|
Angie Kleijn
In die 1870’s en 1880’s was George Pigot Moodie ’n invloedryke man in Pretoria. Hy het skouers geskuur met president Thomas Francois Burgers, vise-president Paul Kruger en generaal Piet Joubert en het uiteindelik skatryk geword uit die 13 plase wat die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se regering vir hom gegee het.
Dié baanbreker, grootwildjagter, handelaar, landmeter, kartograaf, promotor, stadsraadslid, volksraadslid en parlementslid was verwant aan die Moodies wat plase in die destydse Gazaland, die suid-oostelike grensgebied van Rhodesië, gevestig het en wat hulle naam in ons kontrei agtergelaat het.
George Benjamin Dunbar Moodie, ’n raadgewer van die Britse Suid-Afrikaanse Maatskappy, het gereël dat Suid-Afrikaanse boere 3 000 morg elk in Gazaland kry, met die voorwaarde dat die plase dadelik beset moes word.
 George Pigot Moodie (1829 – 1891) Bron: findagrave.com; Cheryl Evans Fromm
Hy was die seun van ons George se broer, William James Dunbar Moodie. Thomas ‘Groot Tom’ Moodie is as trekleier na Gazaland verkies. Sy oupa was kaptein James Benjamin Moodie (ons George se pa, Donald, se broer).
Groot Tom was ’n graanboer uit die Vrystaat, ’n Afrikaanssprekende Skot wat met ’n plaaslike meisie getrou het. Die Moodie-trekkers het op 5 Mei 1892 uit die Vrystaat vertrek. Op hulle roete noord het hulle by die Erasmusse se plaas, waar die Rietvlei-natuurreservaat vandag is, oorgestaan.
Daar het Daniël Elardus Erasmus van die plaas Rietvlej met Groot Tom se dogter, Johanna Maria, getrou. Haar broer, Thomas Dreyer Moodie, is toe met haar man se suster, Susanna Margaretha Erasmus, getroud. Hulle het op Rietfontein, wes van Rietvlej gewoon en die rif op die plaas, Moodie-rif, is na hulle vernoem.
 George se oupa, James Moodie (1757 – 1820) Bron: wikitree.com
Gebore Ons George is meer as 60 jaar voor dié gebeure op 22 Januarie 1829 op Grahamstad gebore. Hy was een van Donald Moodie (seun van James Moodie en Elizabeth Dunbar) en Eliza Sophia (dogter van George Pigot en Elizabeth Tomkinson) se 12 kinders. Donald was ’n Kaapse staatsamptenaar en vanaf Grahamstad het die gesin na Kaapstad getrek, daarna na George in 1842 en na Pietermaritzburg in 1845 waar hy koloniale sekretaris vir Natal was.
 George se broer, John Bell Moodie (1836 – 1876) Bron: wikitree.com
Reeds as jong man het George jagtogte in die ZAR en verder noord onderneem. In 1850 het hy vir John Moreland gehelp met die opmeting van grond vir JC Byrne se Colonial Land and Emigration Company in Natal en in Maart 1864 is hy as Pietermaritzburg se ingenieur-landmeter aangestel.
Teen 1867 was George ’n ZAR-burger. As landmeter het hy generaal Piet Joubert in 1870 bygestaan toe ’n nuwe grens tussen die ZAR en Oranje Vrystaat afgebaken is. Tussen 1870 en 1872 het hy die Wakkerstroom-distrik in die volksraad in Pretoria verteenwoordig.
 George se dogter, Minna Sophia Pigot Moodie (1882 – 1965) Bron: geni.com
Treinroete In 1870 en 1871 het George drie keer na Delagoabaai (Lourenço Marques) gereis om op sy eie onkoste die haalbaarheid van ’n treinspoor tussen Lydenburg en die kus te probeer bepaal. In 1872 het hy ’n plan vir so ’n treinroete aan die ZAR-regering voorgelê en in Maart die volgende jaar het die volksraad vir hom toegewing gegee om ’n spoorlyn van Klipstapel (20 km noord van Ermelo) tot by die Lebomboberge op die grens te bou. Die Portugese toegewing om die spoorlyn verder in Mosambiek te bou, het in 1874 gevolg. Hy het dié toegewing aan president Thomas Francois Burgers afgestaan en het die president, as sy sekretaris, in November 1875 na Lissabon vergesel om ’n amptelike verdrag vir die spoorlyn deur Portugese gebied te onderteken.
 George se ma, Eliza Sophia Pigot (1805 – 1881) Bron: geni.com
In daardie jare het daar niks van dié projek gekom nie. Vir sy moeite is George met ’n blok van 13 onontwikkelde plase in De Kaap-vallei, naby die hedendaagse Barberton, beloon. Dit het later as Moodie se toegewing bekendgestaan. Dit was op dié blok plase waar sy uiteindelike rykdom gelê het
George was sedert 1875 in minerale ontginning betrokke. In 1875 het hy sy “Map of the South African Republic on a large scale including the Diamond Fields and the Tati Gold Fields” gepubliseer, een van die eerste kaarte wat die gebied se minerale rykdom aangedui het.
 George se pa, Donald Moodie (1794 – 1861), Bron: geni.com
In 1876 was hy besturende direkteur van die Nil Desperandum Quarts Crushing Company by Blaauwbank, naby die hedendaagse Carletonville. In 1877 was hy bestuurder van die Lebombo Spoorwegmaatskappy en direkteur vir die maatskappy se aandeelhouers.
