|
Moreletakloof-natuurreservaat gaan gebuk onder groot groepe besoekers wat die reservaat se reëls oortree en die diere se lewens in gevaar stel.
Volgens ’n woordvoerder van die Vriende van Moreletakloof mag groot groepe nie die reservaat besoek en in die bosse byeenkom vir partytjies en godsdienstige samekomste waar brandende kerse en sigaretstompies agtergelaat word nie.
 Een van vele bome waarop voorletters uitgekerf is Foto’s: Moreletakloof-natuurreservaat
Baie mense het hulle voorletters op die gekoesterde inheemse bome uitgekerf en van die groot groepe wat die reservaat die Vrouedag-langnaweek besoek het, het twee ure ná die toegangshekke reeds gesluit was, eers die reservaat verlaat deur bo-oor die hekke te klim.
’n Brand het op 4 September uitgebreek en die brandweer kon die brand blus voor reuseskade aangebring is. Die diere is ingekamp en het nêrens om heen te vlug nie. Die stappers en vrywilligers wat in die reservaat was kon betyds uitkom.
 ’n Brand het op 4 September uitgebreek
Daar word gevra dat besoekers hulle oë en ore oophou en oortredings rapporteer om natuurbewaring, die Vriende en vrywilligers te help om die 93 hektaar reservaat te bewaar.
|