|
In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ‘n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ‘n foto van hoe so ‘n dis lyk.
Stormjaers, potperde, maagbomme, stokbrood . . . Dié is alles woorde vir die bekendste kommando-cuisine in die Anglo-Boereoorlog; ’n eenvoudige deeg gemeng met meel, water, bakpoeier of koeksoda, sout en, as dit beskikbaar was, suiker.
Stormjaers is so genoem omdat dit gewoonlik haastig in die veld gemaak moes word, as’t ware so blitsig soos wat stormjaers, wat nes ’n naderende storm op die vyand afjaag, tot ’n geveg sal toetree.
 Stormjaers in die pot by die Oranje Vrijstaat Artillerie Corps (OVSAC) se Anglo-Boereoorlog uitvoeringsgebeurtenis Bron: OVSAC Studie no 14, Jul-Sept 2008
Lepelsvol van dié taai deeg is in ’n driebeenpot kokende olie gegooi. Die stormjaer-vetkoeke sink aanvanklik na die pot se bodem en styg dan stadig weer op en word rond en opgepof wanneer hulle bruiner word. Ná omtrent drie minute kan hulle uit die pot gehaal word, warm geëet word of kon ook weke lank in ’n saalsak of knapsak gebêre word. Potperd is wanneer die deeg soos kluitjies in ’n pot gestoom word.
Dieselfde deeg, maar met minder water, is in blokke gesny en op ’n warm klip langs die vuur gebraai of om ’n stok gedraai. Die klipgebraaide deeg is maagbomme genoem, vandag as roosterkoek of askoek bekend, en die deeg om die stok was ’n stokbrood.
 ’n Groep Boeremagte geniet ’n maaltyd, waarskynlik nog vroeg in die oorlog. Kyk na die driebeenpot in die voorgrond| Bron: OVSAC Studie no 14, Jul-Sept 2008
Vandag word dié eenvoudige styseldisse steeds deur die Oranje Vrijstaat Artillerie Corps (OVSAC), ’n geskiedkundige studie- en uitvoeringsgroep, gemaak. As deel van hulle deurlopende poging om die Anglo-Boereoorlog in die veld te herleef, kyk hulle na interessante en dikwels vergete kosse en maniere van kosmaak in die oorlog.
Dié groep gee ’n basiese resep wat hulle Kommando Stijfdeeg noem – slapper aangemaak vir stormjaers en stywer vir maagbomme. Dit sluit in: 5 koppies koekmeel; 1 teelepel sout; 1½ koppies water; 1 teelepel bakpoeier of koeksoda. Meng die droë bestanddele en knie. Laat staan vir ’n halfuur om te rys.
 Lede van die Hollanderkorps berei ’n ete in die veld voor. Kyk na die verskeidenheid potte Bron: OVSAC Studie no 14, Jul-Sept 2008
Stormjaers het later ’n lekkerny geword en rosyne, korente of vrugtekoekmengsel is bygevoeg. Die warm vetkoek is dan in kaneelsuiker gerol of daar is versiersuiker bo-oor gestrooi. Stormjaers is juis een van die resepte in ‘Hartskombuis: Boerekos van die Anglo-Boereoorlog tot vandag’ wat deur die Oorlogsmuseum saamgestel is. Vicky Heunis, een van die hoofsamestellers van dié resepteboek, het vertel dat daar resepte in is uit boervroue se kombuise asook geregte wat te velde voorberei is.
 Lede van die Vrystaatse artillerie en Duitse vrywilligers. Kyk na die miershoop-oond Bron: OVSAC Studie no 14, Jul-Sept 2008
Toe die oorlog op 11 Oktober 1899 uitgebreek het, was die kommando’s nog goed van voedsel voorsien. Soos die maande verbygegaan het, het kosvoorrade al hoe skaarser begin raak, veral ná die verskroeide-aarde-beleid ingestel is waardeur meer as 30 000 plase vernietig is sodat vrouens nie meer kos aan die kommando’s kon lewer nie.
 Willie Strauss se kleintydse stormjaers Bron: ‘Daar is ’n engel in my koskas’
Vicky het vertel dat die begin van guerrilla-oorlogvoering beteken het dat Boeremagte lig en vinnig moes beweeg. Hulle kon nie meer die swaar gelaaide proviandwaens, wat bewegings belemmer het, saamry nie. Voedselreserwes moes in ’n saalsak kon inpas en stormjaers en biltong was gewild omdat dit nie gou bederf het nie.
In Willie Strauss se kookboek, ‘Daar is ’n engel in my koskas’, gee hy ’n resep vir stormjaers in die afdeling ‘Seëninge van ’n Jewel-stoof’, waar hy kosbare herinneringe deel van sy ma, wat op bakdag in Kenhardt se wêreld “groot gebak het”.
Hy skryf dat hy agtergekom het dat min mense stormjaers vandag nog ken. Sy resep is een wat hy as lekkerny uit sy kinderdae onthou. Hy sê jy kan dié soet vetkoekies net so warm eet of later as dit koud is. Soos die stormjaers ouer word, raak dit al hoe harder en jy kan dit later soos beskuit in jou koffie doop.
 Tinus le Roux se boek, ‘Die Anglo-Boereoorlog in kleur’, wys dié foto van fotograaf Jan van Hoepen, regs, en sy seun met ’n driebeenpot in die voorgrond
Willie se stormjaers
Lewer 12 porsies
Bestanddele: olie vir diepbraai / 3 eiers / 250 ml suiker / 375 ml melk / 875 ml koekmeel / 15 ml bakpoeier / 5 ml fyn kaneel / 5 ml sout / 5 ml fyn gemmer / 2,5 ml vanieljegeursel / 250 ml vrugtekoekmengsel / versiersuiker, om stormjaers in te rol.
Metode: Verhit olie in ’n pan vir diepbraai. Meng die eiers, suiker en melk goed. Sif die droë bestanddele geleidelik by en klop goed saam. Roer die vanieljegeursel en vrugtekoekmengsel by.
Skep teelepels vol van die beslag in die warm olie en braai tot goudbruin. Haal die stormjaers uit die olie en dreineer op kombuispapier. Rol in versiersuiker.
|