|
In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ‘n ou familieresep te stuur saam met ‘n foto van die ma of ouma wat die resep ‘n familiedis gemaak het of ‘n foto van hoe so ‘n dis lyk.
Die eerste opgetekende gebruik van die term ‘Walliese haas of konyn’ (Welsh rabbit) was reeds in 1725 en dit is eers in 1781 wat ‘Welsh rarebit’ in dokumente genoem word. Die oorsprong van die naam was glo ‘n grap omdat dié gebraaide kaasbroodjies glad nie haasvleis bevat nie.
Die grap is volgens oorlewering neerhalend deur die Engelse gebruik. Blykbaar wou die Engelse sê dat die naaste ding aan haasvleis wat ‘n Wallieser kon bekostig, gesmelte kaas op roosterbrood was.
 Só lyk ‘n Walliese haas Foto: Wikipedia
Op dieselfde manier het die Engelse na Walliese kaviaar verwys as hulle praat van “laverbread”, ‘n eetbare seewier, “laver”, wat in Wallis as tradisionele dis bedien word. Hulle het kalfsvleis “Essex leeu” genoem, kippers was “Norfolk kapoen”, aartappels was “Ierse appelkose”, bulle se testikels is “Rocky Mountain oesters” genoem en roereier en ansjovis was “Scotch woodcock”.
 ‘n ‘Bokhaas’ of ‘goue bok’ Foto: Wikipedia
In 1785 het die oudheidkundige, tekenaar en samesteller van ‘n leksikon (woordeboek), Francis Grose, ‘n “Welch rabbit” as ‘n “Welch rare bit” gedefinieer. Hy het ‘A classical dictionary of the vulgar tongue’ in 1785 gepubliseer en ‘A provincial glossary, with a collection of local proverbs, and popular superstitions’ in 1787.
 Die ontdekking van minerale het Walliese mynwerkers na Suid-Afrika laat stroom Foto: Jackie Grobler-versameling; Weet
“Welsh rabbit of rarebit” is waarskynlik aan die Walliesers toegeskryf omdat hulle baie van gebakte of geroosterde kaas (“caws pobi” in hulle taal) hou. Suid-Afrikaners sou dié eetgewoonte gedurende die goudstormloop, leer ken het. Ervare mynwerkers van regoor die wêreld, insluitend groot getalle uit Wallis, het hierheen gestroom.
 Walliese haas met spek by Madame Fromage in Cardiff Bron: Kacie Morgan; ‘The Rare Welsh Bit’
‘n Walliese geoloog, John Davis, was een van die eerstes wat in 1852 goud naby Krugersdorp gevind het, hoewel die trekleier, Louis Trichardt, reeds in 1836 in sy dagboek geskryf het oor die goud wat plaaslike inwoners in die spruite gewas het.
 Walliese haas met ham op borrie-roosterbrood by Broken Dock, Bristol Bron: Kacie Morgan; ‘The Rare Welsh Bit’
Selfs in ons kontrei was daar goud. Kapenaar, Pieter Jacob Marais, het op 8 Oktober 1853 in sy dagboek aangeteken dat hy ‘n bietjie goud in die Jukskeirivier gevind het en ‘goud’ is selfs in 1875 in Pretoria ontdek toe die 14-jarige Bernard Meintjes, seun van JJ Meintjes, Registrateur van Akte, ‘n klippie “met ‘n geel stippel” opgetel het.
 Hannah Glasse se kookboek, ‘The art of cookery’, se 1777 uitgawe Bron: Wikipedia
Die Witwatersrandse ontdekking van goud, wat die meeste Walliesers hierheen gebring het, word amptelik as 1886 gegee. Daar was ook sterk Walliese gemeenskappe in ander goudvelde, soos Pelgrimsrus. Soveel Walliese mynwerkers het by die ‘Transvaal Gold Mining Estates’ gewerk dat Walliese manskore en sokkerklubs gestig is.
 Francis Grose Bron: Gravering deur Francesco Bartolozzi (1787); Wikipedia
Hulle resepte vir die Walliese haas het kaassous, wat bier, mosterd of Worcestershire-sous ingesluit het, versier met rooipeper of paprika op geroosterde brood aangedui. In haar 1747 kookboek, ‘The art of cookery’, skryf Hannah Glasse oor “Scotch rabbit”, “Welsh rabbit” en twee weergawes van “English rabbit”.
 Francis Grose se ‘Antiquities of England and Wales’ Bron: Liam Quin; Wikipedia
Om ‘n Skotse haas te maak, rooster jy die brood aan albei kante, botter dit, sny ‘n stuk kaas, rooster dit aan albei kante en plaas dit op die brood, sê Hannah. Die Walliese haas word op ‘n soortgelyke manier gemaak, maar jy kan mosterd opsmeer. Met die Engelse haas week jy die geroosterde brood eers in rooiwyn en sny daarna kaas oor die brood. Jy sit dié lot in ‘n blik voor die vuur.
 ‘Welsh rabbits’ Bron: beeretseq.com; Oorspronklike in Library of Congress, gedigitiseer deur Internet Archive
In nog ‘n variasie van ‘n Engelse haas uit die 1700’s botter jy ‘n bord, sit die kaas daarop, voeg witwyn by, sit nog ‘n bord bo-oor, en plaas dit vir ‘n paar minute oor warm kole. Roer dan mosterd by, sit dit op die brood en rooster met ‘n warm graaf. Bedien met ‘n eier bo-op en dan word jou Walliese haas ‘n ‘bokhaas’ of ‘goue bok’ genoem. As dit met tamatiesop gemeng word, is dit ‘n blosende konyn.
“Welsh rarebit”
Ons gebruik ‘n resep wat twee mense bedien deur Kacie Morgan van ‘The Rare Welsh Bit’.
Bestanddele: 250 g cheddar kaas / 70 ml bier / 1.5 eetlepel Worcestershire-sous / 20 mg soutlose botter, gesmelt / 1 eetlepel Engelse mosterd of 1 teelepel Engelse mosterdpoeier / 4 dik snye brood.
Metode: Rooster die brood liggies. In ‘n medium-grootte mengbak, meng die gerasperde kaas, bier, botter, Worcestershire-sous en Engelse mosterd. Meng tot dit deeglik gekombineer is.
Smeer ‘n goeie laag van die mengsel oor elke sny roosterbrood en maak seker dit bedek die korsies ook. Plaas elke sny in ‘n bakplaat en sit die plaat direk onder jou oondrooster vir vyf minute of tot goudbruin.
Verwyder uit die oond, sny elke sny in die helfte en bedien warm met ‘n groen slaai of vrugteblatjang. |