PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 26 March 2010 14:58
Untitled Document

Die oudste oorblywende rolprent wat ooit in Suid- Afrika gemaak is, is in Pretoria verfilm. Die snit bestaan uit ’n paar sekondes beeldmateriaal wat wys hoe President Paul Kruger in 1898 in die staatskoets klim in Kerkstraat.

Hoeveel ander rolprente is daar in dié tyd gemaak en wat het van hulle geword? Volgens rolprent historikus Thelma Gutsche se navorsing is die eerste rolprent met ’n projektor in 1896 by die Empire Palace of Varieties in Johannesburg vertoon.


?n Toneel uit die oudste oorblywende rolprent wat in Suid-Afrika geneem is
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria Nuusbrief

Wat dié rolprent was, weet niemand vandag meer nie. Dit is geadverteer as “bewegende prentjies” en is deur Carl Heinz, ’n Vaudevil vermaaklikheidskunstenaar wat naam gemaak het as goëlaar, vertoon.

In Rosa Swanepoel se Ou Pretoria nuusbrief, verduidelik Peter Wood die verskil tussen rolprente wat met ’n projektor vertoon is en dié wat met ’n Kinetoskoop masjien vertoon is. Die Kinetoskoop was ’n masjien waar jy geld in ’n gleuf moes sit voor hy begin werk het. Dan moet jy deur ’n klein gaatjie loer om die paar sekondes bewegende beelde te bekyk. Dié masjien is deur Thomas Edison ontwerp en was in 1891 gereed om gepatenteer en gedemonstreer te word. Die eerste sulke rolprente is in 1895 by Henwoods Arkade in Johannesburg vertoon. Selfs toe die meer ‘moderne’ projektor in gebruik gekom het, het die langste rolprente steeds net ’n paar sekondes geduur. Dit was omdat kameras net 100 voet film kon vat, en mense nog nie geweet het hoe om stukke rolprent aanmekaar te las om ’n storie te maak nie.


Empire Palace waar die eerste rolprent met projektor in 1896 vertoon is

Edgar
Die 1896 vertoning by die Empire, het die bestuurder van die plek, Edgar Hyman, so beïndruk dat hy besluit het om self te begin films maak. Hy het dadelik ’n rolprentkamera van oorsee bestel en het kort films in Johannesburg se strate begin maak. Blykbaar was sy tegniek om die kamera voor in ’n trem te sit en so bewegende straattonele vas te lê op film.

Edgar het sy films ewe entoesiasties vir die Warwick Trading Company in Londen, een van die eerste maatskappye wat rolprente vervaardig en versprei het, gestuur. Die stukkie film wat wys hoe President Kruger in die staatskoets klim was in Warwick se katalogus gelys. Tog noem die katalogus nie wie die kameraman was nie. Blykbaar kon dit óf Edgar of Joe Rosenthal gewees het. Dié twee het vir Warwick gewerk as oorlogskorrespondente met die Tweede Vryheidsoorlog van 1899 tot 1902. Daar bestaan selfs vandag nog ’n paar snitte wat hulle in die oorlog verfilm het.

Volgens rolprent historikus Thelma Gutsche het die film dokumentasie van die Tweede Vryheidsoorlog die wêreld se aandag vir die eerste keer op die belangrikheid daarvan om geskiedkundige gebeure op rolprent vas te lê, gevestig.


Edgar Hyman met sy rolprentkamera toe hy as oorlogskorrespondent gewerk het
Foto: Rosa Swanepoel se Ou Pretoria Nuusbrief

Bekend
Een van die bekendste rolprentkameramanne wat hier as oorlogskorrespondent kom werk het was ‘Biograph’ se William Kennedy Laurie Dickson. Peter Wood skryf dat William die persoon was wat die eerste rolprentkamera asook die 35 mm filmformaat ontwerp het toe hy vir Thomas Edison in New Jersey gewerk het van 1889 tot 1895.

William het later ’n boek geskryf oor sy rolprentfilm-ervarings in die Tweede Vryheidsoorlog, genaamd ‘The Biograph at War’. Ná die oorlog het die hoeveelheid rolprente wat in Suid-Afrika verfilm is, sterk afgeneem. Navorsers sê dat net die verfilming van Cecil Rhodes se begrafnis in April 1902 van historiese belang was. Dié begrafnis is verfilm deur JT Blake, die bioskoopoperateur van Fillis Sirkus. In 1910 is ‘The Great Kimberley Diamond Robbery’ uitgereik, die eerste vollengte-dramafilm, alhoewel klankloos, wat in sy geheel in Suid- Afrika vervaardig is.

Ons eie plaaslike filmmaker Edgar het besluit dat hy hom voltyds met dié nuwe rolprentbedryf gaan besig hou. In 1910 het hy ’n paar bioskope, almal met die naam Empire, oopgemaak aan die Rand. In 1913 is Edgar se Empire teaters oorgeneem deur finansier Isadore William Scheslinger.


Joseph Albrecht, wat die eerste klankprente in die land, ?Sarie Marais? en ?Moedertjie?, gemaak het

Bedryf
Issie het beheer oorgeneem oor die bioskoop en teaterbedryf in Suid- Afrika en sy monopolie van teaters het in 1913 tot stand gekom onder die naam African Theatres Trust. Dieselfde jaar het hy ook African Films Trust, wat as ’n internasionale verspreidingsmaatskappy gedien het, gestig.

Hy het ook die eerste plaaslike filmproduksiemaatskappy, African Film Productions, in 1915 aan die gang gesit in ’n ateljee in Killarney, Johannesburg. Hier is 30 films gemaak wat tussen 1915 en 1919 vrygestel is. Teen dié tyd was films 35 tot 65 minute lank.


