|
‘Muskiet’ van Petit: Wat ’n interessante storie oor muskiete en net so interessant was dat verskeie media pas na die Bronnie se verskyning dieselfde onderwerp gedek het. Die Bronnie is ooglopend ’n bron en inspirasie vir ander publikasies. Wel gedaan!
Muskiete in die somermaande is dikwels ’n uitdaging. ’n Ou raat om hulle van jou lyf af te hou is laventel. Muskiete kan klaarblyklik nie die reuk verdra nie of straks krap dit net hulle reuksintuie deurmekaar.
In die ou dae is droë laventeltakkies in vensterbanke geplaas en af en toe gekneus om muskiete te verjaag. Deesdae is dit minder moeite om ’n bakkie water met ’n paar druppels laventelolie voor oop vensters en deure te plaas. As muskiete reeds jou huis oorgeneem het of as jy buite sit en braai, hou ’n paar druppels laventelolie op jou vel hulle weg.
’n Raat om getalle in jou tuin of omgewing te bedwing, is om houers soos diep emmers of dromme buitenshuis vol water te maak en net ’n druppel of twee van enige soort olie op die oppervlak te laat dryf. Sodra die son die water verwarm, sprei die olie in ’n dun lagie oor die oppervlak.
Dit keer nie die wyfies om hulle eiers in die water te lê nie. Stilstaande water is immers hulle broeiplek. Die eiertjies broei ook uit en die larwes gedy. Sodra die jong muskiete egter volgroeid is en die broeiplek wil verlaat, is die olielagie hulle moses en kan hulle nie opstyg nie.
Olie in visdammetjies is nie nodig nie. Larwes is vis- en paddakos.
|