Melgisedek: Van studentelewe tot stedelike klad Print E-mail
News - Artikels
Friday, 17 April 2026 08:00
Untitled Document

Marco Nel het in Maart foto’s by Melgisedek gaan neem en ‘restourasiewerk’ aan die foto’s gedoen om te wys hoe die geboue toentertyd sou gelyk het.

Marco J Nel 

Die naam Melgisedek roep vandag beelde op van ’n plek waar dwelms, misdaad en prostitusie floreer – ’n vervalle kompleks waar haweloses, onwettige immigrante en die samelewing se verstote mense skuiling soek.

Lank voor Melgisedek ’n berugte reputasie gekry het, was dit ’n plek van studie, dissipline en jongmense met drome. Die verhaal van Melgisedek begin meer as ’n eeu gelede. In 1909 is die Pretoria Trades School & Polytechnic gestig, ’n instelling wat later tot die Pretoria Technical College sou ontwikkel. Teen 1918 verrys ’n seunskoshuis op die hoek van Kerk- en Du Toitstraat.


Die leuse op dié embleem beteken: “Deur kennis en arbeid, onder gesag, fokus ons op die eindresultaat.”

In 1927 ontwerp die argitek Gordon E Leith nuwe koshuise vir die kollege. Die geboue, in ’n klassieke styl, wat deur die bekende Herbert Baker beïnvloed is, word in die rustige voorstad Riviera opgerig.


Die hoeksteen

Die Hugenote-inskripsie op die gebou dui op ’n verband met die Huguenot College in Wellington, wat deel van die kerk-gedrewe onderwysnetwerk van die Gereformeerde Kerk was. Dié  instellings was histories sentraal in die opleiding van onderwysers, sendelinge en maatskaplike werkers in Suid-Afrika.

Die dubbel-koppige arend op die gebou, met uitgespreide vlerke en ’n lintinskripsie, simboliseer waaksaamheid, beskerming en intellektuele gesag—’n algemene heraldiese motief in gereformeerde en Europese akademiese kringe aan die begin van die 20ste eeu.


Die ovaalvormige vensters

’n Hoeksteen aan die suidekant van die ou eetsaal lui dat die steen op 25 Augustus 1927 deur die burgemeester van Pretoria, Claudius Marius de Vries (1869 – 1944), gelê is.

Teen 1928 het die hoofgebou van die Pretoria Technical College, ontwerp deur Leith saam met die jong argitek Norman Eaton, verrys. Vir dekades lank was die koshuise deel van ’n lewendige akademiese gemeenskap.

Die eerste groot keerpunt kom in 1986. Die Technikon Pretoria verhuis na ’n nuwe kampus in Pretoria-Wes en die ou koshuise word agtergelaat. Kort daarna neem ’n nie-regeringsorganisasie, die Melgisedek Christian Centre, die terrein oor om dit as skuiling vir armes en haweloses te gebruik.

Stafkwartiere nader aan die suid-westelike hoek van die plein

Die plan was edel, maar met groeiende skuld en beskuldigings van wanadministrasie verval die projek geleidelik. Teen 2009 is die terrein feitlik sonder bestuur gelaat. Dit was die begin van Melgisedek se donkerste hoofstuk. Elektrisiteit en basiese dienste het begin verdwyn. Water en sanitasie het agteruitgegaan. Geboue het verval. Mense wat nêrens anders gehad het om heen te gaan nie, het begin intrek.

In 2026 het ongeveer 450 mense onwettig op die terrein woon. Onder hulle is werksoekers, families, immigrante, mense sonder identiteitsdokumente en persone wat met verslawing of ander sosiale probleme worstel. Baie is deur hulle families verstoot. Ander het eenvoudig geen ander opsie nie.


Oorspronklike foto geneem in Maart, links, en herstruktureerde foto van hoe dit sou gelyk het, regs

In die afwesigheid van formele strukture het inwoners hulle eie orde geskep. Verlate geboue is in skuilings omskep. Vure vir kosmaak en hitte brand in gange en kamers. Dié oorlewingsmetodes het ook hulle tol geëis.

Die geboue, sommige amper ’n eeu oud, is vandag in verskillende stadiums van verval. ’n Brand in 2013, vermoedelik deur ’n gasstoof of verwarmer veroorsaak, het ’n deel van die kompleks vernietig. Nog brande het gevolg.


Die naam op die gebou aan die noordekant van die terrein dui die ingang na Lezard-koshuis aan

Teen 2015 en 2016 verklaar Stad Tshwane die geboue amptelik ongeskik vir menslike bewoning weens strukturele gevare en gesondheidsrisiko’s. Tog het die inwoners gebly. Met taxi-onluste in 2019, toe geweld teen dwelmverslaafdes in die middestad uitgebreek het, het baie mense skuiling op die terrein gesoek. Kort daarna was daar meer as 200 nuwe inwoners.

Toe die Covid-19-inperking in 2020 begin, het baie hulporganisasies hulle werk tydelik gestaak en die aantal inwoners het weer toegeneem. Die kompleks het ’n klein, informele nedersetting geword – ’n plek waar desperaatheid en oorlewing hand aan hand loop.


So sou die vensters eens gelyk het

In 2024 kondig Stad Tshwane die Tshwane volhoubare en beter geboue-program aan – ’n poging om vervalle en onwettig besette geboue in die middestad aan te pak. Melgisedek was bo-aan die lys. Die stad het verklaar dat nalatige eienaars en gebou-kaping sindikate die kwesbaarheid van arm mense uitbuit en dat sulke geboue ’n direkte bedreiging vir menselewens inhou.

Op 2 Februarie 2026 breek nog ’n brand by Melgisedek uit. Vier mense is beseer en hospitaal toe geneem. Die volgende dag het die burgemeester van Tshwane, dr Nasiphi Moya, die terrein besoek. Sy het die kompleks beskryf as ’n stadseiendom wat jare lank leeg gestaan het en uiteindelik ’n toevlugsoord vir honderde haweloses geword het.


’n Lugfoto van die terrein in 1947 toon ’n ovaal binnetuin in die middel van die kompleks. Lezard-koshuis is noord van die tuin met personeelkwartiere in die suidwestelike hoek. Die eetsaal en kombuis is suid van die tuin, regoor die koshuis, met die sportvelde aan die suidoostelike 
kant van die terrein
Foto: Gordon Leigh, Universiteit van Pretoria

Die stad het kort daarna bevestig dat ’n hofbevel aangevra is om inwoners te hervestig en die geboue te sloop. Op 4 Maart 2026 is uitsettingskennisgewings uitgedeel en die sloping van die geboue het begin.

Die stad het beplan om die inwoners in die derde week van Maart na ’n tydelike terrein in Gezina te verskuif, maar teen die Bronnie se saktyd het die hervestiging nog nie gebeur nie weens ’n reeks hofaansoeke en appèlle.

 

© 2025 Die/The Bronberger