?n Toneel uit die film ?Moedertjie?

Die eerste geanimeerde film wat in Suid-Afrika gemaak is, is in 1915 deur African Film Productions gemaak en was ’n kort komedie genaamd ‘Artist’s Dream / The Artist’s Inspiration’. Dennis Sentry, spotprenttekenaar vir ‘Rand Daily Mail’ en ‘Sunday Times’, was die kunstenaar en die ster aktrise was niemand anders as ou Issie se eie vrou nie – Mabel May. Die film se regisseur was Harold Shaw, wat ook vir ‘De Voortrekkers’, vervaardig in 1918, verantwoordelik was. Dié film is dekades lank elke jaar op 16 Desember vertoon.

Van die 1917 films, ‘The Adventures of Ranger Focus’, ‘Don’t You Believe’, ‘Crooks and Christmas’, en ‘The Adventures of Ben’ is daar ongelukkig niks behalwe ’n paar publisiteitsfoto’s oor nie.


?Just a moment please while the operator changes a reel?
Foto: www.sahistory.org

Klank
Die eerste klankprente, Joseph Albrecht se ‘Sarie Marais’ en ‘Moedertjie’, is by die gala-opening van die Capitolteater in Pretoria op 5 September 1931 vertoon.

Dit was slegs vier jaar na die eerste internasionale klankfilm, ‘The Jazz Singer’ in 1927 vrygestel is. ‘Moedertjie’ is gebaseer op JFW Grosskopf se toneelstuk, ‘In die wagkamer’, wat handel oor die gebeure in 1914 toe ’n groot groep jong Afrikaners van die landelike dele stad toe getrek het op soek na ’n beter lewe.

Tante Koester (Moedertjie) en haar man ry per trein na Maraisburg om te gaan soek na hul enigste seun, Hendrik, wat die afgelope twee jaar nog nie huis toe geskryf het nie. Hulle kom ná donker op die stasie aan en moet die nag in die stasie se wagkamer deurbring waar hulle vreemdelinge ontmoet, elk met sy eie verhaal van hartseer. Almal vind waarna hulle op soek is: ’n kind, ’n verlore liefde, vryheid en aanvaarding, maar nie op die manier waarop hulle gehoop het nie.


Die film ?Moedertjie? is gebaseer op JFW Grosskopf se toneelstuk, ?In die wagkamer?

Die akteurs is Stephanie Faure, Joan du Toit, J Plaat-Stultjes, Carl Richter en Pierre de Wet. Die klankbaan is gedoen deur Chris Blignaut en die Melodians, die draaiboek deur JFW Grosskopf, en die regisseurs was Joseph Albrecht en Stephanie Faure.

‘Sarie Marais’ is verfilm in Johannesburg. Die storie speel af in ’n Britse krygsgevangekamp en konsentreer op ’n groep Boere-gevangenes onder die wakende oë van die Britte. Een van die krygsgevangenes, gespeel deur Billy Matthews, begin die liedjie ‘Sarie Marais’ sing en sy entoesiastiese singery gee die ander gevangenes hoop vir die toekoms. Die klankbaan is gedoen deur Chris Blignaut en die Melodians.


Só het ?n mens afgekyk na die film-doek
Foto: Marius: ?Preserve the Capitol Theatre?

Capitol
Dié twee films het staande toejuiging geniet by die Capitol-teater, in Parlementstraat, Pretoria, se opening wat deur Generaal JBM Hertzog, toe die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, waargeneem is.

Die Capitol-teater was een van die eerste atmosferiese bioskope wat in Suid-Afrika gebou is. Die teater is in die Italiaanse Renaissance-styl ontwerp deur P Rogers Cooke, ’n bekende argitek in die dertigerjare. ’n Prominente kenmerk van die Capitol was sy ongewone ingangsportaal en die groot portaal wat toegang tot die orkesput gegee het.


Die foto is in die Capitol-teater se ingangsportaal geneem by die ?naval Night? op 4 Mei 1953 toe die drama ?The Cruel Sea? vertoon is
Foto: Cinema Souvenirs

Dié portale was meer as 200 voet lank. Vanaf die portaal het ’n reuse stel trappe opgelei na ’n wye promenade waar verversings bedien is met pouses. Vanaf die mezzanine promenade het twee gange toegang gegee tot die paadjie wat die sitplekke in die onderste sirkel afgeskei het van dié in die boonste sirkel.

Die Capitol het ook ’n Wurlitzer orrel gehad wat agter afskortings gestaan het wat vanaf die orkesput beheer is. Met die koms van multi-bioskope in die laat 1970’s is die majestueuse Capitol-teater toegemaak. Wat oorgebly het van dié historiese gebou is later omskep in ’n parkeergarage.


Die Capitol-teater in sy gloriedae
Foto: Marius: ?Preserve the Capitol Theatre?

In Desember 2007 is die ou Capitol ingerig as ’n nagklub, genaamd Legends. Die klub kan egter net die ingangsportaal gebruik omdat dit die enigste deel van die gebou is wat as veilig beskou word. ’n Facebook-groep genaamd ‘Preserve the Capitol Theatre’ is gestig met die doel om dié teater sy gloriedae te laat herleef en weer ’n bastion van die Suid- Afrikaanse kuns- en vermaaklikheidsbedryf te vorm.

Vir meer inligting besoek http://af-za.facebook. com/group.php?gid= 8360943169 of stuur ’n e-pos aan Marius: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Die eerste klankfilms in die land se klankbaan is gedoen deur Chris Blignaut en die Melodians

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger