|
As dié voëltjie in jou tuin bly, is die kanse goed dat jy ’n mier- of termietplaag het. Hy word gewoonlik in die veld rondom miershope gesien waar hy met vinnig klappende vlerke in die lug kan hang voor hy op ’n rytjie miere afpyl.
Ons praat van die swartpiek, Myrmecocichla formicivora, ’n spesie waar ma, pa en soms ook die vorige broeiseisoen se kinders, vir agt tot tien dae lank uitgrawings aanpak voor hulle ’n nessie bou. Die spannetjie begin met mag en mening om aan die bokant van ’n erdvarkgat te grou. Hulle grou regdeur tot hulle ’n tonnel van ongeveer 30–150 cm lank gereed het en dan begin hulle droë gras en wortels daar indra om ’n koppievormige nessie te maak.
 ’n Swartpiek by Rietvlei-natuurreservaat Foto: Wikipedia; Derek Keats
By gebrek aan ’n erdvarkgat, sal hulle in die wal of aan die bokant van enige ander gat begin grou om nes te skrop. Hulle verkies om saam met hulle miervretende vriende te bly, al sal hulle ander insekte ook vreet as miere skaars raak.
Die swartpiek-spannetjie werk selfs saam as dit by broeityd kom en die kuikens deur albei ouers en die vorige jaar se kuikens gevoer word. Die broeiseisoen is van Augustus tot Maart, met ’n piek van Oktober tot November.
Twee tot sewe eiers word gelê wat vir 14 tot 15 dae lank deur die wyfie uitgebroei word. Dis nou as die eiers aanvalle deur die gestreepte veldmuis, Rhabdomys pumilio, oorleef. Die kuikens verlaat die nes ná omtrent 15 tot 18 dae en bly afhanklik van hulle ouers vir sewe tot tien dae daarna, waarna hulle self begin kos soek, maar saans steeds nes toe kom. Hulle kruip ook saam met die vorige jaar se kuikens in die nes-gat weg as hulle vir iets skrik.
 Die swartpiek-mannetjie het ’n wit skouervlek Foto: Wikipedia; Derek Keats
Die 18 cm lange swartpiek word in vlug maklik van ander pieke onderskei deur die opvallende wit vlekke op hulle primêre vere. In rus lyk hulle plomp met ’n kort stertjie en ’n regop houding. Dié voëltjies weeg ongeveer 50 gram.
Die mannetjie is ’n donkerder bruin kleur met ’n wit skouervlek wat nie altyd maklik gesien kan word nie. As hy vlieg is die wit venster in die vlerk egter baie sigbaar. Hy vlieg met vinnige vlerkklappe in ’n baie reguit lyn en soms so stadig dat hy heel lomp in die lug lyk. Die mannetjie se kop, snawel, keel en bene is swart. Die wyfie is ligter bruin. Onvolwassenes lyk soos volwassenes, maar is meer gevlek.
 Die swartpiek-wyfie is ligter bruin Foto: Wikipedia; Bernard Dupont
Die swartpiek behoort aan die Muscicapidae familie-groep wat voëls soos lysters, Janfrederiks, die spekvreter, dassievoël en vlieëvangers insluit. Hy kry sy naam van sy roep, ’n skerp, kort ‘piek’. Sy Engelse naam kom van sy vreetgewoontes: ‘ant-eating chat’.
|