|
Angie Kleijn
Pretoria se bekende Pilditch-stadion is vernoem na ’n man wat ’n gesogte medalje vir dapperheid in die Eerste Wêreldoorlog verwerf het, die oorlog waar hy die lewenslange bynaam ‘Shirt’ gekry het omdat die Australiërs nie ‘Gert’ kon sê nie. Nie dat dié adellike afstammeling se doopnaam Gert was nie. Pretoriase rugbyspelers het besluit dat die naam Gerald darem net heeltemal te volksvreemd was.
Gerald Pilditch is op 27 Oktober 1891 in Pretoria gebore as die tweede oudste van die vier kinders van Vyvien John Gough Pilditch (1861–1905) en barones Ulla Franziska Eliza Louise Maria von Levetzow (1859–1935). Sy pa, ’n Engelsman van Gloucestershire, wat na Suid-Afrika geïmmigreer het, was 30 jaar oud toe hy gebore is. Sy ma, van Duitse adellike afkoms, was 32 jaar oud.
 Gerald ‘Shirt’ Pilditch Bron: theaerodrome.com
Klub Gerald het op Pretoria Boys High School skoolgegaan en het in 1904, toe hy nog net 12 jaar oud was, by die Pretoria Harlequin-rugbyklub aangesluit. Hy sou uiteindelik vir langer as 50 jaar ’n klublid wees.
Die klub, wie se toekoms deesdae onseker lyk weens wetlike en administratiewe probleme met Stad Tshwane, is ná die Vrede van Vereeniging gestig. Toe die Anglo-Boereoorlog verby is het lord Milner, die Britse Hoë kommissaris vir die Vrystaat en Transvaal, reëlings getref dat jong staatsdiensamptenare vanaf Kaapstad, Port Elizabeth en Durban na Pretoria opgeskuif word.
 Die perderesiesbaan in Pretoria-Wes, waar Pilditch later gebou is, in 1879 Bron: Pretoria Historia
Dié jong mans het besluit om ’n rugbyklub te stig wat aanvanklik as die Staatsdiens-rugbyklub bekendgestaan het. In 1902 was die eerste rugbyveld in Jeppestraat, Sunnyside, reg langs Trevenna-brouery. Dit is naby die plek waar die Sunnypark-winkelsentrum later gebou is.
Teen die einde van 1902 het die spelers besef dat hulle lidmaatskap aan almal moet oopmaak as hulle wil hê die klub moet groei. ’n Spesiale algemene vergadering is geroep waar daar voorgestel is dat hulle die Londense Harlequins, wat die stigterslede van die Engelse Rugby-unie was, moet vra of hulle naam en klubkleure gebruik kan word.
 Die ou Harlequins-kenteken verwys na die Londense Harlequins wat in 1866 gestig is Bron: harlequinclubpretoria.co.za
Carlton-beker Die Pretoriase Harlequin-rugbyklub is in 1903 gestig, dieselfde jaar wat die Carlton-beker die klub se kompetisie-trofee geword het. Die storie van dié trofee is een wat in ’n kroeg begin het. Die klub het nog nie ’n klubhuis gehad nie en die spelers het ná wedstryde by die Union-hotel, Hotel Hellenic en veral by die Carlton-kroeg op die hoek van Kerkplein en Kerkstraat, waar die FNB-gebou later was, gekuier.
 Harlequins versus Pretoria Universiteit se Desember 1967 rugbyprogram Bron: rugbyreplay.co.uk
Tussen die bottels op die kroeg se rakke was daar ’n trofee, wat bloot ornamenteel was. Die kroegman kon nie sê waar dié trofee vandaan gekom het nie en een van die spelers het gevra of hulle die trofee vir hulle klub kan kry.
Die kroegeienaar, waarskynlik Arthur Lezard, het ingestem en die trofee het die naam Carlton-beker gekry. Legendes lui dat die administrateurs van die tyd nie baie bly was dat die trofee ’n kroeg se naam gedra het nie, maar met tyd het dit die mees gesogte klub-trofee in Noord-Transvaalse rugby geword.
 Die Militêre Kruis is as erkenning van uitmuntende diens ten tye van oorlog toegeken Bron: Wikipedia
Wedstryde Teen 1910, toe planne gemaak is om die Pretoria-buiteklub by Magnolia Dell te vestig, is daar aangedui dat die Harlequin-rugbyklub net suid-wes van die Oostelike Sportgronde, wat later Loftus Versfeld geword het, geleë was. Dit is omtrent waar Afrikaans Hoër Meisieskool vandag is. Baie wedstryde is by Burgerspark, Bereapark en die Caledonian-stadion gespeel en die spelers was self vir die voorbereiding van die veld verantwoordelik.
