As die wêreld sy agterent draai Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 19 March 2026 08:00
Untitled Document

As die wêreld besluit om sy agterent op jou te draai, dan doen hy dit ordentlik. Dit is ’n waarheid waarmee ou Tol Pieterse daar van Albastergat se omgewing toentertyd behoorlik te doen gekry het. Ou Tol se storie was destyds tot in die koerant – kompleet met ’n kiekie van ’n treurige Tol in sy hospitaalbed.

Die ding het begin met die Departement van Landbou se plan om klaar te speel met die swetterjoel rooibekvinke wat die jaar se oes so verrinneweer het. Wolk op wolk van die verpestinkies het soos die elfde plaag op die gebied toegesak. Waar so wolk gaan sit, is dit kaal gestroop teen die tyd as hy weer opstyg.

So het die departement toe in sy wysheid besluit die goed moet met gif bespuit word – met ’n vliegtuig uit die lug uit. Tol se joppie was om mooi te kyk waar die vinke skemeraand op sy plaas in die bome tot ruste kom. Daarna het hy die gebied waar die spuitvliegtuig sy dodelike vrag moet los mooi netjies met lanterns afgebaken.

Die aand van die groot aanslag het aangebreek en alles het voor die wind geloop totdat die vlieënier nie sy spuitkrane gou genoeg toemaak nie en ou Tol deurdrenk word met die gifstof wat eintlik vir die vinke bedoel is.

Tol skrik hom natuurlik oor ’n boeg en terug. Hy pluk net daar sy skoene en al sy klere uit en suiker kaalbas deur die veld opstal toe. Op pad trap hy op ’n nagadder en die pik hom aan die voet.

Paniekbevange sit Tol ekstra spoed aan. Hy weet hy het nou groot moeilikheid. Gillend en armswaaiend bars hy die plaaswerf binne. ’n Mens kan ook seker nie die boelhond te veel kwalik neem dat hy nie sy baas herken het nie.

Boel sien die kaal, skreeuende gevaarte as ’n besliste bedreiging aan en doen sy waghondwerk deeglik met ’n paar ordentlike happe aan die bene en boude. Maar ou Tol maak dit tot in die voorhuis waar sy vrou die saak een kyk gee en hom dadelik in die bakkie boender – nog net soos toe hy die dag gebore is, behalwe natuurlik vir die wonde.

In haar koorsagtige haas gooi mev. Tol ongelukkig die bakkie by die skerp draai in die gruispad om. Sy is gelukkig ongedeerd, maar ou Tol breek ’n been en ’n arm of twee.

Die koerant het nie gesê hoe ou Tol toe uiteindelik by die hospitaal gekom het nie en of die vinke toe van die gif gevrek het nie. – Gerhard Kleijn, Maart 2006.

 

© 2025 Die/The Bronberger