Nuwe Zwavelpoortpad met groot fanfare geopen Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 July 2026 08:00
Untitled Document

Die K147 Zwavelpoortpad, ’n nuwe 2 km dubbelbaan verbinding tussen Garstfonteinweg-verlenging en Atterburyweg, is amptelik op 5 Junie geopen.

Die pad is deur Balwin Properties teen ’n koste van ongeveer R100 miljoen gebou ter ondersteuning van die Mooikloof Slim Stad met sy beoogde 50 000 deeltitel woonstelle langs Garstfonteinweg-verlenging, ongeveer 6 km oos van die kruising met De Ville Bois Mareuilrylaan.


Die K147 Zwavelpoortpad
Foto: Verskaf

Dié ontwikkeling, wat die hoewegebied oos van Pretoria radikaal sal verander, is op 210 hektaar en sal bestaan uit ’n residensiële deel, wat deur Balwin Properties ontwikkel word, twee opvoedkundige fasiliteite en ’n kommersiële deel. Die teikenmark is mense wat te veel verdien om gratis huise van die regering te kry, maar te min verdien om ’n huislening by ’n bank te kry.


Die pad is op 5 Junie geopen
Bron: Skermgreep van beeldmateriaal; Balwin Properties

Mooikloof Slim Stad is deel van 62 strategies geïntegreerde projekte, wat in Julie 2022 in die Staatskoerant gepubliseer is, waar die regering  massa infrastruktuur installeer en ’n private maatskappy die woonstelle en leefstylsentrums bou en paaie en ander openbare geriewe opgradeer.

Beplanning vir die K147 Zwavelpoortpad het in 2019 begin. Konstruksie het op 6 Mei 2025 begin en die pad is op 5 Junie aan Stad Tshwane as openbare infrastruktuur oorhandig. Ongeveer 400 direkte en indirekte werksgeleenthede is met die konstruksiefase geskep.


Die lint word digby Garstfonteinweg-verlenging geknip
Bron: Skermgreep van beeldmateriaal; Balwin Properties

Die stigter en hoof uitvoerende beampte van Balwin Properties, Steve Brookes, het die projek as ’n beduidende mylpaal vir die gebied se openbare vervoernetwerk beskryf. Hy het gesê dat die pad deel vorm van ’n breër infrastruktuurraamwerk wat toekomstige ontwikkeling in die Mooikloof-gebied sal ondersteun.

Die gebied dek landgoedontwikkelings soos The Hills, Mooikloof-perdelandgoed, Mooikloof Heights, Mooikloofrif, Mooikloof Glen, Mooikloof Eko-landgoed, Greenkloof, De Vallei, Woodlands Place en Heron Hill en omliggende gemeenskappe in Grootfontein, Rietvlei View en Zwavelpoort.


Die eerste motor op die pad ná die opening
Bron: Skermgreep van beeldmateriaal; Balwin Properties

Steve het gesê dat die nuwe pad sal help om verkeersdruk te verlig op Solomon Mahlangurylaan en De Villebois Mareuilrylaan, die hoof noord-suid roetes wat gebruik word om tot die N1 en R21 toegang te verkry.

Tshwane burgemeesterswoordvoerder, Samkelo Mgobozi, het gesê dat die voltooiing en oorhandiging van die K147 Zwavelpoortpad die waarde van samewerking tussen openbare en private sektors in die lewering van strategiese infrastruktuur uitbeeld.


Die pad in Zwavelpoort se rigting
Bron: Skermgreep van beeldmateriaal; Balwin Properties

Hy het gesê dat Balwin Properties se projek Stad Tshwane se visie van ’n geïntegreerde, veerkragtige en toekomsgerigte vervoernetwerk ondersteun. Die pad bied ’n beduidende infrastruktuur-bydrae aan Stad Tshwane, al is omtrent R35 miljoen van die R100 miljoen spandeer aan die nuwe dubbelbaan-aansluiting op Garstfonteinweg-verlenging, wat onder die Gautengse departement van paaie en vervoer val.

 

© 2025 Die/The Bronberger