 George se suster, Charlotte Mary Green (1832 – 1888) Bron: geni.com
Trou George is op 10 September 1879, toe hy reeds 50 jaar oud was, in Richmond, Surrey, Engeland met Rosa Maria, ’n nooi Spranger, getroud. Sy is op 20 Mei 1850 in Nice, Frankryk as die dogter van dr Stephen Spranger en Rosa Lany Deere, ’n nooi Salmon, gebore.
Hulle het vier kinders gehad: Minna Sophia, gebore op 26 September 1882; Edith Rose, gebore op 29 September 1885; George Frederick Arthur, gebore op 3 November 1888; en Charles Alfred, gebore op 30 Mei 1890 (’n jaar en ’n half voor sy pa se dood).
 George se seun, brigadier George Frederick Arthur Pigot Moodie (1888 – 1959) in die
Eerste Wêreldoorlog Bron: The Royal Scots Dragoon Guards Museum
George was in 1880 in Engeland toe ontevredenheid oor die Britse anneksasie van Transvaal opgebou het. Hy het vir Paul Kruger en Piet Joubert gewaarsku dat hulle diplomatieke sending na die Kaap hoogs waarskynlik nie tot ’n omkering van die anneksasie sal lei nie. Toe die oorlog uitbreek het George by die algemene komitee van die Londen Transvaal-komitee, ’n drukgroep wat die Boere goedgesind was, aangesluit.
 Brigadier George Frederick Arthur Pigot Moodie lei die 1934 werwingsoptog deur Skotland Bron: The Royal Scots Dragoon Guards Museum
Driemanskap Hy was ’n ondersteuner van die Transvaalse Driemanskap, wat gestig is ná alle vreedsame pogings misluk het. By ’n groot volksvergadering op 13 Desember 1880 op Paardekraal is daar besluit om die ZAR-regering in ere te herstel. Ná president Burgers Kaap toe is, was daar geen staatspresident nie en die bestuur is voorlopig aan die Driemanskap opgedra, bestaande uit Paul Kruger, die vise-president, Piet Joubert, die kommandant-generaal, en Marthinus Wessel Pretorius, voormalige staatspresident en voorsitter van die volkskomitee.
George het met die Driemanskap gekommunikeer deur C Borckenhagen, redakteur van ‘De Express’ in Bloemfontein, wat hom as “een vriend van onse saak zooals daar weinig zijn” beskryf het.
 George se seun, Charles Alfred Pigot Moodie (1890 – 1915) Bron: livesofthefirstworldwar.iwm.org.uk
Die ZAR het sy onafhanklikheid onder beperkende voorwaardes by die Pretoriase Konvensie van 3 Augustus 1881 herwin. George was van toe af tot 1884 die ZAR se landmeter-generaal. Daarna het hy weer aan sy droom van ’n Delagoabaai-treinroete begin werk. As landmeter-generaal van die ZAR was hy ’n lid van ’n kommissie wat in Januarie 1882 aangestel is om die konstruksie van ’n treinspoor vanaf Pretoria tot by die Portugese grens te ondersoek. George was ’n voorstander vir die roete wat hy in 1872 voorgestel het. Dié roete sou naby sy blok plase (waar Barberton later gevestig is) verbyloop, maar daar was geen ondersteuning vir sy plan nie en hy het bedank.
 George het dié fontein in 1891 aan die inwoners van Rondebosch geskenk Bron: Memorial Drinking Fountains
Goud Goud is uiteindelik by Pioniersrif op George se grond gevind en vroeg in 1884 was ‘Moodies’ die fokuspunt van die goudstormloop wat na die stigting van Barberton gelei het. In 1892 het hy die blok plase vir prospekteerders oopgestel. Hy het sy staatspos ook bedank en Moodie’s Gold Mining Exploration Company gestig. Moodie’s Golden Hill Goldmining Co en Moodie’s Kentish Quarry Goldmining Co het kort daarna gevolg.
 George Benjamin Dunbar Moodie (1861 – 1897) Bron: Geni.com
Tog het prospekteerders George se goudveld verlaat toe goud in aangrensende gebiede gevind is en dié goudvelde nie, soos George, op hoë tantieme aangedring het nie. George het afgetree en in Pietermaritzburg gaan woon.
Daarna is hy Brittanje toe, maar sy gesondheid was sleg en die klimaat het dit vererger. Hy het sy laaste jare in die Kaap deurgebring en het sy van in 1889, so twee jaar voor sy dood, na Pigot Moodie verander.
 Thomas ‘Groot Tom’ Moodie (1839 – 1894) Bron: Geni.com
Westbrooke George het die ou Westbrooke-landgoed op Rondebosch gekoop en het na bewering £30 000 op restourasie en rekonstruksie spandeer. Westbrooke het later die amptelike woning van die Suid-Afrikaanse staatspresident geword.
George kon dit nie regkry om stil te sit nie en het van 1889 tot 1890 op die Kaapse Wetgewende Raad gedien. Hy is ook tot die stadsraad van die Rondebosch-munisipaliteit verkies en was tot sy dood ’n lid van dié raad.
 Die gedenkplaat by die fontein Bron: Wikimedia
Op 26 September 1891 het hy die gietyster Rondebosch-fontein met ornamentele lantern, wat ’n landmerk op die hoek van Main- en Belmontweg geword het, aan die stad geskenk.
George is op 2 November 1891 in die ouderdom van 62 jaar by Westbrooke oorlede. Sy boedel wys bates van meer as £150 000 in die Kaap, Transvaal, Natal en Engeland. Die fontein wat hy geskenk het is in 1964 tot nasionale monument verklaar en ’n gedenkplaat herinner mense vandag nog aan dié skatryk voormalige inwoner van Westbrooke.
|