Sê jou sê oor Tierpoortse pretpark Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 19 June 2026 12:00
Untitled Document

Die omstrede Tierpoortse pretpark het ’n aansoek vir regstelling van die onwettige aanvang van aktiwiteite op hoewe 42 ingedien. Inwoners het tot 30 Junie kans om die evalueringsverslae onder oë te kry en kommentaar te lewer.

In Augustus 2024 het Die Bronberger berig dat besorgde inwoners van Tierpoort en Bashewa dié ontwikkeling op ’n 8,4 hektaar kleinhoewe, wat in Februarie daardie jaar aan ’n Sjinese onderneming, Ricky Gold Group verkoop is, tot halt wil roep tot hulle bewyse kan sien dat die nodige toestemmings verleen is en ’n openbare deelnameproses voltooi is.

’n Groot kwelling is die impak van ’n pretpark se waterverbruik op grondwater. In dié landelike gebied is die oorgrote meerderheid van inwoners afhanklik van boorgatwater en is daar nie ’n munisipale rioleringstelsel nie.

Ons het berig dat Ricky Gold Group Holdings, Guiming Shi, Quiqiang Shi en Zwengen Shi in ’n beëdigde verklaring ontken het dat hulle ’n waterpark ontwikkel en gesê het dat dit ’n speelpark met tydelike strukture is, soos speelrame wat by feeste opgerig word.

Inwoners was destyds ook besorgd oor die toename in verkeer op Garstfonteinweg-verlenging weens nuwe ontwikkelings soos Mooikloof Slim Stad met sy beoogde 50 000 deeltitel woonstelle.

Die Bronberger het in September 2024 berig dat die hooggeregshof in Pretoria op 29 Augustus 2024 beslis het dat die pretpark-ontwikkeling op daardie kleinhoewe onwettig is, dat dit nie aan die grond se titelakte voldoen nie en binne 60 dae afgebreek moes word.


Só het bouwerk aan die pretpark gelyk voor die hofbevel op 29 Augustus 2024
Foto: Verskaf

Daar is daarna aansoek gedoen vir die hersonering van ’n gedeelte van dié eiendom vanaf ‘onbepaald’ na ‘spesiaal’ vir die doeleinde om ’n toerisme-fasiliteit op ’n deel van die aansoekterrein te vestig.

Intussen het Ricky Gold Group vir Enkanyini Konsultante aangestel om ’n Afdeling 24 G aansoek op te stel om die onwettige aanvang van aktiwiteite aan te spreek. Die doel van die aansoek is om die impak van landskap-bewerkings en strukture of geboue wat naby aan ’n kritiese biodiversiteitsgebied opgerig is te evalueer. Die verwagte impak van ’n voorgestelde toerisme-fasiliteit word ook geëvalueer.

Volgens die aansoek sal die voorgestelde toerisme-fasiliteit uit swembaddens, ’n ontspanningsarea, ’n markgebied, ’n restaurant en toerusting vir vermaak met basiese dienste, insluitende ’n parkeergebied, bestaan.

Die aansoek noem ook dat water vanaf Rand Water en boorgate sal kom. Volgens hoewe-eienaars voorsien Rand Water nie in dié gebied water nie.

Vir meer inligting kontak Enkanyini Konsultante: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Skakel 072-174-9171 of 063-053-4369.

 

© 2025 Die/The Bronberger