|
Hierdie is die verhaal van ’n weduwee wat onbemiddeld met drie seuntjies en ’n dogtertjie in Pretoria agtergelaat is toe haar man, as deel van die Hollanderkorps, in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het. Sy is terug na Holland waar ’n seun en haar dogter oorlede is. Haar twee oorblywende seuns is in die Tweede Wêreldoorlog dood. En toe was Johanna Coster heeltemal alleen.
 Hermanus Jacob Coster is op 11 Desember 1961 in die Kerkstraat-begraafplaas herbegrawe Bron: wikitree.com
So skryf Willem Johannes de Kock in ‘Pretorianers van weleer’ in die ‘Pretoriana’ van Oktober 1956. Hy was van September 1951 tot Junie 1954 tydelike argivaris in Europa en het etlike mense ontmoet wat vroeër in Pretoria gewoon het. In 1951, met sy eerste besoek aan Johanna in haar kamertjie in Den Haag, was sy 83 jaar oud.
“Vir wie bekend was met die groot tragedie in die lewe van hierdie vrou was dit steeds ’n inspirasie om haar oor die verlede te hoor praat. Sy het aangename dae in Pretoria geken en haar kinders is hier gebore,” skryf Willem.
 Hermanus Jacob Coster in 1898 Bron: ‘Geheugen van Nederland’
Batavia Jacoba Johanna Wilhelmine Hermine de Roo is op 6 Junie 1868 in Batavia, die hedendaagse Jakarta, Indonesië, gebore. Sy was een van die vyf kinders van Leonard Wilhelm Gijsbert de Roo en Hermina Sophia Maria Baart de la Faille.
Johanna is op 29 Augustus 1893 met dr Herman Coster in Nijmegen, Holland getroud. Hermanus Jacob Coster is op 30 Junie 1865 in Alkmaar, Nederland as die seun van Simon Cornelis Coster en Johanna Christina, ’n nooi Doijer, gebore.
 Hermanus Jacob Coster as student Bron: ‘Geheugen van Nederland’
Hy het regte by die Leiden Universiteit studeer, waar hy van 1889 tot 1890 president van die studentekorps was. Sy oom, die Den Haagse dokter, TH Blom Coster, was sy beskermheer ten tye van sy studies. Hy het sy doktorsgraad in 1890 voltooi.
 Hermanus Jacob Coster se graf op Elandslaagte Bron: wikitree.com
Kort na Johanna en Herman se huwelik in 1893 het hulle Pretoria toe getrek waar Herman ’n regsloopbaan gevolg het tot hy as die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se staatsprokureur aangestel is. Hy het dié posisie van 1895 tot 1897 beklee en het ná ’n dispuut met president Paul Kruger bedank. Daarna het hy weer as ’n algemene prokureur gewerk.
Die Hollandse en Belgiese burgers in die ZAR het vroeg in September 1899 begin om ’n vrywilligerskorps, genaamd ‘Corps van Nederlanders en Oud-Nederlanders’, daar te stel. Dit is Herman wat die korps met die hulp van Cars Geert de Jonge, sekretaris van onderwys en opvoeding in die ZAR, amptelik in die lewe geroep het.
 “Collegium van het Leidsch Studenten Corps 1889-1890”. Van links na regs: A van der Elst; WC Th van der Schalk; HJ Coster; FWA Hutschler; W Birnie. Staande: P Somerwil Bron: LJ Plemp van Duiveland: In memoriam Herman Coster
Die Hollanderkorps het uit twee afdelings bestaan, ’n velddiens- en garnisoensdiens-afdeling. Herman was ’n seksie-kommandant in die velddiens-afdeling. Hy het op 21 Oktober 1899 in die heel eerste slag waarin hy deelgeneem het, gesneuwel.
 Die Hollanderkorps-gedenkteken op Elandslaagte Bron: David Biggins; angloboerwar.com
Elandslaagte Baie is geskryf oor Pretoria se Hollanderkorps se enigste veldslag op Elandslaagte. In gebeure wat ’n internasionale skandaal veroorsaak het, is die vasgekeerde vrywilligers saam met die Boere genadeloos met sabels gesteek en gekap of met lanse en bajonette deurboor.
Op 19 Oktober 1899 het die Hollanderkorps saam met generaal Johannes Hermanus Michiel (Jan) Kock se Johannesburg-kommando en die Duitse korps die Britse spoorverbindings tussen Ladysmith en Glencoe gedeeltelik ontwrig. Generaal Kock het toe besluit om die spoorwegstasie Elandslaagte, sowat 24 km noord van Ladysmith, te beset.
Die bevelvoerder van Ladysmith, luitenant-generaal sir George White, het egter agtergekom waar Jan se troepe was en hy het generaal-majoor John French met ’n sterk mag gestuur om die Boeremagte te verdryf.
 Johan Antoni (Jan) de Jonge se skildery van Herman Coster Bron: Universiteit Leiden, Icones Leidenses 341
Altesaam 1 000 Boere en uitlanders met hulle drie kanonne is deur 2 500 Britse Dragonders en Lansiers met 18 kanonne oorval. ’n Swaar gewonde generaal Kock het in die Britte se hande geval en is 10 dae later op Ladysmith dood.
 Die Costers se seun, Herman Bron: geni.com
Die 34-jarige Herman Coster is deur kommandolede op die slagveld begrawe. Meer as 60 jaar later, op 11 Desember 1961, is hy in die Kerkstraat-begraafplaas in Pretoria herbegrawe.
Die Slag van Elandslaagte was beide die eerste en laaste slag waarin die Hollanderkorps deelgeneem het. Die korps is ná die veldslag ontbind. Van die lede het by die ZAR-kommando’s of die garnisoensdienskorps aangesluit. In Maart 1900 het 140 Nederlanders by generaal Georges de Villebois-Mareuil se vreemdelingelegioen aangesluit. De Villebois-Mareuil het kort daarna gesneuwel en sy legioen is ook ontbind.
