|
Esmé Meyer van Murrayfield: Vandag moet ek net dankie sê vir al die wonderlike adverteerders in die Bronnie. Ek sê dit weens my persoonlike en net ál meer toenemende reaksie op driekwart van alle advertensies op sosiale media, en veral so op die omgewingsgroepe.
Al hoe meer mense adverteer enige ‘besigheid’ of diens. ’n Mens weet tye is moeilik en daar is moontlik gawe aanbiedinge om dalk op te volg. Ongelukkig is daar soveel mense wat daagliks erge bloutjies loop. Sodra iemand dit uitwys, is daar talle ander slagoffers wat dieselfde ervaring rapporteer.
Op Facebook beleef ek telkens dat die advertensie wat jou aandag dalk op die oomblik trek, sodra dit wegskuif, vergete en onder rye nuwe advertensies begrawe is. ’n Mens bereik dikwels ook binne minute ’n versadigingspunt of selfs aversie om so deur alles te bly voortrol. Dit het moontlik ook te doen met die onderliggende wantroue in alles wat ’n mens daar sien.
Bronnie advertensies daarenteen bedien nie net die direkte lesers nie; ek self het al telkemale mense met opgewondenheid van ondernemings vertel omdat die advertensies ’n mens so bybly.
Dankie dus aan al die adverteerders wat die Bronnie so sonder ophou bly stuur na soveel uithoeke, waar eksemplare nie asblikke sien nie, maar in huise bewaar word of weens die waarde van sy inhoud met vriende of familie gedeel word.
Die wedersydse vertroue tussen die Bronnie en adverteerders is ’n spesiale band en ons is die uiters waarderende lesers, wat asseblief nooit Bronnieloos die lewe wil ingaan nie!
|