 ’n Sopwith F.1 Camel in die Eerste Wêreldoorlog Bron: theaerodrome.com
Shirt Pilditch se verbintenis met Harlequins is net met die twee Wêreldoorloë onderbreek. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, was hy een van vele Suid-Afrikaners wat by die Royal Flying Corps (RFC) aangesluit het. Sy vlieëniersopleiding was grootliks in Brittanje en hy het instruksie in lugvaartkunde, enjinmeganika, navigasie en militêre taktiek by skole in Oxford en St Leonards-on-Sea ondergaan. Dié teoretiese fase is deur praktiese vliegopleiding by RFC vliegskole gevolg.
Ná sy opleiding het hy die rang van tweede luitenant gekry en het vroeg in 1918 diens begin doen as deel van die RFC se Nr 73 Eskader aan die Westerse Front waar hy met Sopwith Camel vegvliegtuie gevlieg het. Dié was die Australiese Eskader waar hulle nie ‘Gert’ kon uitspreek nie en hy vir die res van sy lewe Shirt geword het.
 Harlequin-rugbyklub Bron: Harlequins
Held Shirt het vyf bevestigde lugoorwinnings behaal, wat hom ’n held in die lug gemaak het. Hy het die Militêre Kruis ontvang vir sy dapperheid om vyandelike formasies op lae hoogtes aan te val. Die voorval het gebeur toe hy gesien het hoe die gewonde Amerikaanse vlieënier, JH Ackermann, deur ses Duitse vegvliegtuie aangeval word. Shirt het die hele formasie aangeval en vir JH Ackermann die kans gegee om te ontsnap.
Die toekenning van sy medalje het in die Londense Staatskoerant van 22 Junie 1918 verskyn en die aanhaling lui dat dit vir “opvallende dapperheid en toewyding aan plig” aan hom toegeken is. Shirt het ook die Britse Oorlogsmedalje en Oorwinningsmedalje ontvang.
 ‘Die Gees van Sport’ deur Fanie Eloff voor Pilditch-stadion Bron: University of Pretoria Museums
Ná sy demobilisasie laat in 1919 is Shirt terug Pretoria toe. Net voor sy dertigste verjaardag het hy op 29 September 1921 met Gertrud Dulcia Grünberger (1896–1966) getrou. Hulle het twee dogters gehad, Marjory, wat in 1923 gebore is, en Patricia, wat in 1926 gebore is.
Shirt het as stadsraadslid gedien en het as veteraan by die Suid-Afrikaanse Lugmag aangesluit toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Intussen het hy bykans elke posisie wat daar by Harlequins was, beklee. In die 1930’s was Shirt een van die vernaamste rolspelers in die proses waardeur Pretoriase klubs die reg gekry het om van die Transvaalse Rugby-unie weg te breek en die Noord-Transvaalse Rugby-unie te vorm. Hy was ook by die klub se infrastruktuur betrokke en het die hoeksteen gelê toe die klubhuis in die vroeë 1950’s in Totiusstraat, Groenkloof voltooi is.
 ’n Fietsresies in 1955 op Pilditch Bron: Friends of Tshwane Heritage Research Centre
Ongeveer ’n jaar voor sy dood is die Pilditch Sportstadion na hom vernoem as erkenning van die beduidende rol wat hy as sportadministrateur in die gebied gespeel het. Dié stadion is in 1955 op grond, wat oorspronklik ’n perderesiesbaan was, gebou.
 Pilditch-stadion Bron: Wikipedia
Perderesies Dié perderesiesbaan kom uit Pretoria se beginjare toe ’n groep gesiene ou Pretorianers die Pretoria Resiesklub gestig het. ’n Bekende foto wys dié klub in 1879. Daar is Britse militêre personeel op die foto omdat Sir Theophilus Shepstone Transvaal op 12 April 1877 geannekseer het. Die landsburgers het geprotesteer en die Eerste Vryheidsoorlog het daarna uitgebreek.
In 1910/11 is die perderesiesbaan in landbouskougronde en sportgronde omskep. Dit het toe as die Westelike Sportgronde bekendgestaan en oor die jare is verskeie atletiek- en fietsry-byeenkomste daar gehou.
’n Standbeeld, ‘Die Gees van Sport’ deur beeldhouer Fanie Eloff, staan vandag voor Pilditch, die destydse Westelike Sportgronde en daar is diegene wat sê dat dié beeld Shirt Pilditch se verbintenis met toekase sportgronde van wes tot oos versinnebeeld.
 ’n Werwingsplakkaat vir die Royal Flying Corps Bron: Wikipedia
Die Pretoriase stadsraad het dié beeld in 1936 by Fanie Eloff gekoop en op die hoek van Park- en Kirkness-strate, langs Loftus (wat eens as die Oostelike Sportgronde bekendgestaan het) opgerig. Die beeld is in 1980 van Loftus af na Pilditch verskuif.
Shirt is op 13 November 1956 in die ouderdom van 65 jaar in Sunnyside oorlede en is in Braamfontein, Johannesburg begrawe.
|