|
Albert Buitenhuis vertel hoe sy van, van Nederlandse afkoms, onlangs ’n redelike ongemaklikheid veroorsaak het. In Albert se eie woorde:
“Behalwe dat ek ’n nuwe baas gekry het, het ons ook na ’n nuwe gebou geskuif. Die taak om ekstra ‘longdrops’ vir die werkers buite te huur, val toe op my skouers.
“Ek kry die nommers van so ’n paar plekke en begin bel. En dis toe hier waar die pôpô die fên tref. Alles gaan goed en die mense verduidelik tog te mooi hoe hulle stelsels werk en dan vra hulle of hulle vir my ’n kwotasie kan stuur. Ja, sê ek, dit sal baie help. “Wat is jou van,” vra hulle – en ek sê Buitenhuis.
Die eerste jong man het as volg hierop gereageer:
“Dis reg ja. Van die verskuifbare soort. Vir wie moet ek die kwotasie uitskryf?”
En ’n vriendelike jong dame: “Gie-gie-gie. Nee, ernstig nou, wat is jou van?”
“Een vrou het darem gewag tot ek koebaai gesê het voor sy in ’n oorverdowende lagbui uitgebars het.”
Opskrifte En so van ‘longdrops’ gepraat. Koerantopskrifte (koppe) kan soms, willens of onbedoeld, nogal prettig wees. Jare gelede was daar ’n storie van ’n man, ook ’n ouderling in sy kerk, wat langs sy bestaande longdrop ’n nuwe gat gegrawe het met die doel om later sy buite(n)huisie daarheen te verskuif.
Terwyl hy nog so in die nuwe gat aan’t grawe is, voeter die sinkgeboutjie hier langs hom om en val bo-op hom. Hy het nogal kwaai seergekry. Oorlede Ronnie King skryf toe die volgende opskrif vir die storie: Toilet beseer ouderling in gat.
Seker een van die mees klassieke koerantkoppe in Suid-Afrika is geskryf in die jare toe daar nog net een Sap in die Vrystaat oor was. Gladys Steyn, die dogter van die ou president, was die verteenwoordiger van Bloemfontein Sentraal – vrou alleen tussen al die Nattes.
Maar met die volgende verkiesing val sy toe ook uit en die opskrif in ‘Die Volksblad’ van die volgende dag lees: Gladys sit die pot mis – hele Vrystaat Nat.
Deur die jare was daar natuurlik wêreldwyd tallose voorbeelde van Engelse koerantopskrifte wat die aandag gegryp het. Maar een wat sy oorsprong hier by ons dorp se eie Engelse dagblad het, verdien vermelding.
Die Britse politikus en aktivis, Michael Foot, het toe die hoof geword van ’n protesbeweging teen vuurwapens. En in die koerant was die opskrif by dié storie: ‘Foot heads arms body.’ Gerhard Kleijn – September 2007. |