|
Waarheen verdwyn muskiete in die winter? Oorwinter hulle om in die lente weer te herleef of vrek hulle net uit? Die antwoord het te doen met geslag. Die wyfies oorleef, maar die mannetjies vrek sodra hulle nie meer nodig is nie.
Muskietmannetjies leef meestal slegs ’n week of twee nadat hulle volwassenheid bereik het en klaar gepaar het. Hulle is glad nie toegerus om die koue maande deur te maak nie. Die mannetjies voed slegs op nektar en plantsap. Dié vegetariese outjies speel glo geen rol in die verspreiding van siektes nie.
Muskietwyfies leef gewoonlik ’n paar maande. Hulle oorwinter deur in skuilings soos boomholtes, skure of onder huise te hiberneer, terwyl hulle op gestoorde energie of suiker teer.
 ’n Muskietwyfie uit die Culicidae familie, Culiseta longiareolata Bron: Wikipedia
Die meeste spesies muskietwyfies het die bloed van diere of mense (en selfs van paddas, slange, voëls en ongewerweldes) as proteïene vir eierproduksie nodig. By sommige spesies is ’n bloedmaaltyd nie noodsaaklik nie, maar laat dit die wyfie toe om meer eiers te lê. Die wyfies wat siektes oordra het bloed broodnodig, terwyl daar ’n klein persentasie muskietspesies is waar wyfies glad nie ’n gasheer se bloed benodig nie.
Eiers word in die lente gelê, meestal in stilstaande water, wat ’n tydelike plas, ’n moeras, dam of selfs ’n watergevulde gat in ’n boom kan insluit. Muskiete gaan deur vier stadiums in hulle lewensiklusse: eier, larwe, papie en volwassene.
Die eerste drie stadiums leef grootliks in water. Die larwes vreet alge en organiese materiaal en groei en vervel tot hulle in papies verander. Die volwasse muskiet kom uit die volwasse papie wat op die wateroppervlak dryf. In warm weer kan dit slegs vyf dae vat om vanaf die eierstadium tot volwassene te ontwikkel, maar die proses kan ook tot ’n maand lank duur.
 ’n Muskiet besoek ’n blom vir nektar Bron: Wikipedia
Zoem Muskiete, die Culicidae, is ’n familie wat uit 3 600 spesies bestaan en die meeste van hulle is snags bedrywig. In die donker kan hulle mekaar nie maklik sien nie en gebruik klank om mekaar te vind. Dit is net die wyfies wat die zoemgeluid maak wat deur die mannetjies se geveerde antennas opgevang word. En elke zoem klink glo effens anders sodat ’n mannetjie kan weet watter wyfie van sy eie spesie is.
Muskiete is glad nie blind nie. Hulle is baie sensitief vir die verskillende golflengtes van kleure en word deur langer golflengtes (wat ons as die kleure rooi en oranje sien) aangetrek. Hulle hou ook van hoë-kontras objekte weens die manier waarop die langer golflengtes teen ’n ligter agtergrond gesien word.
 Muskiete voed selfs op slange Bron: Geoff Gallice; Wikipedia
Tog is muskiete grootliks op geure en temperatuurverskille aangewese om hulle gashere op te spoor. Omtrent 300 tot 400 verskillende stowwe word deur menslike sweet uitgeskei en sowat 100 verskillende stowwe deur uitaseming. Muskiete is aangepas om dié stowwe waar te neem.
’n Muskiet se antennas bevat 72 soorte geur-reseptore, waarvan ten minste 27 ingestel is om chemiese middels in sweet op te tel.
 Muskiete takel ’n padda Bron: Courtney Celley; Wikipedia
Voorkeur Muskiete verkies dit om, onder andere, op mense met O-bloedgroep, diegene met ’n oorvloed velbakterieë, ’n hoë liggaamshitte en op swanger vroue te voed. Muskiete hou van seker velgeure, wat deur liggaamsgewig, hormone, genetiese faktore en ander metaboliese of genetiese afwykings veroorsaak word. So byvoorbeeld produseer mense wat malaria het sekere stowwe waarvan muskiete baie hou. Dit beteken dat diegene wat klaar malaria het meer geneig is om deur muskiete gebyt te word.
Ja, streng gesproke byt ’n muskietwyfie jou. Hulle het monddele wat aangepas is om ’n gasheer se vel te deurboor en te voed op bloed van ’n wye reeks gashere. Wanneer sy jou byt word die muskietwyfie se speeksel na die gasheer oorgedra, wat ’n jeukende uitslag kan veroorsaak. Die wyfie kan ook patogene inneem terwyl sy byt en kan dit na ander gashere oordra.
Bykans 700 miljoen mense doen elke jaar ’n siekte op wat deur muskiete oorgedra word en dit lei na meer as ’n miljoen sterftes.
|