Bouwerk aan Mooiplaats–kampus vorder fluks Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 July 2026 08:00
Untitled Document

Bouwerk aan die onafhanklike Afrikaanse hoëronderwys-instelling, Akademia, se kampus op Mooiplaats vorder fluks. Akademia vorm deel van die Solidariteit-beweging en voorsitter, Flip Buys, het in Junie gesê dat dit wonderlik is om die kampus weekliks te sien verrys.

Die eerste fase van dié ontwikkeling, met ’n beleggingsomvang van R1,8 miljard, het in Januarie begin en sal tot Desember 2027 strek, waarna die fasiliteite in gebruik geneem sal word. Die tweede en finale fase sal tussen Januarie 2028 en Desember 2029 plaasvind en die totale projekwaarde is R3 miljard.


Die Akademia-kampus in aanbou
Foto: Verskaf

Die kampus, naby die Boschkop-polisiestasie op die Boschkop-pad, se akademiese geboue sluit laboratoria, lesinglokale, ’n biblioteek en navorsingsruimtes in en daar gaan ook ’n studentesentrum, eet- en drinkfasiliteite, ’n ouditorium, kapel, sportfasiliteite en ’n proefplaas vir landboustudies en natuurwetenskappe wees.

Akademia maak voorsiening vir 5 000 voorgraadse en 1 500 nagraadse studente. Daar gaan vier koshuise vir mans en vier vir vroue wees met ’n totaal van 1 500 beddens.

 

© 2025 Die/The Bronberger