|
Die mossie is seker een van die mees algemene voëls in die Bronberg-omgewing. Min mense maak egter onderskeid tussen die drie soorte mossies wat hier voorkom en weet nie dat hulle nie almal inheemse voëls is nie.
 ’n Gewone mossiemannetjie, links, en wyfie, regs Foto: Derek Keats, Wikipedia
Gewone mossie Die gewone mossie, Passer melanurus, is eie aan Suidelike Afrika. Die mannetjie kan maklik uitgeken word aan ’n breë wit ‘C’ vorm, wat van agter sy oog tot sy agterkop loop en afgaan tot die boonste deel van sy bors. Sy Engelse naam is Cape Sparrow en die C vir “Cape” help ’n mens om te onthou wie hy is.
Die mannetjie het ’n swart kop en keel en is swart aan die bokant van sy bors. Dit lyk asof hy ’n swart borslap dra. Die wyfie het ’n soortgelyke patroon, maar haar agtergrondkleur is grys en die wit ‘C’ is wit-grys.
Die mannetjie se snawel is swart in die broeityd en die wyfie s’n donker grys. Die bene en voete is bruin en die mossie is tussen 14 en 16 cm lank en weeg 22–36 gram. Die rug, mantel en skouer gedeeltes van die vlerk is ’n helder rooibruin kleur met ’n breë wit streep op die vlerk. Die hoof vliegvere is donkergrys met witterige punte.
Die gewone mossie is tuis in droë doringveld, die hoëveldse landbougebied, semi-woestyn en Karoostreke. Hy het ook aangepas by mense en is ’n ou bekende by opstalle en in voorstedelike tuine.
Dié mossies word gewoonlik in paartjies of klein groepies gesien, maar vorm groot swerms in die winter. Hulle spandeer die meeste van hulle tyd op die grond waar hulle rondhop om kos te soek. Die gewone mossie vreet meestal saad, maar sal ook insekte en vrugtebloeisels vreet en is ’n gereelde besoeker by voerplekke.
Hulle broei dwarsdeur die jaar en die nessie is ’n groot, deurmekaar, hol bal van gras, onkruid, vere, toutjies, stukkies lap en ander sagte materiaal. Die nes het ’n sy-ingang en is gewoonlik in ’n boom of groot struik.
 ’n Huismossiemannetjie Foto: Wikipedia
Huismossie Die huismossie, Passer domesticus, is ’n indringer uit Europa en Asië, wat in die 1890’s in Durban en om en by 1930 in Oos-Londen vrygelaat is en sedertdien regoor die land tot so ver as Angola, Zambië en Malawi versprei het.
Huismossies het vanuit die beboste steppe van Voor-Asië en die tropiese gebiede van Afrika oor die oostelike deel van die Middellandse See versprei, en het saam met die mens oor feitlik die hele Europa getrek sodat ’n aantal subspesies ontstaan het. Hulle is ook in die Verenigde State van Amerika en Australië ingevoer. In Suid-Amerika en Nieu-Seeland is hulle ingevoer met die hoop om ’n ruspeplaag te beheer.
Hulle sal maklik ’n ander voël se nessie oorneem deur die inwoner uit te skop. Dié mossies broei dwarsdeur die jaar en die nessie is soortgelyk aan dié van die gewone mossie. Die verskil is dat hulle die nessie teen huise bou – gewoonlik onder ’n dak.
 ’n Huismossiewyfie Foto: Wikipedia
Die huismossie, soms die dakmossie genoem, is teen 14 cm en 22–30 gram, ’n bietjie kleiner as die gewone mossie. Hulle snawels is buite broeityd dieselfde kleur as dié van die gewone mossie, maar hulle bene en voete is ’n pienkerige bruin.
Hulle is grootliks bruin met ’n kastaiingbruin nek en ’n swart keel, terwyl die punt van die kop grys is. Die wyfie se rug en vlerke is dofbruin en haar pens en bors vuilwit. Beide mannetjies en wyfies het ’n witterige streep oor die vlerk.
Huismossies vreet saad, sagte bloeisels, vrugte, insekte, spinnekoppe en enige oorskietkos wat mense vir hulle gee. Hulle bly gewoonlik in kolonies en kom in swerms voor.

Die Suidelike gryskopmossie Foto: Alan Manson, Wikipedia
Gryskopmossie Die gryskopmossie, Passer diffusus, is ’n Afrika-voëltjie wat in Engels as die ‘Southern grey-headed sparrow’ bekendstaan om hom van die gryskopmossies wat meer noordwaarts in tropiese Afrika voorkom, te onderskei.
Hy is omtrent so groot soos die gewone mossie met ’n soortgelyke snawel. Anders as die meeste ander mossies, lyk die mannetjie en wyfie eenders. Dié mossie het glad nie ’n borslap nie. Sy kop is grys en die rug, vlerke, lyf en stert is rooibruin met ’n swarterige kleur aan die binnekant van die vlerkvere en stert. Daar is ’n kort wit streep op die vlerk en sy onderkant is grys wat afskaal tot wit op die maag.
Die gryskopmossie kan in verskeie habitatte oorleef – van droë akasia grasveld tot bosagtige omgewings en landbougrond. Hy kom nie sommer in stede voor nie, maar sal soms voorstedelike tuine besoek.
Hulle word gewoonlik in paartjies of in klein groepies gesien en op die grond skuifel hulle eerder as om soos die gewone mossie te hop.
Gryskopmossies vreet saad en insekte. Hulle broei van November tot Maart. Die nessie is ’n kussing van gras, wol, hare en vere wat in ’n holte in ’n boom, muur of paal gemaak word. Hulle kan ook onder ’n dak nesmaak.
|