|
Die Bronberg word vir miljoene jare reeds bewoon en klipgereedskap, wat meer as twee miljoen jaar oud is, is al in die Bronberg-bewarea gevind. Het die klipstapels, wat op die Bronbergrif in dié bewarea afgeneem is en op hierdie uitgawe se voorblad pryk iets met die oertyd te doen?
Of dateer dit dalk 126 jaar terug en het iets met die Anglo-Boereoorlog te doen? Die Slag van Donkerhoek (Diamond Hill) was van 11 tot 12 Junie 1900 en het op ‘n verdedigingslyn van 40 km, honderde verskansings nagelaat.
 Klipstapels in die Bronberg-bewarea Foto: Hein de Wet
Verskansings wat in oploop na die Slag van Witpoort op 16 Julie 1900 gebou is, is vandag nog op die Bronberg se riwwe vanaf Zwavelpoort en Tierpoort tot by Witpoort te siene. Bevestiging of die skanse aan Boer of Brit behoort het, is in oorblyfsels soos koeëls, helmets, doringdraad, stukke sinkplaat, blikkies en stewels gevind.
Die raaiselagtige klipstapels op die Bronnie se voorblad kom nie uit die Anglo-Boereoorlog of die oertyd nie. Dit het ook niks met die Ndebele-mense, wat in die 1800’s hutte en krale op die Bronbergrif gebou het, te doen nie.
 Klipgepakte sirkelstrukture op die berg in die Bronberg-bewarea Foto: Bronberg Bewarea
Volgens Hein de Wet, wat die voorbladfoto geneem het, is die stapels klip vir klip oor die dekades heen deur ‘n egpaar, wat 60 jaar gelede uit België hierheen getrek het, gepak. Dié egpaar, wat graag anoniem wil bly, het as jongmense hier aangekom en het elke keer as hulle gaan stap het, nog ‘n klip op die stapel gesit. Hulle is vandag in hulle tagtigerjare.
Ander stappers op die Bronbergrif in dié bewarea het al klippe, wat tekens van primitiewe afvlakking uit die Vroeë Steentydperk toon en klip-gereedskap uit die Middel Steentydperk, opgetel. Die Steentydperk strek van ongeveer 2,5 miljoen jaar gelede tot ongeveer 3 500 vC en bestaan uit die Vroeë Steentydperk (Paleolitikum), Middel Steentydperk (Mesolitikum of Epipaleolitikum) en die Laat Steentydperk (Neolitikum).
 Klipstrukture in die bewarea Foto: Bronberg Bewarea
Terreine uit dié tydperke asook die Ystertydperk kom in ons kontrei voor, volgens Anton Carl von Vollenhoven se tesis, genaamd ‘‘n Voorgestelde paradigma vir navorsing op histories-argeologiese erfenishulpbronterreine in Suid-Afrika aan die hand van gevallestudies in noordelike Gauteng’.
Daar word beraam dat die eerste mensgemaakte struktuur ongeveer twee miljoen jaar gelede in Afrika gebou is. Dit het uit eenvoudige rangskikkings van stene, wat takke in sekere posisies moes hou, bestaan. Kringvormige kliprangskikkings van sowat 500 000 jaar oud is ook ontdek.
Anton sê dat twee Vroeë Steentydperkterreine rondom Pretoria bekend is en die een is in ons kontrei: die Vroeë Acheulterrein by die Willem Prinsloo Landboumuseum naby Rayton. Die klipwerktuigkultuur se internasionale benaming, ‘Acheuliese kultuur’, verwys na Saint-Acheul, ‘n dorpie in Frankryk waar soortgelyke werktuie eerste gevind is.
 ‘n Klipstruktuur met ‘n uitsig vanaf die Bronbergrif Foto: Bronberg Bewarea
Volgens Anton se tesis is daar drie terreine uit die Middel Steentydperk, van 200 000 tot 300 000 jaar gelede, rondom Pretoria. Twee daarvan kom in die Bronberg voor.
Uit die Laat Steentydperk, sowat 40 000 jaar gelede, is daar drie terreine rondom Pretoria bekend en verskeie werktuie uit die latere fase is op Donkerhoek en Pienaarspoort opgetel. Steentydperkterreine, waarvan die spesifieke fase nie deur die skrywers aangedui word nie, is by ‘n terrein op Donkerhoek en verskeie plekke op die plaas Zwartkoppies, wat eens aan Sammy Marks behoort het, gevind.
 Klip-gereedskap in die bewarea uit die Middel Steentydperk Foto: Bronberg Bewarea
Suid van die Magaliesberg is die volgende Laat Ystertydperkterreine gevind: ‘n terrein en rotsgravures op Mooiplaats; drie terreine op die plaas Hatherley, wat Alois Hugo Nellmapius eens van Robert Cottle Green gekoop het; verskeie terreine op die buurplaas Zwartkoppies; twee woonterreine en verskeie inisiasieterreine op die Bronberg in Zwavelpoort en Tierpoort.
Klipmure is ook op Hatherley gevind.
|