|
In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Baie mense dink dat ‘hutspot’ bloot ’n ander naam vir ’n bredie is. ’n Hutspot kom al eeue lank saam met die Hollanders en word aan die bevryding van Leiden gekoppel toe ’n klein uitgehongerde weeskindjie, Cornelis Joppenszoon, op ’n pot vol kos afgekom het wat die vlugtende Spanjaarde agtergelaat het.
Die herdenking van dié bevryding, bekend as ‘Leidens Ontzet’, word vandag steeds elke jaar op 3 Oktober deur Hollanders gevier met die eet van ’n hutspot, ’n dis van vleis en fyngedrukte aartappels, wortels en uie.
 ’n Hutspot Bron: Pitmaster.com
Die inwoners van Leiden is in 1574 in die Tagtigjarige Oorlog deur rebelle bevry. Dié oorlog was ’n jarelange opstand van die Hollanders teen die Spaanse koning wat die Katolieke geloof streng wou afdwing. Die bevryders het die dyke gebreek, wat ’n vloed in die laagliggende veld rondom die stad veroorsaak het. Die Spanjaarde het gevlug en het hulle kamp en die meeste van hulle toerusting net so agtergelaat.
’n Hutspot word gewoonlik baie stadig saam met ’n ‘klapstuk’ (’n beesvleis-snit van die skouer of bors) gekook. Die wortels was ‘winterpeen’ (wat in die winter groei en ’n kenmerkende smaak het). Aartappels is eers in 1640 aan Europa bekendgestel, maar dit is net as voer vir diere gebruik, behalwe in Spanje en Ierland. Die hutspot wat die Hollanders gemaak het sou daardie jare waarskynlik ‘pastinaak’, ’n soort patat, in gehad het.
 Die jaarlikse herdenking van die bevryding op 3 Oktober Bron: Wikipedia
In ‘Die geskiedenis van Boerekos, 1652–1806’ skryf Hester Wilhelmina Claassens dat rape moontlik in plaas van aartappels in Jan Van Riebeeck se tyd in ’n hutspot gebruik is. In beide ’n hutspot en stamppot se kookproses word baie vloeistof saam met die vleis gebruik en dit word aan die einde van die kookproses afgegiet en dan by dieselfde ete of later vir ’n sop of sous gebruik. Vars groente is destyds nie saam met die vleis gekook nie en is fyngemaak wanneer dit sag is.
 Die Vlaamse hutsepot waar die groente heel is Bron: Wikipedia
In ‘De Oudhollandse keuken’ skryf Wim van Beek dat vir die hutspot net aartappels, uie, wortels en bladvleis gekook word, maar vir ’n stamppot kan enige ander groente gebruik word. Tradisioneel bestaan die Hollandse stamppot gewoonlik uit ‘boerenkool’ (‘kale’), ‘ andijvie (‘endive’) en ‘zuurkool’ (sauerkraut) saam met gerookte wors of spek. Nog ’n goeie kombinasie groente is snybone met droë bone, suurkool met wit bone of erte, wortels, uie en rys.
 ’n Stamppot met gerookte wors Bron: Wikipedia
Hester skryf dat die Franse Hugenote hutspotte reeds geken het toe hulle in die Kaap aangekom het. Soos in Holland, is hutspotte vandag nog deel van die Franse kookkultuur, maar by Afrikaners het bredies die oorspronklike Kaapse hutspot vervang.
Hester sê ook dat bredies, soos die woord vandag verstaan word, waarskynlik nie ’n unieke Kaapse skepping of ’n Maleiererfenis is soos party Afrikaanse kosskrywers beweer nie. Leipoldt het geglo dat bredies reeds in die Middeleeue in Spanje, Italië en die suide van Frankryk mode geword het.
 Die Vlaamse stoemp met vis Bron: Wikipedia
Die Sweedse dis ‘rotmos’ is soortgelyk aan ’n hutspot en stamppot, behalwe vir die uie wat deur koolwortel (kålrot) vervang is. ‘Potch’, ’n tradisionele Walliese bykos by vleisdisse, bestaan ook uit fyngedrukte aartappels, wortels, koolwortels en rape.
 Die bevryding van Leiden se uitgehongerde mense – Johan Bernard Wittkamp Bron: Wikipedia
Ten spyte van die name wat baie dieselfde klink, is ’n Vlaamse hutsepot iets anders – ’n stoofpot met heel groente. Die Vlaamse dis genaamd ‘stoemp’ bestaan uit fyngedrukte aartappels en ander groente en kan ook room, spek, kruie en speserye insluit.
Hutspot
Ons gebruik ’n resep van ‘The Dutch Table’
Bestanddele: 500 g gesnyde, beenlose dikrib / 500 ml water / ½ biefblokkie / 1 lourierblaar / 8 swart peperkorrels, heel / 1 eetlepel koekmeel, opgelos in 125 ml water.
Metode: Sit die water in ’n pot, voeg die biefblokkie by en roer tot opgelos. Voeg die vleis, lourierblaar en peperkorrels by en prut op lae hitte vir ongeveer 90 minute. Haal die vleis uit, gooi die lourierblaar en peperkorrels weg en roer die opgeloste koekmeel in die sous. Verhoog die hitte geleidelik tot die sous dik word. Gooi dit oor die vleis en hou apart.
Bestanddele: 6 groot aartappels, in blokkies gesny / 8 groot wortels, opgesny / 4 groot uie, opgesny / 500 ml water / knippie sout.
Metode: Sit die aartappels onder in die pot en gooi die water oor. Voeg die knippie sout by. Sit die wortels bo-oor en dan die uie. Laat dit kook en verlaag die hitte sodat dit vir 20 minute prut. Dreineer die water, maar behou dit. Druk die groente fyn.
Skep ’n groot lepel groentemengsel op ’n warm bord. Maak ’n gaatjie bo-op (die kuiltjie). Gooi die sous in die kuiltjie en sit ’n stuk vleis bo-op die groente.
|