|
Die Gautengse provinsiale regering het op 5 Mei ’n nuwe ontwikkelingsplan vir die Dinokeng-Roodeplaatdam-Cullinan-distrik aan 30 afgevaardigdes van ambassades en konsulate bekendgestel.
Dié inligtingsessie is by Kwalata Lodge in die Dinokeng-wildtuin, Gauteng se enigste Groot Vyf-reservaat, gehou. Dinokeng, noord-oos van Pretoria, is in 2011 as deel van ’n openbare-private vennootskap daargestel. Die reservaat is 22 000 hektaar groot en het meer as 80 oornag bestemmings, vanaf luukse verblyf tot tentkampe.
 Dinokeng-wildtuin Foto: Verskaf
Planne is onderweg om Dinokeng-wildtuin tot 40 000 hektaar te vergroot en verskeie grondeienaars en instansies het reeds onderneem om hulle grond deel van die uitgebreide bewaringsgebied te maak. Die doelwit is om die huidige 793 werksgeleenthede in Dinokeng teen 2030 te verdubbel deur inwoners in die gebied in diens te neem.
’n Langtermyn geïntegreerde plan, wat bewaring, toerisme, sport, erfenis en mediese infrastruktuur verbind, is bekendgestel. Volgens amptenare sal die samesmelting van Dinokeng, Roodeplaatdam en Cullinan in ’n enkele geïntegreerde gebied help om Gauteng meer as bloot ’n bestemming vir voorstedelike sakereise en ‘inkopie-toerisme’ te maak.
 Twee jakkalse in die Dinokeng-wildtuin Foto: Ronéll van der Merwe
’n Roofdier-rehabilitasiesentrum vir groot katte word in die wildtuin voorgestel en daar is verskeie nuwe idees vir eko-toerisme by Roodeplaatdam, soos ’n riviervaartstelsel en drywende brug.
Planne is ook onderweg om ’n diamant-erfenisgebied in Cullinan, die tuiste van die wêreld se grootste diamant, te ontwikkel, om klein sake-ondernemings in ’n ‘Cullinan Treasure Village’ te betrek en om ’n diamant-trein te laat loop wat mynbou-geskiedenis met toerisme-storievertelling verbind.
Die inisiatief word deur die Wieg van die Mensdom Wêrelderfenisgebied-vereniging en Dinokeng-projekte bestuur.
|