 Die aankoms van transport op Elandslaagte Foto: Zuid-Afrikahuis
Held Ná Herman se dood is hy in Holland as held beskou en verskeie inligtingstukke is oor hom gepubliseer. In 1900 is die Herman Coster-fonds vir studente vanaf Suid-Afrika by die Universiteit van Leiden gestig. Dié fonds is deesdae deel van die Leiden-universiteitsfonds.
Op 4 November 1901 het ’n groot skare op die Rapenburg byeengekom vir die onthulling van die gedenkteken ter ere van Herman Coster, wat teen die Akademie-gebou by dié universiteit gemonteer is.
 Ná die Slag van Elandslaagte Bron: Wikipedia
In Leiden is simpatie vir die Boere se saak grootliks deur heldeverering van Herman gekanaliseer. In die versameling van die ‘Academisch Historisch Museum’ kan ’n hele aantal ‘Costeriana’, soos foto’s, verskeie ‘in memoriams’ en ’n olieverfskildery deur Jan de Jonge vandag nog gevind word. Herman se weduwee, Johanna, het dié skildery in 1949 aan die universiteit geskenk.
 Hermanus Jacob Coster inspekteer ’n deel van die Hollanderkorps Bron: HiltonT; Flickr
Ná Herman se dood is Johanna terug Holland toe waar sy haar aan openbare bewusmaking en ondersteuningspogings vir die Boere se saak toegewy het. In ‘Pretorianers van weleer’ skryf Willem dat Johanna haar kinders met groot opofferings in Holland grootgemaak het – net om hulle almal te verloor.
 Vertrek van die Hollanderkorps op 6 Oktober 1899 Bron: Collectie Instituut Voor Militaire Geschiedenis
Hy noem nie hoe haar een seun en dogtertjie oorlede is nie, maar skryf dat een van die oorblywende seuns in ’n Japanse krygsgevangenekamp om die lewe gebring is en dat haar oudste seun, Herman Jacob Coster, wat een van die leiers van die Hollandse ondergrondse beweging was, op 8 Maart 1945 in Den Haag deur die Duitsers gefusilleer is.
 Die Hollanderkorps se perde word in Oktober 1899 in veetrokke by Pretoria-stasie gelaai om na die oorlogsfront vervoer te word Bron: Foto-argief, NZAV, Amsterdam. CD van Lent-fotoversameling
‘Dodenboek’ Herman se naam verskyn in die Nederlandse Argief in die ‘Dodenboek’ met geboortedatum 8 Augustus 1898. Dié boek bevat foto’s en kort lewensbeskrywings van mense wat met die Duitse okkupasie van 1940 tot 1945 in Scheveningen-tronk, wat die bynaam Oranje Hotel gehad het, dood is. Die ‘Dodenboek’ self mag nie besigtig word nie, net die databasis van name.
’n Kennisgewingbord by die Oranje Hotel lui dat Herman ’n notaris in Indië was; dat sy pa in Suid-Afrika omgekom het en dat sy broer, Simon, in 1942 in ’n Japanse kamp in Medan dood is. Herman is op 3 Februarie 1945 in hegtenis geneem en is ná ’n kort tyd in die Oranje Hotel op die Leusderheide doodgeskiet.
 In Memoriam: Herman Coster Sr; Sym Coster; en Herman Coster jr in die Oud Eik en Deinen begraafplaas in Den Haag Bron: https://oorlogsgravenstichting.nl
Johanna het ’n kennisgewing in die koerant laat sit wat lui dat haar seun op 8 Maart 1945 te Amersfoort gefusilleer is: “Seun van dr Herman Coster, beide het hulle lewens vir vryheid, reg en Vaderland opgeoffer.” Hy het 46 jaar oud geword en sy teraardebestelling was maande later, op 2 Oktober om 3 nm by die begraafplaas Oud Eik en Duinen in Den Haag.
Die Nederlandse Oorlogsgrafstigting het ’n foto van Herman se graf, waarop sy pa en broer ook genoem word. Herman sr se toentertydse beskermheer, TH Blom Coster, se naam verskyn ook op die grafsteen se wit kopstuk, alhoewel die datums daar onleesbaar is.
 Die onthulling van die Coster-gedenkplaat op 4 November 1901 by die Universiteit van Leiden Bron: leidenspecialcollectionsblog.nl
Die ‘In memoriam’ deel op die graf lui: Hulle het hulle lewens vir vryheid en reg opgeoffer. Herman Coster sr, gesneuwel in die Boereoorlog, ZAR, Elandslaagte, 21 Oktober 1899; Sym Coster, gesterf in ’n konsentrasiekamp, Medan, Sumatra, 22 Desember 1942; Herman Coster jr, gefusilleer, Amersfoort, 8 Maart 1945.
In ‘Pretorianers van weleer’ skryf Willem dat Johanna met sy eerste besoek aan haar in 1951 die vriendelikheid self was en dat sy baie van haar foto’s as skenking aan die Genootskap Oud-Pretoria se argief gegee het. Die dokumente van Herman Coster is in die argief van die studentekorps in Leiden en dit is later ook vir die genootskap se argief gefotografeer.
 Prof Willem de Kock, wat Johanna Coster in Den Haag gaan opsoek het Foto: Die Burger
Met Willem se tweede besoek aan Johanna in 1953 was hy daar saam met dr Willem Punt, die genootskap se voorsitter, wat juis toe ook in Holland was. Hy skryf dat dit duidelik was dat die spore van ouderdom en siekte dieper geword het. Johanna is enkele maande daarna oorlede.
|