en mini-substasies gestroop is.


Die sloot wat gegrou is om by die kabels uit te kom
Foto’s: Bull Security

Werkgroep
Die nuut-gestigte Delmas Kabeldiefstalwerkgroep bestaan uit gemeenskapslede uit die omliggende hoewegebied, die ooste van Pretoria, wyk 91 raadslid, Henning Viljoen, sekuriteitsforums, gemeenskapsorganisasies en private sekuriteitsmaatskappye.

Henning, wat die sameroeper van die werkgroep is, het gesê dat infrastruktuur nie aanhoudend net vervang kan word sonder om veiligheidsaspekte eerste aan te spreek nie. Herstelwerk is nie ’n oplossing as die kabels ’n paar weke later weer gesteel word nie.

Henning sê dat die werkgroep ’n vier-fase plan voorstel om langtermyn infrastruktuur-beskerming te bevorder.

Eerste fase
Die eerste fase, wat na verwagting in Februarie afskop, fokus op die versameling van akkurate inligting oor die omvang van die diefstal en kwesbare infrastruktuur. Dit behels die kartering van hoë-risiko kabelroetes, die samestelling van insidentverslae en die opstel van ’n sentrale databasis om patrone en gevaarpunte te identifiseer.

Tweede fase
Die tweede fase fokus op die versterking van sekuriteitsmaatreëls om verdere diefstal te voorkom. Voorstelle sluit in die hersiening van sekuriteitsontplooiing, die daarstel van onvoorspelbare patrolliepatrone en hommeltuigtoesig oor hoë-risiko gedeeltes.


Die twee verdagtes wat by Rietvlei-natuurreservaat aangekeer is

Derde fase
Die derde fase sal op die beskerming van kritiese installasies, soos lae-spanning kabels, boorgatkragtoevoer en die watersuiweringstelsel fokus deur kabels te skuif, te bepantser of dieper te begrawe. Die groep beplan om met Rand Water te onderhandel oor befondsing vir sekuriteit en infrastruktuurbeskerming.

Vierde fase
Die finale fase behels die herstel van dienste, insluitende die vervanging van gesteelde kabels, die volle herstel van kragtoevoer en die inwerkingstelling van boorgate en watersuiweringstelsels.

Heterdaad
Woordvoerder vir Bull Security, French Jooste, het gesê dat twee verdagtes op 27 Januarie binne-in Rietvlei-natuurreservaat in hegtenis geneem is ná hulle op heterdaad betrap is. Hulle was besig om slote uit te grawe en kabels te knip. Die verdagtes het probeer vlug, maar sekuriteitspersoneel het oor moeilike terrein agter hulle aangehardloop. Albei verdagtes is aan die polisie oorhandig.

French het gesê dat die samewerking van die gemeenskap en sekuriteitspersoneel noodsaaklik is om infrastruktuur-verwante misdaad hok te slaan.

 

 

© 2025 Die/The Bronberger