|
Gerhard van Zyl van Moreletapark: Polley-arkade, die Bronnie Maart 2026, bl 15, voer my gedagtes vol nostalgie terug na Junie 1962 toe ek uit Pofadder (no less!) by Justisie-Opleiding (later kollege) hier in Pretoria aanland. Polley was toe bykans splinternuut, in sy “heyday” en fleur, modern en netjies, ’n aardigheid vir my as bloedjong grootoog plattelander, inderdaad ook vir die ander Pretorianers.
As jy bedags iewers in die middestad of saans by die unieke en luukse Capitol-teater (selfs 20th Century Fox, Opera House of Roxy) was, het jy sommer vir die lekkerte ’n ompad gevat net om deur Polley te loop én daar gesien te word! Alles in die omgewing was mooi en skoon, netjies en sindelik – vooruitgang om elke hoek en draai.
En nou, ses dekades later? Ek was ’n dekade of so gelede weer in daardie omte, nou tussen “fried chickens” en pap, straatmarkte, “fix-it cellphones” en “boom boxes”, leeglêers, bedelaars en lapswaaiers en, les bes, strate en geboue met ander name, orals vullis en gemors, verwaarlosing en agteruitgang, ook Polley-arkade; ’n ontgogeling! Vooruitgang, die reënboog inkluis, in trurat. Sê tog vir ons, hoekom en waarom was en is dit nou regtig nodig en ál keuse?
|