|
Inwoners van Grootfontein-landgoed op Garstfonteinweg-verlenging sê dat hulle rustige landelike leefwyse deur die oordonderende lawaai van ‘n nuwe kerk bedreig word. Oor die Paasnaweek is ‘n markiestent opgeslaan en ‘n skare mense is met busse aangery.
“Ons het nie ‘n probleem met ‘n kerk nie,” sê ‘n inwoner op die WhatsApp groep, ‘Sinovich Rd Disturbance’, wat ná die voorval gestig is. “Ons het ‘n massiewe probleem met ‘n kerk wat so hard lawaai maak dat die desibelvlakke wat opgeneem is, iets is wat ‘n mens binne-in ‘n propvol Loftus kan verwag.”
Desibel-lesings wat daardie aand op verskeie inwoners se persele gemeet is strek so hoog as 73 desibel, wat beteken dat lesings binne-in die kerk 105 tot 116 desibel kon gewees het. Geraasbesoedeling word beskou as ongevraagde of oordadige klank, tipies hoër as 65 tot 75 desibel, wat ‘n negatiewe impak op mense, diere en die omgewing het.
Inwoners is ook bekommerd oor potensiële sekuriteitsprobleme wanneer soveel vreemdelinge van buite die gebied met busse na die landgoed aangery word. Hulle sê dat hulle graag sal wil hê dat die busse en voertuie binne-in die kerk se perseel moet parkeer en dat gemeentelede nie op die landgoed moet ronddrentel nie.
Raadslid vir wyk 91, Henning Viljoen, het aan Die Bronberger gesê dat die kerk Hope Ministries International is. ‘n Kantoorgebou en die leë erf langsaan is glo deur die kerk aangekoop en die pastoor het aan inwoners gesê dat hulle beplan om ‘n permanente kerk daar te bou. Grootfontein is ’n lae-digtheid landgoedontwikkeling bestaande uit residensiële kleinhoewes.
 Grootfontein-landgoed op Garstfonteinweg-verlenging Foto: Verskaf
Tshwane metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, het bevestig dat Stad Tshwane op 4 April ‘n klagte oor geraasbesoedeling ontvang het en op 10 April ‘n inspeksie van die perseel gaan doen het. Die eiendom se eienaars het aan die stad se omgewingsgesondheidspraktisyn gesê dat hulle nie geweet het dat die Paasdiens die naburige inwoners negatief sal beïnvloed nie. Die praktisyn het vir die eienaars gevra om byeenkomste op die perseel te staak en het gesê dat ‘n formele kennisgewing met dié instruksie uitgereik sou word.
Lindela sê dat die praktisyn die eienaars ingelig het dat hulle verrigtinge oor die Paasnaweek ‘n oortreding van die Gautengse geraasbeheerregulasies was en dat sulke byeenkomste nie onder die eiendom se huidige sonering en munisipale verordenings toegelaat word nie.
Die soneringsertifikaat van die perseel dui gebruiksone 19 (onbepaald) aan met die primêre regte vir landbou, toegangsbeheer, plaaswinkels en tuisondernemings.
Raadslid Henning Viljoen het gesê dat hy en die direktoraat geboubeheer saam met omgewingsgesondheidsamptenare ‘n vergadering met die eienaars van die eiendom gehad het en aan hulle verduidelik het dat ‘n soneringsaansoek vir spesiale gebruik ingedien moet word.
Henning het gesê dat ‘n ‘plek van aanbidding’ een van omtrent 20 kategorieë is wat amptelike toestemming nodig het. Die proses waardeur gegaan moet word is streng en alle faktore, asook inwoners se klagtes, moet in aanmerking geneem word. ‘n Kennisgewing moet op die perseel aangebring word sodat inwoners aan ‘n openbare deelnameproses kan deelneem om hulle opinies te lig.
“Ons wag nog vir hulle amptelike aansoek vir spesiale gebruik,” het Henning teen Die Bronberger se saktyd gesê.
|